CORNELIA SE DONKERWOLK

Naslaanbronne toon aan dat Cornelia in die Oos-Vrystaat in 1894 as dorp geproklameer is en na die vrou van president  FW Reitz, ten tye President van die Vrystaat, vernoem is. Dieselfde bronne dui ook aan dat Cornelia bekend is vir ‘n belangrike fossielfonds wat in die distrik gevind is wat as deel van ’n Chalicothere, ’n uitgestorwe groot perdagtige soogdier, geïdentifiseer is. Dieselfde bronne sê ook dat die skrywer van onder andere Siener in die suburbs, Koöperasiestories en Fees van die ongenooides – PG du Plessis – vir meer as 15 jaar saam met sy ouers in Cornelia gewoon het en dat hy die grootste gedeelte van sy skoolloopbaan daar voltooi het. Dan was daar Freddie Rautenbach, van wie die bronne nie melding maak nie. PG du Plessis se pa was ‘n Engelsonderwyser by die skool. Freddie Rautenbach se pa, Mike, was die algemene handelaar op Cornelia en was ook later burgemeester van die dorp.

 

In die veertigerjare was St. 8 ‘n openbare eksamen en die meeste leerlinge het by voltooiing daarvan die skool verlaat en hul onderskeie beroepe begin volg. Slegs leerlinge wat universiteit toe wou gaan, het aangegaan om matriekvrystelling te behaal. Op Cornelia was daar nie ‘n groot vraag na matrieksertifikate nie en daarom het die skool net tot St. 8 gegaan.  So het PG matriek op Heidelberg gaan voltooi terwyl Martha en Lenie dit op Vrede gedoen het.  Roelf, met ‘n kop vir syfers, was met sy St. 8 ‘n aanwins vir INSPAN ALGEMENE HANDELAARS op Ascent gewees. Freddie het deur die noodlot op Cornelia agtergebly.

 

Toe Cornelia se skoolklok op 12 Desember 1947 vir die laaste keer daardie jaar gelui het was die lug blou en dit was warm. Later die middag was daar wit wolke wat plek-plek die blou lug uit maskeer het en daar was geen aanduiding van reën nie. Later die middag raak ‘n veraf  rammeling net-net hoorbaar maar só sag dat dit ‘n kar op die R103 ook kon gewees het. Die rammelings het geleidelik meer spesifiek begin raak terwyl wit wolke reg bokant Cornelia die blou lug begin verdring het. Mettertyd het die rammelings  nog harder geword en oor Tafelkop  het die lug verstommend vinnig donker geraak. ‘n Koel bries het skielik vooruit vir die swart wolke begin spoorsny en solank die onheilspellende verwagting geskep dat slegte tyding dalk op pad was. Kort op die bries se hakke het rollende donker wolke die oorblywende blou lug verswelg met die wind wat baie sterk begin woed het. Takke het skuins en weg van die storm af gebeur en blare en bloekombasse het oral in ‘n kantgordyn van stof rondgewaai. Plaasdiere het in dieselfde rigting as wat die takke aangedui het begin stap tot waar ‘n draad hulle gang gestuit het en hulle so rugkant na die wind gaan bly staan en wag het vir die reën.

 

Toe begin silwer fakkelstrepe in die donker lugruim rond te flits wat met oorverdowende donderslae geëggo is. Die fakkels en eggo’s het al korter op mekaar begin volg en swaar druppels het hard en vinnig uit ‘n vaal gordyn na die grond afgesif. Toe die vaal gordyn oral om dig toegetrek het, val wit korrels saam met die swaar druppels uit die lug en wip angstig op die kort gras rond. Vol adrenalien woed die storm toe nog instinktief vir ‘n duur en raak in die proses van meer water ontslae as wat die Schoonspruit kon afvoer.  Dan skielik, asof dit gekry het waarna dit gesoek het, vat die storm dreunend koers na Standerton en hou aan fakkels flits lank nadat die rammelings nie meer hoorbaar is nie.

 

Cornelia blog

Kolle blou lug verdring weer later die grys wolke. Net ‘n paar reëndruppels waai nog in die wind rond wat intussen weer ‘n bries geword het en daar waar die reënboog geaard het, vreet die plaasdiere weer met berusting aan die nat gras. Maar iewers het daar ‘n boom oor ‘n draad, ‘n afgewaaide dakplaat in die gras en ‘n stukkende ruit op die vloer gelê. Straks was daar ‘n plaas waar die hael ‘n oes weggeslaan het en daar was ‘n kind wat in ‘n oorvol spruit soek geraak het.

 

Freddie en sy broer het in die kalmte van die na-storm al saam met die bruin afloopwater van die Schoonspruit gehardloop; hy op die rant van die bewegende oorvloed met ‘n stok wat hy kort-kort in die water gedruk het en sy broer bietjie hoër op teen die wal. Toe Freddie nogmaals druk is daar niks aan die stok se onderpunt nie en hy val vooroor in die koue water en verdwyn.

 

‘n Groot soekgeselskap het Freddie heelwat later en helaas té laat net daar waar hy ingeval het op die bodem van die kuil gekry. Die dokter het agterna, dalk ter vertroosting, aangevoer sy hart het dadelik as gevolg van koue en skok gaan staan. Nadat Freddie uit die water gehaal is, het die dokter ook aan iemand beveel om vir almal wat aan die soektog deelgeneem het,  ‘n goeie dop skoon brandewyn te gee. Vir ‘n klein gemeenskappie, wat nie weer na die jubelende skoolklok van vroeër daardie oggend kon terugkeer nie, moes dit help vir die koue en die skok.

 

Bronne:

 

http://www.fak.org.za/vrystaatse-dorpe/fezile-dabi-distriksmunisipaliteit/mafube-munisipaliteit/cornelia/

 

The Thunderstorm Life Cycle, Texas Weather Network.

 

Het olifante elmboë. PG du Plessis. Tafelberg Uitgwers, 1991.

 

Mededelings: Roelf Strydom, Martie le Roux, Mariana Els.

 


Kommentaar

Een kommentaar op “STORIES VAN IN EN OM DIE VRYSTAAT (12)

  1. Mariana Els
    Mariana Els

    Mooi geskryf Klippies!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.