Dierevoeding

Droogtevoeding sonder ruvoer vir skape

Vraag

Ek boer met Dorpers. Die weiding is klaar en die boere rondom my het ook nie meer gras nie. Wat sal gebeur as ek slegs kragvoer gee, bv. mielies en Maxiwol of mielies gemeng met SS200, maar daar is geen ruvoer vir die skape om te vreet nie.

Antwoord

Ja, onder buitengewone strawwe droogtetoestande kan slegs kragvoer vir skape gevoer word om te oorleef, sonder enige ruvoer.  Mielies is die beste energiebron om in droogtetoestande te voer en alhoewel mielies duur is, is die koste per eenheid energie in meeste gevalle laer as ander voerbronne.

Die grootste risiko met mielievoeding is suurpens.  Daarom is dit noodsaaklik om mielies met ‘n  konsentraat te meng wat die nodige buffers,  proteïene, minerale en spoorminerale bevat.  Meng 800 kg mieliemeel met 200 kg Voermol SS200 (V8592).

Waar heel mielies gevoer word, meng 200 kg mielies met 1 kannetjie (25 kg) Voermol Korn Kandy (V1551) en 3 kg gebluste kalk.  Waar hamels of ramme vir lang tydperke van 4 weke en langer gevoer word, meng 2.5 kg ammoniumchloried by die Korn Kandymengsel.  Die proteïen hoeveelheid en kwaliteit van die SS200 mengsel is beter as die Korn Kandy mengsel.

Dit is noodsaaklik om skape volgens geslag, ouderdom en grootte te skei om te verhoed dat dominante skape te veel vreet.  Voorsien genoeg kripspasie sodat al die skape gelyktydig en gemaklik kan vreet.  Vir oorlewing, voer daagliks ongeveer 0.8 – 1.2 % van die skape se liggaamsmassa.  Merk ongeveer 10 % van die trop en weeg hulle elke tweede week om aanpassings in voerhoeveelhede te maak.  Sekere skaaptipes is meer doeltreffend en gehard en kan moontlik met minder as die aanbevole inname klaarkom.  Maak waterkrippe ten minste eenmaal per dag skoon.

Geskryf deur: Hendrik van Pletzen, Tegniese Bestuurder, Voermol Voere (hendrikvp@mweb.co.za)

30 November 2015


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X