Dierevoeding

Besluit hoe om speenkalwers af te rond

Vraag

Ek is ‘n speenkalfprodusent en met die laer speenkalfpryse weet ek nie of ek hulle moet verkoop of self moet voer nie. Het julle raad vir my?

Antwoord

Teen die huidige pryse is dit nie winsgewend om ‘n speenkalf in die voerkraal af te rond nie.  Die vraag na vleis bly laag, wat die styging in die vleisprys voorkom.  Die relatief lae slagprys asook ‘n hoë voerprys plaas die prys van speenkalwers onder afwaartse druk.  In teenstelling hiermee kan die tekort aan speenkalwers weens die droogte speenkalfpryse laat styg.  Vir die speenkalfprodusent bly dit steeds ‘n moeilike besluit oor wat om met die speenkalf onder die omstandighede te doen.

Die maklikste en veiligste opsie is sekerlik om die speenkalf direk na speen aan ’n voerkraal te verkoop. Die voordeel daarvan is dat die risiko laag is en die geld onmiddellik gebank kan word. Die nadeel is egter dat geen waarde tot die speenkalf toegevoeg word nie.

Backgrounding
ʼn Verdere opsie is om die speenkalf terug te hou en op weiding uit te groei. Sodra die kalf sowat 380 kg weeg, kan die kalf vir sowat 60 tot 80 dae in ’n voerkraal gevoer word om die kalf markklaar te kry. Sodoende word die kalf heelwat later in die jaar bemark wanneer vleispryse gewoonlik hoër is.

Hierdie praktyk om ʼn kalf eers te “Background” of uit te groei en dan later af te rond, werk goed indien die produsent toegang het tot voldoende en goeie gehalte weiding. Sodanige gehalte weiding verseker ʼn goeie gemiddelde daaglikse toename en bring mee dat die praktyk van Backgrounding koste-doeltreffend is.  Die gehalte van die weiding gaan bepaal watter aanvulling gebruik moet word vir Backgrounding.

Groen weiding
Groen weiding is hoog in proteïen, hoogs verteerbaar en diere op sulke weidings se massa neem toe. Op groen weiding is fosfor (P) gevolg deur energie egter beperkend. Om optimale gewigstoename te verseker, moet P en energie aangevul word.

Oorweeg produkte soos:
Voermol Supermol (V7267)
Voermol Molovite (V7266)
Voermol Energieblok (V11456).

Hierdie fosfor-energie aanvullings moet teen tussen 1kg en 1.2kg/kalf/dag gevoer word.  Op goeie kwaliteit groen weiding kan ‘n toename van rondom 1kg/kalf/dag gehandhaaf word.

Droë weiding
Op droë weiding is proteïen en energie gebrekkig en moet dit in die vorm van ʼn produksielek aangevul word.  Tipies bevat ‘n produksielek 50% mieliemeel en word teen 1.5kg/kalf/dag gevoer.  Daar is verskeie opsies vir ‘n produksielek beskikbaar:

Voermol Produksielek (V10108)

Meng gelyke dele Voermol Premix 450 (V4676) met mieliemeel

‘n Mengsel van Voermol Dundee Lekkonsentraat (V10737).

Voerkraal
Kalwers wat direk vanaf weidings bemark word, se gradering is gewoonlik swak weens die gebrek aan afronding. ʼn Groot persentasie van die kalwers sal A0/A1 gradeer weens die te lae energie-inname vanaf die weiding. Gevolglik word aanbeveel dat kalwers na die Backgrounding-fase in ʼn voerkraal afgerond word. ʼn Voertydperk van tussen 60 en 80 dae is gewoonlik voldoende. Gebruik vetmestings konsentrate soos:  Voermol SB 100 (V4498), Voermol Super 80 (V6059) of, indien geen ruvoer beskikbaar is nie, Voermol Beefmaker (V7535).

Ten Slotte
Onder die huidige toestande (hoë mielieprys) is die Backgrounding van speenkalwers ʼn goeie praktyk wat winsgewendheid aansienlik kan verhoog mits voldoende goeie kwaliteit weiding beskikbaar is.  Vir die suksesvolle Backgrounding van kalwers, is van die volgende aspekte egter belangrik:

i)       Weens die lang voertydperk (uitgroei op weiding gevolg deur voerkraalperiode) is die karkasse dikwels te swaar, veral as die diere nog langer en swaarder met ‘n Zilmax-bevattende voer gevoer word.

ii)      Weens die lang tydperk op weiding, is die karkasse se vet geneig om geel te vertoon. Die voerkraalfase help om die geel vet met wit vet te verdun.

iii)     Die weiding moet van sodanige gehalte wees, dat kalwers ten minste ʼn GDT van ±800g handhaaf.

Deur ʼn speenkalf van 220 kg direk na speen in ʼn voerkraal markklaar te voer, word sowat 900 kg mielies benodig. Dit neem sowat 120 dae vanaf speen tot bemarking. Indien die kalf eers vir sowat vyf maande ge-background word en daarna in ʼn voerkraal afgerond word, word die kalf sowat sewe maande na speen bemark en slegs sowat 550 kg mielies word benodig.

Geskryf deur: Ulrich Müller, Tegniese bestuurder, Voermol Voere (utm@mweb.co.za)


Aanhangsels

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X