Chemikalieë

Bestryding van kankerroos

Vraag

Is daar enige manier om kankerroos uit te wis en/of te voorkom dat dit groei?

Antwoord

Kankerroos Xanthium strumarium is ‘n belangrike onkruidplaag in baie kontantgewasse soos graangewasse en sojabone.

 

Daar is ‘n hele aantal onkruiddoders geregistreer vir die effektiewe beheer van kankerroos, maar die boer moet seker maak dat die onkruiddoder met sy gewas versoenbaar is.

 

Aktiewe bestanddele wat in die monokotiele (grasagtige gewasse) soos mielies, sorghum, koring, gars, hawer, weidingsgrasse, grasperke en koring geregistreer is, sluit onder ander in 2,4-D, asetochloor/atrasien/terbutielasien mengsel, atrasien/sianisien mengsel, atrasien/terbutielasien mengsel asook bendioksied, bromoksiniel, chloorimuron, dikamba, dikamba/MCPA mengsel, S-metolachloor en topramesoon.

 

Vir die beheer van die onkruid in breëblaargewasse is daar metribusien en S-metolachloor geregistreer. Dit gaan nie sin maak om handelsname te noem nie want daar is bladsyevol produkte beskikbaar.

 

Die produsent kan gerus gaan naslaan op http://www.croplife.co.za/Portals/13/Croplife_Documents/Herbicides.pdf vir handelsname van die onderskeie aktiewe bestanddele.

 

Dit is krities belangrik om die korrekte onkruiddoder te kies want dit moet met die gewas versoenbaar wees, moet vir kankerroos geregistreer wees en die produsent moet daarop let dat daar bepaalde onthoudingsperiodes geld voordat gewasse weer aangeplant kan word na die aanwending van onkruiddoders.

 

Dit is veral belangrik wanneer gewasrotasie deel van die produsent se landboubestuur is. Lees ook die etikette sorgvulding en wend die onkruiddoders slegs aan soos wat die etikette aanbeveel. Wees veral versigtig wanneer die onkruid in breëblaargewasse soos aartappels beheer word want die verkeerde onkruiddoder kan so ‘n gewas heeltemal uitwis.

 

Geskryf deur: dr. Gerhard Verdoorn, Griffon Gifinligtingsentrum (nesher@tiscali.co.za)

 

12 Desember 2012


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X