Dierevoeding

Afrondingspille vir stoetramme en -bulle

Vraag

Ek het my Dorperramme en Simbrabulle, almal stoet, onlangs met 'n korrel wat ek aankoop begin afrond. Die korrels bestaan uit 70 % lusern 15 % mielies en 15 % kuilvoer. Is dié pille volledig genoeg om die diere mee af te rond? Indien nie, wat kan ek byvoeg?

Antwoord

Eerstens kan dieselfde afrondkorrels nie vir ramme en bulle gegee word nie. ‘n Skaap is nie ‘n bees nie en ‘n bees is nie ‘n skaap nie. Hulle voedingsbehoeftes verskil en daarom moet verskillende afrondkorrels gebruik word. 

Tweedens is ‘n rantsoen wat 70 % ruvoer (lusern) bevat nie ‘n afrondkorrel nie, maar ‘n onderhoudskorrel. Derdens bevat hierdie korrels geen minerale, spoorelemente en vitamines nie. Vir die optimale uitgroei van stoetdiere is behalwe minerale, spoorelemente en vitamines ook deurvloeiproteïen nodig vir spiergroei, testesontwikkeling en spermproduksie asook energie om die diere in ‘n goeie kondisie te kry.
 
Daar word nie vermeld of die ramme en bulle voltyds op kraal staan nie en of hulle ook toegang tot weiding het nie. Vir die beantwoording van hierdie navraag word aanvaar dat die diere voltyds op kraal staan en nie toegang tot weiding het nie. Beide die bulle en ramme moet met Multimin asook vitamien A & E gespuit word volgens die vervaardigers se aanbeveling. Dorperramme moet die Multimin sonder koper gespuit word.
 
Die volgende verkorrelde volledige rantsoene word vir ramme aanbeveel:
 
Grondstowwe
Ramkorrels
Jongramme tot ± 9 maande
en ramprikkelkorrels
Ramme ouer as 9 maande en teelramme in die afseisoen
Lusern
200 kg
300 kg
Mielies
500 kg
450 kg
Voermol Procon
100 kg
50 kg
Voermol SS 200
200 kg
200 kg
TOTAAL
1 000 kg
1000 kg
 
Die ramme moet baie stadig en geleidelik aangepas word om laminitis, suurpens (asidose) en moontlike vrektes te voorkom. Die volgende bestuursaspekte moet stiptelik nagekom word:
(1)    voer die ramme die eerste dag slegs 100 g/ram van die Ramkorrels;
(2)    verhoog die voedingspeil van die Ramkorrels elke dag daarna met 100 g/ram, m.a.w. Dag 2: 200 g/ram; Dag 3: 300 g/ram, ensovoorts tot ad lib.-voedingspeil of die verlangde peil bereik word;
(3)    voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte in die oggend en die ander helfte laatnamiddag;
(4)    voer ongemaalde lusernhooi eenkant ad lib. by vir die eerste 14 dae waarna dit gestaak kan word (in gevalle waar stoetramme oor lang tydperke gevoer word, is dit altyd ‘n goeie praktyk om altyd lusernhooi addisioneel eenkant by te voer om hulle pense gesond te hou);
(5)    sorg dat daar voldoende vreetspasie (± 600 mm/ram) is sodat al die ramme gelyk kan vreet, m.a.w. moenie selfvoerders gebruik nie, want dan kan die ramme hulle aanvanklik oorvreet wat tot laminitis, suurpens en vrektes aanleiding kan gee en
(6)    na die aanpassingsperiode (eerste 10 tot 14 dae) moet die daaglikse hoeveelheid voer verkieslik drie maal (oggend, middag en laatnamiddag) per dag gevoer word.
 
Die volgende verkorrelde volledige rantsoene kan vir bulle gebruik word:
 
Grondstowwe
Bulkorrels
Groeiende bulle
Volwasse bulle
Lusern
125 kg
200 kg
Grashooi of strooi
75 kg
50 kg
Mielies
550 kg
525 kg
Voermol Procon
100 kg
50 kg
Voermol SB 100
150 kg
150 kg
TOTAAL
1 000 kg
975 kg
 
Pas die bulle aanvanklik stadig en geleidelik oor ‘n 10 tot 14 dae periode op die korrels aan. Voer die eerste 14 dae ruvoer (grashooi of strooi) addisioneel eenkant by. Dit is altyd ‘n goeie praktyk, om waar bulle oor lang periodes gevoer word, hierdie ruvoer addisioneel vir die volle afrondingsperiode te voer.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
8 Desember 2011

Kommentaar

Een kommentaar op “Afrondingspille vir stoetramme en -bulle

  1. Gawie Liebenberg
    Gawie Liebenberg

    ‘n Baie goeie program dankie dr. Coetzee. Ek het net ‘n vraag aangaande ‘n produk wat ons nou in die hande gekry het by iemand wat nie meer nut het vir dit nie ‘breker 12’ ek dink dit is ‘n veekos produk en of dit sal kan inpas by die program en as dit kan wat sal die nuwe vehoudings van voer teenoor mekaar wees?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X