Dierevoeding

Alternatiewe energiebronne in die plek van mielies

Vraag

Met die mielieprys wat die hoogte inskiet, watter alternatiewe energiebronne kan aangewend word vir dierevoeding (afrond van lammers/ou ooie en aanvullende byvoeding vir lammer-ooie). Dankie. Phillip

Antwoord

Die mees algemene alternatiewe energiebronne wat beskikbaar is om mielies gedeeltelik en in sommige gevalle totaal te vervang, is hominy chop, kleingrane en melasse. Ander energiebronne wat slegs teen ‘n beperkte peile in herkouerrantsoene gebruik kan word, is vette (byvoorbeeld restaurantvet) en olies (byvoorbeeld in oliesade soos katoen, sojas, sonneblom, kanola, ensovoorts). Dit is belangrik dat nie meer as 4 % vry olie tot herkouerrantsoene gevoeg word nie en dat die totale vetinhoud van die rantsoene nie meer as 6 tot 7 % nie. Hoër vetinsluiting sal die mikro-organismes in die grootpens benadeel en kan selfs tot rumenstase lei. Te hoë vetinsluiting gee ook tot laer veselvertering aanleiding.

Wanneer alternatiewe energiebronne in lekke en veral in volledige rantsoene ingesluit word, moet dit herformuleer word om te verseker dat die dier ‘n gebalanseerde rantsoen inneem om optimale produksie te verseker. Dit is belangrik om daarop te let dat ‘n goedkoper rantsoen nie altyd die mees koste-doeltreffende rantsoen is nie. Indien ‘n goedkoper rantsoen nie korrek gebalanseer is nie en nie al die voedingstowwe in die korrekte verhouding en hoeveelhede voorsien nie, gebeur dit dikwels dat die duurder rantsoen ‘n hoër wins genereer.
 
Wanneer hominy chop as ‘n alternatiewe energiebron gebruik word, moet eerstens seker gemaak word dat dit van ‘n hoë gehalte is. Hoë gehalte hominy chop moet minstens 8 % vet bevat. Een van die nadele van hominy chop is dat dit baie lywig is waardeur die voerinname van herkouers beperk word wat op sy beurt weer diereprestasie nadelig kan beïnvloed. Hominy chop kan mieliemeel in lekke op ‘n kilogram vir kilogrambasis vervang. So byvoorbeeld kan 250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat met 200 kg hominy chop en 50 kg sout as ‘n lek vir laatdragtige en lakterende ooie gemeng word. In ‘n volledige voerkraalrantsoen vir lammers moet maksimum die helfte van die mieliemeel met hominy chop vervang word anders raak die mengsel te lywig, wat swakker diereprestasie tot gevolg het. Proewe toon dat lammers tot 100 g/dag swakker kan groei waar hominy chop mieliemeel totaal in ‘n voerkraalrantsoen vervang. Die volgende volledige voerkraalrantsoen kan vir die afronding van lammers in ‘n voerkraal gebruik word: 100 kg gemaalde lusern + 275 kg hominy chop + 275 kg gemaalde mielies + 200 kg Voermol SS 200 + 100 kg Voermol Procon + 50 kg Voermol Melassemeel. 
Vir die afronding van ou ooie klik op die volgende skakel: https://hulp.landbou.com/kundiges/dierevoeding/afronding-van-ou-ooie-voerkraal Weens sy lywige aard moet hominy chop nie in kruipvoerrantsoene van lammers gebruik word nie. Vir kruipvoer word fyngemaalde mielies (mieliemeel) of heel garspitte verkies.
 
Wanneer kleingrane (byvoorbeeld gars, triticale, koring en hawer) as alternatiewe energiebronne oorweeg word, moet seker gemaak word dat hierdie grane vet is. Maer kleingrane en "screenings" het laer energie-inhoud, wat diereprestasie nadelig beïnvloed. Vir skape word kleingrane altyd heel gebruik. ‘n Klein persentasie onbenutte kleingraanpitte word deur die mis van skape uitgeskei. Hierdie pitte kan weer ontkiem en daarom moet dit nie op lande gevoer word waar dit ander gewasse kan besoedel nie, byvoorbeeld waar koring as kontantgewasse verbou word. In lekke kan kleingrane mielies op ‘n kilogram vir kilogrambasis totaal vervang. 
 
Vir meer inligting oor die gebruik van kleingrane in dierevoeding kliek op die volgende skakel: https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/voeding/kleingrane-koring-korog-gars-hawer-se-energiewaardes
 
In die Wes- en Suidkaap vervang skaapprodusente die mielies totaal op ‘n kilogram vir kilogrambasis met gars en triticale (korog). Uit ‘n ekonomiese oogpunt is hierdie slegs ‘n opsie wanneer daar ‘n groot prysverskil tussen mielies en hierdie kleingrane is. Weens die laer energiewaarde van kleingrane word nie dieselfde biologiese diereprestasie met kleingrane behaal as waar slegs mielies as energiebron gebruik word nie, veral in die geval van hoogs produserende diere soos vinniggroeiende lammers, laatdragtige en lakterende ooie.  Die beste is altyd om mielies gedeeltelik met kleingrane te vervang. Die persentasie vervanging kan met behulp van ‘n voerformuleringsprogram bepaal word.
 
Dit is hoogs aan te beveel dat mielies slegs gedeeltelik (maksimum 50 %) met koring vervang word omdat koring weens sy vinnige fermentasietempo geneig is om maklik suurpens (asidose) te veroorsaak. Rantsoene wat kleingrane soos koring, triticale en gars bevat, moet baie goed gebuffer word en die diere moet stadig en geleidelik op hierdie rantsoene aangepas word om suurpens te voorkom. Daar moet seker gemaak word dat daar voldoende vreetspasie is sodat alle diere gelyktydig kan vreet. Selfvoerders moet liefs nie gebruik word nie omdat hulle die risiko van suurpens verhoog. Kleingrane is verder hoog in fosfate en is daarom meer geneig om blaasstene by manlike diere te veroorsaak. Ammoniumsoute moet daarom in volledige rantsoene ingesluit word om blaasstene te voorkom.
 
Weens sy lae energie-inhoud word die gebruik van hawer as ‘n alternatiewe energiebron nie aanbeveel vir hoogs produserende diere nie. Dit kan wel oorweeg word vir onderhoudsvoeding mits die hawer vet is, maar nie vir vinniggroeiende lammers, laatdragtige en lakterende ooie nie.
 
Melassestroop en Melassemeel kan onderskeidelik 7.5 en 10 % van mielies in ‘n volledige rantsoen vir skape vervang. In onderhoudslekke kan Voermol Melassemeel al die mieliemeel vervang en in produksielekke ongeveer 50 % van die mieliemeel. Vir meer inligting in die verband klik op die volgende skakel:  http://www.voermol.co.za/af/news/nuus/Nuwe-Verbeterde-Voermol-Melassemeel/default.aspx
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
12 Januarie 2012

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X