Dierevoeding

Belangrikheid van Totale Verteerbare Voedingstowwe (TVV) van ‘n voer

Vraag

Hoe belangrik is die TVV van 'n voer?

Antwoord

Die TVV is die totale verteerbare voedingstowwe van ‘n grondstof of ‘n voer en is ‘n aanduiding van die energie-waarde daarvan. Gegewens oor die verteerbaarheid van voere en voedingstowwe word uit verteringsproewe verkry. ‘n Verteringsproef kan kortliks beskryf word as ‘n prosedure waarvolgens oor ‘n vasgestelde tydsduur ‘n noukeurige afgeweegde hoeveelheid voer aan ‘n dier gevoer word terwyl sy misuitskeiding kwantitatief versamel word. As die voer en mis dan chemies in ‘n voedingslaboratorium ontleed en die hoeveelheid wat uitgeskei is, afgetrek word van die hoeveelheid ingeneem, word die verteerbare bestanddele verkry. Metaboliseerbare energie (ME) word al meer in plaas van die TVV-waarde gebruik om die energiebehoeftes van herkouers en die energie-waarde van grondstowwe vir herkouers uit te druk. Die Metaboliseerbare energie (ME) van ‘n voer word as volg bereken: ME = VE – (metaanenergie + urine-energie), waar VE die verteerbare energie is (Van der Merwe & Smith, 1991). 

Energie-inname (in terme van TVV- of ME-inname) is die pasaangeër vir produksie. Hoe hoër die energie-inname van die dier, hoe hoër is sy produksie mits die ander noodsaaklike voedingstowwe in die korrekte verhouding en hoeveelheid ingeneem word. Indien die dier ‘n hoë energie-inname het, maar die proteïeninname is te laag, sal die dier begin om sy spiere af te breek om sy proteïentekort aan te vul, want vir optimale benutting van die ingenome voedingstowwe moet die energie en proteïeninname altyd in ‘n spesifieke verhouding wees. Vir elke spesifieke produksiefunksie/stadium word ‘n sekere hoeveelheid energie deur die dier benodig om optimale diereprestasie te verseker.
 
Die TVV-waarde van kameeldoringpeule hang af hoeveel pitte die peule bevat. Indien die peule deur insekte gevreet is, sal dit ook ‘n laer energie-waarde hê. Die TVV-waarde van kameeldoringpeule is gemiddeld ongeveer 60 %. Die beste is egter om die peule by ‘n geakkrediteerde voedingslaboratorium te laat ontleed om die werklike voedingswaarde daarvan te bepaal.
 
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
12 Januarie 2012

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X