Dierevoeding

Begroting vir kruipvoer en afrondingrantsoene vir lammers

Vraag

Vir hoeveel kruipvoer per lam oor 'n 4 maande tydperk kan ek begroot? Dieselfde met afrondrantsoene (SS 200 + Procon + melassemeel + mielies + lusern). Kan ek begroot op gemiddeld van 1.5 kg per dag per lam vir 3 maande?l+mielies+lusern), kan ek begroot op gemiddeld van 1.5kg per dag per lam vir 3 maande?

Antwoord

 

‘n Lam vreet ongeveer 25 tot 30 kg kruipvoer vanaf ongeveer 10 dae ouderdom tot speen op ongeveer 100 dae ouderdom. Gebruik die volgende kruipvoermengsel:
550 kg fyngemaalde mielies (6 mm-sif)
100 kg fyngemaalde lusern (10 mm-sif)
150 kg Voermol SS 200
150 kg Voermol Procon
 50 kg Voermol Melassemeel
         1 000 kg TOTAAL
 
Die nuutste aanbeveling is om lammers vanaf sewe dae ouderdom, maar nie later nie as 10 dae ouderdom te begin kruipvoer gee en hulle te speen sodra hulle 25 kg weeg. Die meeste lammers behoort hierdie massa reeds op 60 tot 90 dae ouderdom te bereik. Met speen word alle lammers wat vir bemarking geoormerk is (bv. hamel- of ramlammers en uitskotooilammers) na ‘n voerkraal geskuif om afgerond te word. Deur hierdie lammers van die veld of weiding te verwyder, word weiding gespaar. Gevolglik kan meer ooie aangehou word sonder om die amptelike drakrag te oorskry.
 
‘n Lam vreet ongeveer 4 tot 4.5 % van liggaamsmassa in die voerkraal.  Die hoeveelheid wat hy dus gaan vreet, hang dus van sy inname- en slagmassa af. Indien die lammers se inname-massa 25 kg is en hulle word tot ‘n slagmassa van 48 kg gevoer, is hulle midmassa in die voerkraal 36.5 kg (dit is 25 kg + 48 kg gedeel deur twee). Indien hulle 4 % van liggaamsmassa vreet, behoort hulle gemiddelde voerinname 1.46 kg/lam/dag te wees en indien hulle 4.5 % van liggaamsmassa vreet, is dit 1.64 kg/lam/dag. 
 
Hierdie inname is van toepassing indien die volgende volledige voerkraalrantsoen gevoer word:
 
500 kg fyngemaalde mielies (6 mm-sif)
125 kg gemaalde lusern (25 mm-sif)
200 kg Voermol SS 200
100 kg Voermol Procon
 75 kg Voermol Melassemeel
         1 000 kg TOTAAL
 
Indien die lammers se inname-massa dus 25 kg is en hulle word tot ‘n slagmassa van 48 kg gevoer, sit hulle 23 kg massa in die voerkraal aan. Deur die lammers se totale massatoename in die voerkraal (dit is 23 kg) te deel deur hulle gemiddelde daaglikse groei (bv. 0.3 kg/dag) word die aantal dae verkry wat hulle in die voerkraal gaan staan. Hierdie berekening word dus as volg gedoen:
 
Aantal staandae    in in die voerkraal
   =
Slagmassa (48 kg) – Inname-massa (25 kg)
Gemiddelde daaglikse groei (0.3 kg)
 
   =
77 dae
 
Indien die lammers dus 77 dae gevoer word en hulle gemiddelde voerinname 1.46 kg/lam/dag is, sal hulle totale voerverbruik oor die hele afrondingsperiode dus 77 x 1.46 = 112.4 kg per lam wees.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
9 September 2011

Kommentaar

Kommentaar (2) “Begroting vir kruipvoer en afrondingrantsoene vir lammers

  1. corne vd merwe
    corne vd merwe

    kan die selfde mengsel vir kalwer werk en hoeveel kg/dag/kalf?

  2. Pieter-Steyn
    Pieter-Steyn

    Goeie dag,

    Ek het ‘n paar miniatuur perde. Ek wil hulle graag voer, maar daar is geen verskaffer in ons gebied nie. Kan jy vir my help met n mengsel wat ek vir hulle kan voer. Hulle wei in die veld in die dag.

    Baie dankie
    Pieter-Steyn


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X