Chemikalieë

Tuinchemikalieë kan giftig vir troeteldiere wees

Vraag

Is Doom Blue Death giftig vir jou diere? My buurman het die gif gegooi in sy erf en my kat klim partykeer oor in sy erf en ek is baie bang sy kry dit op haar pootjies en lek dan later aan die pootjies. My man het ook in ons tuin Efekto Ant Dust gegooi en hoewel die verkoopsman gesê het dit sal nie giftig wees vir my kat nie, is ek nog steeds baie bang en hou haar nou maar eerder in die huis. Ek is baie bang as dit by gifstowwe kom, aangesien een van my katte jare terug dood is deurdat sy gif ingekry het. Moet ook sê, dit was gif wat inbrekers gegooi het en nie dieselfde as gifstowwe vir jou tuin nie.

Antwoord

Die beginsel wat mens moet handhaaf met die gebruik van enige plaagdoder is dat dit potensieel gevaarlik vir enige organisme is as dit nie spesifiek vir aanwending op daardie organisme op die etiket aangedui word nie. Daarom moet mens die waarskuwing (warnings) en voorsorgmaatreëls (precautions) op alle etikette deeglik lees voordat plaagdoders aangewend word.  

 

Feitlik alle plaagdoders sal onder die waarskuwings aandui dat die produkte gevaarlik vir diere en die omgewing is, maar dis om mense te waarsku dat die oormatige of verkeerde gebruike daarvan wel skade kan aanrig. Onder normale gebruiksomstandighede is daar min rede tot kommer, maar as mens troeteldiere aanhou moet mens baie versigtig met die gebruik van plaagdoders omgaan.

 

Dit is veral katte wat uiters sensitief vir sommige piretroïedplaagdoders mag wees: permetrien wat met veiligheid op honde en kouvoëls gebruik kan word, is uiters nadelig vir katte. Dieselfde geld vir verskeie ander piretroïede.

 

Wat ek dus aanbeveel, is dat enige huishouding waar katte aangehou word, enige piretroïedbevattende plaagdoders net op plekke aanwend waar die kat nie sal beweeg nie. Vermy beslis die gebruik van enige plaagdoder wat permetrien bevat. Indien lede van die publiek wel ‘n plaag moet beheer in ‘n omgewing waar katte rondbeweeg, stuur dan eerder ‘n kort boodskap per SMS na die Griffon Gifinligtingsentrum 082-446-8946 vir ‘n aanbeveling voordat die verkeerde produk aangewend word. Daar is genoeg ander produkte wat gebruik kan word wat nie die katte sal benadeel nie.

 

Geskryf deur: dr. Gerhard Verdoorn, Griffon gifinligtingsentrum (nesher@tiscali.co.za)

 

5 Mei 2013


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X