Dierevoeding

Deurpersmasjien vir mieliepitte en sojabone

Vraag

: Ek oorweeg dit om 'n deurpersmasjien (Bronto E 500 Deurpersmasjien) te koop wat mieliepitte of sojabone teen 130 °C kan deurpers om sodoende te poog om beter voedingsopname deur die dier te verseker. As mens tog heel mielies of selfs gemaalde mielies aan skape of beeste voer, sien mens na die tyd baie kos in die diere se mis. Ek verstaan van die verskaffers dat opname deur die diere 50 % beter kan wees. Ek oorweeg dit om lammers en ligte speenkalwers te voer met die verwerkte mielies. Ek sou graag wou hoor of iemand kan vertel of hulle sukses behaal het met die verwerking van mielies of sojabone op hierdie wyse en hoe die daaglikse gewigtoenames van die diere vergelyk teenoor voeding met onverwerkte mielies. Jan Brits

Antwoord

Die uitpers (extruding) van sade is ‘n proses waardeur grondstowwe onder hoë druk deur ‘n vernouing gepers word. Die oorspronklike proses behels basies die maal van sade of grane waarna dit met stoom versag word en dan met ‘n awegaar deur ‘n dun staalbuis geforseer word. Die staalbuis eindig met ‘n kegelvormige openinge wat kleiner is waar die grondstowwe binnekom en dan geleidelik vergroot. Wanneer die grondstowwe deur die openinge gepers word, veroorsaak die skielike uiteensetting verbrokkeling/verkorreling daarvan. Faktore soos blootstelling aan stoom, voginhoud van die grondstof, druk, temperatuur en die tydsduurte wat die grondstof aan die temperatuur en druk blootgestel word, sal almal die kwaliteit van die finale produk beïnvloed. Dit word veral gebruik vir die "gaarmaak" van proteïensade. 

Die redes hoekom grondstowwe deur ‘n deurpersmasjien (extruder) geprosesseer word, is:
·       Om die voeromsetting en groei van diere te verbeter, maar dit is logies dat hierdie metode koste-doeltreffende waarde moet toevoeg, met ander woorde die koste verbonde aan die toepassing van hierdie prosesseringsmetode moet minstens deur die verbeterde diereprestasie vergoed word. Proewe in oorsese literatuur toon dat as die proses korrek geskied, kan dit, afhangend van die insluitingsvlak van die behandelde grondstowwe in ‘n volledige rantsoen, die voeromsettingsdoeltreffendheid met tot 10 % verbeter.
·       Dit verbeter dikwels die smaaklikheid van grondstowwe wat tot hoër inname en dus beter diereprestasie aanleiding gee.
·       Die hitte vernietig die antivoedingsfaktore soos byvoorbeeld antitripsien en urease in sojabone. Antitripsien verhoed die doeltreffende werking van die ensiem tripsien terwyl urease aanleiding gee tot vinnige omskakeling van ureum na ammoniak wat by herkouers tot ‘n vermorsing van nie-proteïenstikstof (byvoorbeeld ureum) en moontlike ureumvergiftiging aanleiding kan gee.
·       Die hitte en druk kan in ‘n mate die deurvloeiproteïeninhoud van byvoorbeeld sojabone verhoog, maar dit is ‘n baie sensitiewe proses. Vir elke grondstof is daar ‘n sekere tydsduurte en temperatuur wat optimale verhoging van die deurvloeiproteïen sal verseker. Indien hierdie proses nie korrek geskied nie, kan van die aminosure, veral lisien, beskadig word en sal dit nie tot verbeterde diereprestasie aanleiding gee nie. "Oorbehandeling" (te hoë hitte vir te lang periode) kan ook die verteerbaarheid van die proteïen verlaag sodat dit nie vir die herkouer beskikbaar is nie. Laboratoriumtoetse bestaan om te bepaal of die behandelde grondstof se aminosure beskadig is of nie. Dikwels word ‘n kuikengroeitoets gedoen om die mate van beskadiging van die aminosure al dan nie vir herkouers te bepaal. Wanneer die aminosure beskadig is, sal die kuikens wat die behandelde produk ontvang swakker groei.
 
Ek het egter nie relevante inligting oor onlangse proewe waar hierdie behandelde grondstowwe gebruik is nie. Om van die kwaliteit van die finale produk te gewis, is dit belangrik om eers van die grondstowwe deur hierdie toerusting te pers en dan die finale produk in ‘n geakkrediteerde laboratorium vir gehalte te laat ontleed en/of verkieslik ‘n groeitoets met kuikens te laat doen om te bepaal of hierdie finale produk diereprestasie sal verbeter en dit die koste geregverdig is.  Hierdie geprosesseerde grondstowwe vorm slegs ‘n gedeelte van ‘n volledige rantsoen en word nie as sulks gebruik nie. Dit is belangrik om daarop te let dat al word hierdie behandelde grondstowwe in diererantsoene gebruik die rantsoene moet nog steeds baie deeglik en korrek geformuleer moet word om optimale diereprestasie te verseker.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
15 Julie 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X