Chemikalieë

Veiligheid van plaagdoders begin by die stoor

Vraag

Antwoord

Daar word bykans daagliks gevalle van plaagdodervergiftiging onder mense en diere aangemeld. As dit nie iemand se beeste is wat dood langs krippe lê nie, dan is dit ‘n swerm tarentale wat met ‘n organofosfaat vergiftig is.

Daar is selfs gevalle soos die plaaswerker op die Weskus wat, nadat sy wyn opgeraak het, ‘n hele bottel imidaklopried gedrink het wat hy in die stoor op die rak gevind het. Die nagevolge van plaagdodervoorvalle is dikwels noodlottig vir die mens of dier wat die produk ingekry het. 

Plaagdodervergiftiging mag miskien nie so algemeen soos padongelukke wees nie maar dit is sensasioneel en trek beslis die media se aandag. Al wat daaruit voortvloei is ‘n bitter swak beeld van plaagdoders, plaagdodermaatskappye en die landbougemeenskap. Synde ek reeds meer as twee dekades met sulke voorvalle werk weet ek al wat die publiek se kommentaar is: “Die boere het alweer gif gegooi”. 

Tegnies gesproke is die kanse dat mens of dier deur plaagdoders vergiftig kan word uiters skraal – met die voorbehoud dat alle reëls en etiketvoorskifte streng nagekom moet word. Prakties is dit egter ‘n heel ander saak omdat dikwels van die reëls en voorskrifte afgewyk word. Ons vind dat vergiftiging van mense of diere altyd een groot oorsaak het: onverantwoordelike en onwettige gebruik van plaagdoders.

Daardie twee woorde onverantwoordelik en onwettig het hulle oorsprong in die blatante onkunde van sommige individue wat hulle hande op plaagdoders lê en dan vir verkeerde doeleindes gebruik. Daar is net een plek waar sulke mense hulle toegang tot plaagdoders kry, en dit is die plaasstoor. Dit kan wees omdat die bestuur van die plaagdodervoorraad nie voldoende is nie of selfs glad nie bestaan nie.

Standaard vir die veilighouding van plaagdoders
Van die plaasstore wat ek so stil-stil deur die jare besoek het (en dikwels “inspekteer” het) was bitter min ooit op standaard. Standaard beteken die volgende: ‘n stoorkamer met ‘n ordentlike deur wat kan sluit, ventilasie sodat dampe kan ontruim, ‘n versonke sementvloer wat sal keer dat verspilde produkte nie sal uitloop buitentoe nie, vensters wat dig en veilig kan toemaak, ordentlike beligting, ‘n brandblusser en ander brandbestrydingstoerusting, ‘n dak wat nie lek nie en ‘n voorraadrekordboek.

Die stoor moet ook verskillende sektore hê: een vir onkruiddoders, een vir swamdoders, een vir insekdoders en verkieslik ook ‘n plek waar die spuittoerusting veilig gestoor kan word. Insekdoders en onkruidoders mag nooit saam op die selfde rakke of bergplek gestoor word nie omdat ‘n lekkasie van onkruiddoders die insekdoders sal besmet en later as insekplae bestry word, mag groot oesskade as gevolg van die onkruiddoderbesmetting plaasvind. Langsaan die stoorkamer behoort ook ‘n ordentlike draadhok te wees waar leë plaagdoderhouers gestoor kan word. Die stoorkamer moet ook die nodige gevaar- en waarskuwingskentekens oral op die mure en deure vertoon sodat almal kan weet die plek is potensieël gevaarlik.  

Steel van plaagdoders uit die plaastoor
Plaagdoders behoort slegs deur die plaaseienaar, plaasbestuurder of plaasvoorman uit die stoor verwyder te word na die plek waar dit gemeng sal word. Hier is dikwels een van die grootste gate in die veiligheidsketting omdat swak toesig aan onkundige mense die geleentheid bied om plaagdoders te gaps. Almal weet plaagdoders is giftig en daarom word dit gesteel om byvoorbeeld rotte te gaan vergiftig, voëls soos tarentale en duiwe te vergiftig of selfs om ernstige misdrywe soos moord en vergiftiging van plaasdiere en troeteldiere te pleeg.

