Chemikalieë

Beheer van Prosopis (Suidwesdoring)

Vraag

Hoe kan ek Prosopis (Suidwesdoring) uitroei /beheer in die Strydenburg omgewing. Twee van my kampe is dig bebos en ek moet besluit of ek die bosse meganies of chemies moet uitroei.

Antwoord

Die Prosopis glandulosa var. torreyana of Suidwesdoring (honey mesquite in Engels) wat ook as muskietboom  in die Karoo bekendstaan, is ‘n ernstige bedreiging vir die ariede streke se weidingspotensiaal en moet ten alle koste uitgewis word. Dit help nie boere skrik wakker as die veld reeds oortrek is nie want dan is die koste van uitwissing net te veel. Wat ons gewoonlik aanbeveel, is die volgende beheermaatreëls:

 

  • Stambrand: dit werk veral goed vir Suidwesdorings wat al bome geword het. Pak grassies en stukkies takkies om die stam, steek aan die  brand en hou aan met brand totdat die boom se stam goed verkool het. Maak seker dat die wind nie waai nie. Sulke bome vrek gewoonlik heeltemal uit en groei glad nie weer nie.

 

  • Meganies: die struike en selfs jonger bome van so twee meter kan sekerlik met trekkers en kettings uitgetrek word, maar as daar stewige wortels agterbly, bestaan daar ‘n kans vir hergroei. Kyk dan net so drie maande later of daar hergroei was en behandel dan chemies met die onkruiddoders soos hieronder aangedui.

 

  • Blaarbespuitings met geregistreerde onkruiddoders werk goed vir opslag en  struike van tot 1.5 meter hoog. Die opslag en struike moet in die groenblaarstadium wees en verkieslik nie laat in die groeiseisoen nie. Die onkruiddoders wat daarvoor geregistreer is, is Dow AgroSciences se Confront 360SL ( bevat clopiralied en triclopir triëtielammoniumsout, registrasienommer is L7314 Wet Nr. 36 van 1947), asook Arysta LifeScience se Astra (bevat triclopir triëtielaminsout en clopiralied triëtielamiensout, registrasienommer is L8492).  Hierdie produkte moet met water gemeng word teen ‘n verdunning van 1 liter per 100 liter water vir jong plante en opslag en teen 1.5 liter per 100 liter water vir groot struike. Plante moet heeltemal benat word.

 

  • Afsny en stompbehandeling is ‘n ander opsie vir bome en struike. Die boom of struik word so naby as moontlik op die grond afgesny en dan met die chemiese middel behandel binne 15 minute na afsny. Een van die bestes is Arysta LifeScience se Kaput Gel (bevat pikloram en triclopir, registrasienommer is L8855) en kan direk uit die houer met ‘n kwas aan die snywond gesmeer word. As dit nie beskikbaar is nie, kan Arysta LifeScience se Lumberjack 360 SL (bevat triclopir triëtielamiensout, registrasienommer is L7295) of Dow AgroSciences se Timbrel 360 SL (bevat triclopir triëtielamiensout, registrasienommer is L4917) gebruik word. Dit word teen 50 ml per liter water gemeng en aan die wond geverf binne 15 minute nadat die boom afgesny is.

 

  • Dis belangrik om te onthou dat die Suidwesdorings geweldig baie saad produseer en dat opslag gedurende die eersvolgende seisoen kan voorkom. Daarom moet die plek waar die plante uitgewis is, gereeld besoek word en die opslag moet dan ook behandel word.

 

Geskryf deur: dr. Gerhard Verdoorn, Griffon Gifinligtingsentrum (nesher@tiscali.co.za)

 

15 Oktober 2012


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X