Dierevoeding

Gars as deel van voerkraalrantsoen vir kalwers

Vraag

Kan ek gars vir my voerkraalkalwers voer en waarmee kan ek dit meng sodat dit gebalanseerd is?

Antwoord

Goeie gehalte en vet gars kan ‘n gedeelte van die mielies of hominy chop in ‘n voerkraalrantsoen van kalwers vervang. Om goeie diereprestasie te verseker, is daar egter ‘n paar aspekte wat in ag geneem moet word wanneer gars in voerkraalrantsoene vir kalwers gebruik word. As gevolg van omgewingsinvloede (byvoorbeeld grondtipe, klimaat, bemesting, ensovoorts) kom daar aansienlike variasie in die energie-, proteïen- en mineraalinhoud van kleingrane soos gars voor. Wanneer groeiende kleingrane soos gars en hawer swaarkry (byvoorbeeld te min of lae reënval), neem die veselgedeelte van die plant en die pit toe terwyl die styselgedeelte van die pit en dus die energie-inhoud afneem (Smith, 1990). Vir doeltreffende rantsoenformulering en die suksesvolle aanwending van kleingrane soos gars in plaasdierrantsoene is dit noodsaaklik dat die chemiese samestelling (voedingswaarde) daarvan eers in laboratorium bepaal word.

 
Die geel kleur van mielies word veroorsaak deur die pigmente xantofil asook kriptoxantien en karoteen, die voorlopers van vitamien A. Mielies het dus ‘n baie hoër vitamien A-inhoud as gars. Hierdie tekorte kan deur die byvoeging van sintetiese vitamien A reggestel word. Voermol Voere se voerkraalkonsentrate soos SB 100 bevat vitamien A.
 
Hoewel mielies die smaaklikste van al die graantipes vir plaasdiere is, word kleingrane soos gars heel goed deur plaasdiere benut. Gars moet vir kalwers gemaal word en moenie heel gevoer word nie, want dan gaan die grootste gedeelte daarvan onverteer en onbenut deur die spysverteringskanaal. Beter resultate word altyd verkry wanneer kleingrane mielies net gedeeltelik vervang. Volgens Amerikaanse navorsing is die maksimum insluitingspeile van kleingraan soos gars in vleisbeesrantsoene 40 % (Ewing, 1997). Plaaslike navorsing toon egter dat die vervanging van maksimum 50 % mieliemeel in afrondingsrantsoene met garsmeel waarskynlik die beste resultate tot gevolg sal hê. Die vervanging van tot 75 % mieliemeel met garsmeel in afrondingsrantsoene vir vleisbeeskalwers sal waarskynlik die mees koste-doeltreffende opsie wees.
 
Gebruik die volgende afrondingsrantsoen vir vleisbeeskalwers totdat hulle 280 kg weeg:
            200 kg Voermol SB 100
             50 kg Voermol Procon
            550 kg gemaalde gars
            200 kg gemaalde mielies
         1 000 kg TOTAAL
 
Sodra die kalwers 280 kg bereik het, kan die 50 kg Voermol Procon met 50 kg gemaalde gars vervang word. Dit is altyd ‘n goeie praktyk om diere stadig en geleidelik op ‘n nuwe rantsoen aan te pas. Voer die bogenoemde rantsoen teen 3 kg per kalf op die eerste dag en verhoog dan die voedingspeil elke derde dag met 1 kg per kalf totdat ad lib.-voedingspeil bereik word (dit is waar hulle begin om van die rantsoen in die krippe te los, ongeveer 2.8 tot 3 % van liggaamsmassa). Sorg dat daar voldoende vreetspasie is sodat al die kalwers gelyk kan vreet. Voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies (helfte in die oggend en die ander helfte laatnamiddag). Voer ruvoer (strooi of grashooi) eenkant ad lib. by, daar moet te alle tye ruvoer beskikbaar wees om suurpens (asidose) en laminitis te voorkom. Om die voerkoste verder te verlaag, kan 75 kg van die garsmeel met Voermol Melassemeel vervang word.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
12 Desember 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X