DIE POUS WIL OP KROONSTAD PIEPIE

 

Die nuus vroeg in 1988 dat Pous Johannes Paulus II in September van daardie jaar Lesotho sou besoek het landswyd ‘n reuse geskarrel tot gevolg gehad.  Tydens sy besoek sou hy ‘n Katolieke priester, Vader Joseph Gérard, wat in die 19de eeu in Basoetoland sendingwerk gedoen het, tot heilige verklaar. Wilde bespiegelinge oor hoeveel mense van “orals oor die wêreld” vir hierdie gedenkwaardige gebeurtenis sou opruk, was gou in omloop. Raaiskote het van 2 miljoen tot soveel soos 5 miljoen besoekers gewissel. Die hoogtepunt van die Pouslike besoek sou ‘n reuse opelug kerkdiens vir hierdie miljoene kerkgangers wees, wat op die ou perdewedrenbaan buite Maseru gehou sou word. ‘n Kolossale konstruksie is ten duurste vir hierdie eenmalige okkasie opgerig.

 

Plaaslike kerkamptenare én ook gretige sakemanne het bereken dat ten minste Lesotho se 600 000 Katolieke die verrigtinge sou bywoon. Omdat Suid-Afrika nie ook op die Pous se besoek ingesluit was nie, is daar verwag dat dié land se paar miljoen Katolieke ook nie die geleentheid sou verpas om deur die Pous geseën te word nie. Gevolglik het die entrepreneurskap in die “Verowerde gebied” begin gedy en menigte geykte, sowel as kreatiewe idee, is uitgedink om iets aan die talle besoekers in stalletjies in en om die sportgronde te verkoop. Miljoene T-hemde, bofbalpette en vlaggies met die Pous se gesig daarop is laat maak. Fotograwe het mobiele atlejees laat bou. Kos is vooraf by die wavragte vol voorberei. Duisende plastiek beeldjies van die Pous is gegiet. ‘n Man het ook daar opgedaag met ‘n bakkievrag vol mieliemeel en ‘n tuisgemaakte, dubbelverdieping papmasjien op ‘n sleepwaentjie. Daar was selfs ‘n stalletjie met doodskiste, ingeval die noodlot dalk in die vorm van ‘n busongeluk sou opdaag.

 

Die Vatikaan het al so vroeg as 1982 aangedui dat die Pous ‘n besoek aan Suidelike Afrika beoog.  Hoewel die Suid-Afrikaanse (apartheids-) regering belang gestel het om hom te ontvang, het die plaaslike Katolieke Kerk gemeen hulle kan meer waarde uit ‘n boikot van die besoek kry as uit ‘n besoek self. Daar is ook aangevoer dat die Pous nie deur dieselfde veiligheidsmagte beskerm wou word wat die tóé heersende noodtoestand in die swart woonbuurte afgedwing het nie. Gevolglik is die uiteindelike besoek toe tot Zimbabwe, Botswana, Lesotho, Swaziland en Mosambiek beperk. Die uitsluiting van Suid-Afrika het die verwagtinge versterk dat miljoene Katolieke tydens die Pous se besoek na Lesotho sou stroom.

 

Maar Pik Botha, toe Suid-Afrika se Minister van Buitelandse sake, sou tog sy diplomatieke oomblik saam met die Pous kry. Kort na die opstyging in Gaborone (Botswana), op pad na Lesotho, raak die vlug as gevolg van slegte weer so rof dat van die joernaliste aanboord begin siek raak. Die vlieënier het deurgedruk en reeds met sy landingsprosedure vir Maseru begin toe hy besluit om nie daarmee voort te gaan nie nadat hy ingelig is dat die lughawe se navigasiebakens deur die swak weer buite werking gestel is. Die vliegtuig het egter nie genoeg brandstof oorgehad om na Gaborone terug te draai nie en die vlug moes na Johannesburg uitwyk. Daar het ‘n stralende Pik Botha  (toe Minister van Buitelandse Sake) gewag om ‘n baie ongemaklike Pous te verwelkom. Laasgenoemde was só ongemaklik dat hy van sy normale tradisie afgewyk het om op sy knieë neer te sak en die aanloopbaan te soen!

 

Die Pous in SA

Pik Botha aan die anderkant was so gemaklik soos ‘n pikkewyn in die water en stel sy regering se organisatoriese vermoë met volle oorgawe in werking. So gebeur dit toe dat die Opperhoof van die Rooms Katolieke Kerk, een van die magtigste mense ter wêreld, met ‘n regeringsmotor van Johannesburg af deur die Vrystaatse platteland na Maseru moet reis. By elke dorpie neem ‘n vars polisie-aflos oor en jaag teen hoë spoed tot by die volgende dorp waar ‘n nuwe span polisemanne die Pous inwag totdat Ladybrand se aflos uiteindelik die Pous by die Caledonrivier se grenspos aan die Bergkoninkryk kon uitlewer.

 

Maar tussen Koppies en Kroonstad was daar eers ‘n probleem. Van agter uit die motor mompel die Pous meer as een keer en al hoe gereelder: “Ego vis ad mingo”. Dit word later duidelik dat die Pous bedoel: “Ek wil piepie” en die enigste uitweg is dat daar in Kroonstad by die eerste garage vir ‘n ongeskeduleerde Pouslike besoek gestop moet word. Die polisieman van Koppies moes voor die badkamer se deur wag en kon dus nie bevestig dat die Pous tóé voor die krip op sy knieë neergesak het en die grond gesoen het nie. Wat hy wel kon bevestig het is dat die Pous, met die uitkomslag, met sy hand ‘n kruis en dwars beweging voor sy lyf gemaak het en hardop gesê het: “Benedicat vos omnipotens Deus Pater, et Filius, et Spiritus Sanctus” terwyl hy verlig na bo geglimlag het. Hy sê dit het hom nie eintlik gepla nie want sy eie pa maak ook altyd sulke bewegings as hy uit die toilet kom en dan sê: “Dink poepol, is jou gulp toe, het jy jou leesbril en jou sakboekie.”

 

Op die dag van die Pous se aankoms steek ‘n skamele 21 motors per uur die grenspos by Maseru oor, veel minder as op ‘n doodgewone werksdag. Van die menigtes wat by die kerkdiens verwag is, daag uiteindelik slegs sowat 10 000 op. Swak organisasie en die gure weer word as verskonings aangebied en die entrepreneurs, wat ten duurste vir ‘n konsessie vir hulle stalletjies moes betaal, eet baie lank daarna nog aan opgewarmde kos en dra T-hemde met die Pous se gesig daarop. Die Pouslike besoek se Pik Botha-oomblik het hulle gierigheid stil-stil verbygegaan.

 

 

Bronne:

 

OOR ‘N POUS, ‘N PRIESTER EN PRET BY ‘N PERDEBAAN!  Albé Grobbelaar , 07 Nov 2012.

 

CROWD FOR POPE SPARSE IN LESOTHO. Roberto Suro, Special to the New York Times, 16 September 1988.

 

POPE JOHN PAUL II’s VERY STRANGE DAY. Gunther Simmermacher, 12 April 2014.

 

Taalwenke: Ian Wessels, Mariana Els.

 


Kommentaar

Een kommentaar op “STORIES VAN IN EN OM DIE VRYSTAAT (11)

  1. boer2
    boer2

    Wat van die dorpe, op die roete, wat gereed gestaan het om ‘n stalletjie langs die pad te hê, waar die stoet sou deur ry. Ek weet van skole, wat ook nog lank daarna, die kos op vele maniere gebruik het.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.