Dierevoeding

Distansie tussen koggelramme en ooie

Vraag

Ek het die volgende stuk in een van die artikels oor koggelramme gelees: "Suksesvolle koggel vereis verder dat ooie vir 'n periode van minstens 28 dae, maar verkieslik 35 tot 56 dae van enige manlike diere (bv. ramme, koggelramme, ramlammers, bokramme, takbokke, ens.) geïsoleer word. Een kilometer is voorgestel as die minimum afstand vir isolasie om doeltreffend te wees. Die isolering moet volledig wees omdat ooie reageer op die sien, hoor en reuk van ramme. Die koggelrameffek kan misluk as ooie op een of ander manier kontak, al is dit net vir 'n kort periode, met ramme maak." Ek boer met boerbokke in die Pretoria Hartbeespoort-omgewing waar die bokke saans in 'n tronk met alarms moet slaap. Ek wil graag koggelramme gebruik vir die moontlike bevordering van meerlinge en die verkorting van die lamtyd is nie vir my so 'n probleem nie. Hoe gemaak as jy nie krale het wat 1 km van die ooie af is nie? Is daar 'n alternatief of is dit dan net geheel en al nie moontlik nie?

Antwoord

Die nuutste navorsing wat tans aan die universiteit van Wes-Australië in Perth deur Trina Jorre de St Jorre (2010) gedoen word, toon dat indien elke keer nuwe (onbekende) koggelramme gebruik word dit dalk nie nodig is om die ooie en ramme een kilometer van mekaar te isoleer nie. Hierdie navorsing behoort binne die volgende paar jaar afgehandel te wees. Indien hulle voorlopige bevinding korrek is, behoort ‘n goeie koggelrespons verkry te word, indien elke keer nuwe koggelramme gebruik word wat die ooie nog nie voorheen aangeraak, gesien of geruik het nie. ‘n Ander opsie is natuurlik om die ooie met sponse te sinchroniseer en DMS (dragtige merrieserum) met sponsonttrekking te spuit. Indien hierdie ooie nie kunsmatig gesinchroniseer word nie, kan hulle ook natuurlik gedek word, maar omdat die meeste ooie dan binne drie tot vyf dae op hitte kom, kan slegs ses tot agt ooie per ram toegeken word. Hierdie kunsmatige gesinchroniseerde ooie sal dan ook binne drie tot vyf dae lam. Daarom moet, wanneer van hierdie metode van sinchronisering gebruik gemaak word, hierdie ooie in lamhokke laat lam word. 

Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
6 Junie 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X