Watse vrugte pluk Tony Ehrenreich, Cosatu se Toeter in die Wes-Kaap, uit die arbeidsonrus in die landbou en die ongelooflike skade wat aangerig is? Wat gaan die uiteinde daarvan wees?

In die eerste vlaag van “arbeidsonrus” in die Wes-Kaap is byvoorbeeld skade van meer as R10 miljoen aangerig op die die plaas De Keur by Ceres. Dit was ’n spoor van verwoesting van R3,7 miljoen aan geboue en toerusting, kratte ter waarde van R6,2 miljoen is uitgebrand en R400 000 se los goed is vernietig, aldus mnr. Charl du Toit jr. van die De Keur-Boerdery.

De Keur is ‘n spesiale plaas: Dit is dié plaas waar Breyton Paulse, Springbok-rugbyspeler, grootgeword het. Breyton se ma, mev. Setta Visagie, was die jare lange huishulp van mnr. Charl (Tippie) du Toit snr. en sy vrou.

Charl sr. het Breyton gehelp om sy skoolloopbaan te voltooi en hy het hom daarna na die Universiteit van Stellenbosch gestuur. Breyton, die plaasseun van De Keur – kyk waar staan hy vandag. Daar is vele sulke voorbeelde in die landbou. Mev. Visagie werk vandag nog op De Keur, sy is tans die huishulp vir Charl jr.

‘n Mens kan nie dink dat ander werkers op dié plaas nie met dieselfde respek en menswaardigheid behandel en vir hul werk beloon is nie. Allermins is dit boere wat hul werkers uitbuit en in haglike omstandighede laat leef en werk, soos wat Ehrenreich graag wyd en syd verkondig.

Ehrenreich wil glo vorentoe die plase van “slegte boere” takel. Maar tot nou toe is niks omgegee nie, ook om plase waar voorbeelde soos De Keur, te laat deurloop.

Nog iets waaroor Ehrenreich kan nadink: ‘n Suksesvolle sakeman op Stellenbosch, mnr. Johan van Tonder, vertel anderdag dat hy jare gelede ‘n klerefabriek in Atlantis gehad het, waar werk aan 2 500 mense verskaf is. Weens ongelooflike druk op hom deur vakbonde, het hy die handdoek ingegooi en die fabriek gesluit. Hy het sy geld daarna in ’n soortgelyke fabriek in China belê en besit vandag ‘n halwe aandeel in ’n klerefabriek daar, waar 6 000 mense werk. Hy lewer steeds klereprodukte in Suid-Afrika, onder meer aan Woolworths.

Dit is presies waarmee Ehrenreich en sy wilde mede-vakbondleiers besig is: Gooi hul eie vensters stukkend, by wyse van spreke.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.