Chemikalieë

Insekte wat pla

Vraag

Is daar enige iets wat ek kan doen om van groot hoeveelhede bruin, hardedopbesies, wat saans vlieg en my huis oorneem, ontslae te raak?

Antwoord

Om ‘n plaagdoder te probeer aanwend vir die beheer van rooskewers is basies onmoontlkik want hulle vlieg saans rond en kom as enkelinge die huis binne.

 

Die beste is om gaas voor vensters te plaas sodat die kewers nie in die huis kan inkom nie. As buitedeure oopgelaat word vir goeie lugsirkulasie dan is dit wenslik om gaas voor die deure te plaas.

 

 Wat wel goed sal werk in die geval van oop deure is om buite die huis ‘n ultravioletlig aan te bring wat aangeskakel kan word na sononder en weer afgeskakel kan word sodra die huis se inwoners te ruste keer. Die UV ligte lok al wat insek is weg van die huis af en hou dus meeste van hulle waar hulle behoort, naamlik buite.

 

Vermy egter die gogga-zappers wat die insekte doodmaak tensy dit ‘n boerdery area is waar byvoorbeeld vlieë beheer moet word want alle insekte, selfs die nuttiges, word deur die apparate doodgemaak.

 

Mens kan ook in die kombuis en net buite die agterdeur as dit oopgelaat word, geel gloeilampe aanbring want die geel lig het ‘n afwerende effek op insekte.

 

Wat ons as mense so maklik vergeet is dat die insekte wat ons pla die kos van ander lewende organismes is. In my huis is die geitjies, akkedisse en reënspinnekoppe die ouens wat elke dag help met die beheer van ongewenste insekte. Sou mens nou die rooskewers met ‘n plaagdoder takel, dan val hy later buite neer en word die kos van ‘n nuttige diertjie wat miskien aangetas gaan word as gevolg van die plaagdoder. Daar is beslis plek vir plaagdoders soos met kakkerlakke, maar die paar rooskewers is beslis nie een van die inseksoorte wat ‘n hele kannetjie insekdoder regverdig nie. Leef en laat leef!

 

Geskryf deur: dr. Gerhard Verdoorn, Griffon Gifinligtingsentrum (nesher@tiscali.co.za)

 

12 Desember 2012


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X