Dierevoeding

Afronding van hamels

Vraag

Ek het hamels en wil hulle verkoop, maar ons veld was nie baie gunstig vanjaar nie. Ek wil hulle nou op hok sit en voer. Wat kan ek hulle voer? Ek het gedink aan dro? lusern en Eco Grasveldlek. Sal dit voldoende wees vir 'n maand voordat ek hulle verkoop? Hoop om gou van julle te hoor omdat ek einde Desember wil verkoop. Ons boer in Namibië naby Solitaire-omgewing.

Antwoord

Skape kan nie op droë lusern en ‘n onderhoudslek alleen afgerond word nie. Beide die lusern en onderhoudslek is te laag in energie om die diere af te rond. Die vervaardigers van Eco Grasveldlek beveel ‘n inname van slegs 85 g per skaap per dag aan. Teen hierdie inname-peil sal hierdie lek saam met die lusern hoogstens massaverlies beperk, met ander woorde dit voldoen slegs aan die onderhoudsbehoefte van die diere. Wanneer skape afgerond word, is energie een van die heel belangrikste en kritieke voedingstowwe wat nodig is om die diere af te rond en voldoende vet te laat aansit. Die belangrikste energiebron om diere mee af te rond, is mielies. 

Aangesien die tradisionele skaapvoerkraalkonsentrate met groeibevorderaars soos ionofore weens die Europese Uitvoerregulasies nie in Namibi? gebruik mag word nie, kan die volgende volledige voerkraalrantsoen gebruik word om die hamels af te rond:
 
            300 kg gemaalde lusern (20 mm-sif)
            400 kg fyngemaalde mielies (6 mm-sif)
            200 kg Voermol Super 18
            100 kg Voermol Procon of Voermol HPK 36
                8 kg voerkalk
                5 kg sout
          1 013 kg TOTAAL
 
Die hamels moet baie stadig en geleidelik op bogenoemde voerkraalrantsoen aangepas word om laminitis, suurpens (asidose) en moontlike vrektes te voorkom. Die volgende bestuursaspekte moet stiptelik nagekom word:
(1)    voer die hamels die eerste dag slegs 100 g/lam van die voerkraalrantsoen;
(2)    verhoog die voedingspeil van die voerkraalrantsoen elke dag daarna met 100 g/hamel, met ander woorde Dag 2: 200 g/hamel; Dag 3: 300 g/hamel, ensovoorts totdat ‘n peil (ad lib.) bereik word waar hulle begin om van die voer te los;
(3)    voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte in die oggend en die ander helfte laatnamiddag;
(4)    voer ongemaalde lusernhooi eenkant ad lib. by vir die eerste 14 dae waarna dit gestaak word;
(5)    sorg dat daar voldoende vreetspasie (± 250 tot 300 mm/hamel) is sodat al die hamels gelyk kan vreet, met ander woorde moenie selfvoerders gebruik nie, want dan gaan die hamels hulle aanvanklik oorvreet wat tot laminitis, suurpens en vrektes aanleiding kan gee;
(6)    na die aanpassingsperiode (eerste 14 dae) moet die daaglikse hoeveelheid voer verkieslik drie maal (oggend, middag en laatnamiddag) per dag gevoer word en
(7)    Indien die hamels goed aangepas is en daar geen maagwerkings is nie, kan die luserninhoud in die voerkraalrantsoen na drie weke met 50 kg verminder en die mieliemeel met 50 kg vermeerder word. Indien na nog ‘n week geen maagsteurings voorkom nie, kan die lusern met ‘n verder 50 kg verminder en die mieliemeel met 50 kg vermeerder word om te verseker dat die hamels ‘n hoë groeitempo handhaaf en vinnig afrond.  Indien hulle op hierdie laaste resep styf word of maagwerk ontwikkel, moet na die vorige resep teruggegaan word.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
22 November 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X