Van die gevalle wat ek die afgelope twee dekades ondersoek het was seker meer as die helfte die gevolg van mense wat hulle hande op plaagdoders by die plaasstoor kon lê. Dit skep die gevaar dat die boer se eie wild, vee en plaasmense vergiftig kan word maar dit strek ook wyer na bure en selfs stedelinge wat die spit gaan afbyt as die plaagdoders onwettig en onverantwoordelik aangewend gaan word. Die uiteindelike verantwoordelikheid vir plaagdoders lê by die grondeienaar wat die produkte aankoop – dus is dit in belang van die grondeienaar om toe te sien dat elke gram of milliliter plaagdoder op die korrekte wyse aangewend word.

Die plaasstoor is die begin van ‘n swak skakel in die ketting betreffende plaagdoderveiligheid maar daar is aanduidings dat baie van die plaagdoders wat gesteel word, by die trekker op die landerye of in die boorde gesteel word wanneer die produkte gemeng word. Mens sien al te dikwels op plase hoe die plaagdoderhouers langs die landerye staan terwyl dit toegedien word en dis net hier waar die skelm elemente hulle kanse waag.

Net om die erns van die saak te illustreer is daar ‘n paar voorbeelde wat genoem moet word. Naby Kuruman in die Kalahari het mense van ‘n plaaslike gemeenskap alidkarb by ‘n plaasstoor gesteel en ‘n melkboer se beeste oornag feitlik uitgewis omdat hy weidingsregte op sy grond aan hulle geweier het. ‘n Ander geval naby Pretoria het trekarbeiders ‘n drom fenamifos uit ‘n plaasstoor gesteel en ‘n hele swerm tarentale vergiftig. Toe ek aan die grondeienaar noem watse plaagdoder betrokke was het hy dadelik besef waar die produk vandaan gekom het maar spyt kom mos altyd so effens te laat.

In die Perdekop-omgewing van Mpumalanga is grondeienaars se wilde voëls op ‘n groot skaal vergiftig met monokrotofos wat by bure gesteel is. Naby Carolina is ‘n oom se Merino’s almal dood nadat ‘n onwettige immigrant mieliepitte met karbofuraan behandel het wat hy by die oom se stoor gesteel het. Die mieliepitte was vir tarentale bedoel maar ongelukkig het die skape dit eerste ontdek.

Nagevolge van swak bestuur van plagdoders
Mense besef nie die omvang van die probleme wat deur swak bestuur van plaagdodervoorrade veroorsaak word nie. Die probleem raak al hoe groter. In stede, dorpe en selfs op plase word waghonde daagliks vergiftig sodat inbrake en ander misdade ongehinderd gepleeg kan word. ‘n Groot persentasie van die plaagdoders wat daarvoor onwettig aangewend word, word op plase gesteel. In die klimaat van kriminaliteit waarin Suid-Afrika homself bevind is dit noodsaaklik om misdadigers hulle wapens te ontsê. As ons alle plaagdoders veilig agter slot en grendel kan hou is daar reeds ‘n groot hap uit die misdaadnetwerk weg.

Produsente word ernstig gewaarsku teen die misdrywe wat misdadigers kan pleeg met gesteelde plaagdoders. AVCASA (Vereniging van Dieregesondheids- en Oesbeskermingsverenigings van Suid-Afrika) maan boere om alle moontlike maatreëls in plek te stel om diefstal van plaagdoders te voorkom.

‘n Ordentlike stoor is die begin van voorkoming. AVCASA nooi ook alle boere uit om enige onwettige aktiwiteite met plaagdoders by die Griffon Gifinligtingsentrum by 082 446 8946 aan te meld. Sulke aanmeldings kan naamloos wees – al wat ons verlang is die inligting. Vir enige verdere raad en aanbevelings rondom die veilige berging van plaagdoders kan boere ook die Griffon Gifinligtingsentrum kontak.

28 September 2010


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X