Chemikalieë

Ophou vleis eet? Nooit!!

Vraag

Daar word deesdae beweer mense moet op Maandae nie meer vleis eet nie om sodoende aardverwarming teen te werk. Wat is u reaksie hierop?

Antwoord

 “Red die aarde deur een dag per week nie vleis te eet nie”. Net die Britte kan sulke twak uitdink. Nogal ene Paul (Sir) McCartney wat met die voorstel vorendag gekom het. Seker maar omdat die Britte polonie op die gasbraai gooi as hulle ‘n buitelugervaring wil hê. Daar is mos min vleis in die eilandjie wes van Europa en die hoofdis is seker maar gekookte hoendervleis waarvan die vel afgehaal is. Dis amusant om te dink iemand kan glo die aarde kan gered word as mens minder vleis eet. Sulke gelofies moet ‘n slag onder die loep geneem word en gedissekteer word tot daar niks van oorbly nie, want dis louter onsin.

 Diere produseer ongetwyfeld koolsuurgas en herkouers dra nog verder etlike miljoene tonne metaangas tot die aarde se kweekhuisgasse by. Mens moet egter die herkouers in konteks plaas. Daar word uit ander natuurlike bronne miljoene tonne koolsuurgas en metaangas geproduseer. Ontbindende plantmateriaal, veral waar dit onder of half onder water is, produseer metaangas wat in moerasgebiede soms spontaan ontbrand en blou vuurballe soos spookkarre oor die moerasse stuur. Enige biologiese materiaal wat ontbind, produseer koolsuurgas as sulks en dra dus ook by tot kweekhuisgasse. Om die veestapels van die aarde te blameer vir kweekhuisgasse en daarop te sinspeel dat om minder vleis te eet die probleem gaan oplos, is belaglik.
 
Die blaarvreters onder Homo sapiens is seker verheug oor die vleisvrye dag, maar het hulle al ooit gedink aan hulle eie bydrae tot klimaatsverandering? Elke mens lewer ‘n bydrae tot klimaatsverandering en om te dink dat ‘n vleisskaarsste die ding gaan help, is onsin. Die vraag wat die wêreld aan homself moet vra, is wat die grondliggende probleem is. Almal weet wat die antwoord is: te veel mense en ‘n konstante groei in die wêreldbevolking. Hoe meer mense, hoe meer kweekhuisgasse. Niemand is egter bereid om te sê wat die oplossing is nie, so kom ek gooi maar die klippe in die bos: die mens moet halt roep met sy aanwas en drasties sy besoedeling begin inperk. Dit help nie dat ons klimaatsveranderingkongresse hou en die Amerikaanse president daag op met ‘n vloot vliegtuie nie. Dis so goed of ons hou ‘n biddag vir reën, maar los al die waterkrane oop.
 
Nou vir die vleisinvalshoek: as jagter dra ek tog my deel by ten einde die kweekhuisgasse te verminder. Jaarliks word daar ‘n aantal bokke gejag vir skoon, vetvrye, hormoonvrye, smaaklike, gesonde vleis. Ek haal dus ‘n aantal metaangasbronne uit die ekologie uit. Sou mens nie vleis mag eet nie, is die jagtery onvolhoubaar want die natuurlike hulpbron word gemors en ek glo nie aan mors nie. Dis baie beter vir my om te jag en vleis te eet, en my voertuig minder te gebruik want die ding pomp benewens die koolsuurgas, ander besoedelingsgasse ook in die lug in. Dit sal ook help as ons almal een aand van die week gedurende die winter die komberse nader sleep, die elektriese en gasverhitters afskakel en die koue trotseer. Terwyl jy dan sit en bibber onder vier komberse, eet jy lekker gemsbokbiltong.
 
Politiek het die wêreld oorgeneem en mens mag nie polities onkorrekte uitsprake lewer nie, maar dis hoogtyd dat ons ophou om rondom die kwessies te praat en met dom idees klimaatsverandering te probeer teëwerk. As een wêreldleier net wou opstaan soos Moses en hard uitskree: “Hou op met julle aanwas, hou op met besoedeling”, dan sal die wêreld moontlik wakker word en nie daarop aandring dat ons ophou vleis eet nie. As die anti-kernkragbrigade kan aanvaar dat kernkragsentrales baie skoner as steenkoolkragsentrales is, sal die wêreld ook ‘n beter plek wees.
 
Dis egter meer sosiaal aanvaarbaar om belaglike stellings te maak as om die werklikhede van die lewe trompop te loop en die mens as spesie aan te vat. Dit skep by ‘n klein deel van die publiek ‘n wonderlike beeld as jy vra dat mense minder vleis moet eet. As mens egter die gewone Jan Publiek soos die uwe se opinie vra, dan sal ons saamstem dat sulke vleisvrye dae niks gaan help solank ons nie daadwerklike planne in plek sit om die mens se gedrag te verander nie.
 
Geniet jou skaaptjops. Myne is amper reg……..
 
Geskryf deur: Dr Gerhard H Verdoorn, Griffon Gifinligtingsentrum 082-446-8946 (24 uur vir noodgevalle) nesher@tiscali.co.za
 
15 November 2010

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X