Probleme met waaierstert-meerkatte
Vraag
Hoe kan 'n mens waaierstert meerkat kolonies onder beheer kry, sonder om die natuur te beskadig of van balans af te gooi?Antwoord
Die waaierstertmeerkaaie is vanjaar veral problematies in die sandgronde wat aanliggend tot grasvelde is waar die velde die gars verwoes het. Die diertjies moet dan desnoods die verbrande gebiede verlaat en vesting in braaklande of aangeplante landery vind. Dis waar die konflik kom want hulle vind dan die vars geplante saad en vier fees daarop.
My raad sal die volgende wees: gebruik ‘n geïntegreerde plaagbestuurstelsel waarin alle moontlike meganismes gebruik word om die probleem onder beheer te bring. Dit sluit in die volgende:
Plant land 75 mm X 4 meter pale vir roofvoëls in die landerye reg by die kolonies van die waaiersterte sodat roofvoëls, soos bruin jakkalsvoëls en blouvalke, kan inbeweeg en die sitplekke benut. Die teenwoordigheid van die roofvoëls sal die waaiersterte ontmoedig om in die land aan te bly.
Gooi uitskotgraan vir die diere langs die landerye uit veral waar hulle in landerye ingetrek het nadat hulle grasveldhabitat vernietig is.
Neem ‘n trekker met ‘n waterkar en deurdrenk die grond in en om die kolonie se gate want hulle hou nie van sulke nat gronde nie en sal waarskynlik padgee.
Indien hulle heeltemal buite beheer raak, mag aluminiumfosfiedtablette wel gebruik word om die kolonies mee te vergas maar ek beveel dit nie aan nie omdat die ander opsies ‘n meer omgewingsversoenbare en langtermynoplossing bied.
Hoop dit help!!
Geskryf deur dr. Gerhard Verdoorn van die Griffon-gifinligtingsentrum.
15 Oktober 2010
Lewer kommentaar
Slegs in Afrikaans