REBELSE AROMA OP KOFFIEFONTEIN:

 

 Die eerste ding wat ‘n besoeker opval wanneer hy Koffiefontein binnery, is die reuse-koffiepot onder die dorp se naambord. ‘n Ent verder ry jy ook verby die muurpanele met die Italiaanse diktator Mussolini en die laaste Italiaanse koning, Emmanuel II. Dit is byna al wat oor is van die interneringskamp wat tydens die Tweede Wêreldoorlog op die dorp bestaan het. Toe die Italianers in Augustus 1941 teen die Geallieerdes oorlog verklaar het, het die polisie byna 1 000 Italianers en Suid-Afrikaners van Italiaanse afkoms in Suid-Afrika aangekeer. De Beers het destyds die mynkampongs op Koffiefontein en Jagersfontein beskikbaar gestel om as kampe aangewend te word. Die doel van die kamp was egter ook om Suid-Afrikaanse burgers, wat geweier het om Brittanje en die Geallieerde Magte in hulle stryd teen Duitsland te steun, of ook dié wat simpatie met die Duitse oorlogspoging getoon het, te interneer. Genl Jan Smuts het hiermee gepoog om ’n herhaling van die rebellie van 1914 teen die regering te voorkom.

 

Die Afrikaner se negatiewe reaksie op die Tweede Wêreldoorlog het afgespeel teen ‘n baie komplekse sameloop van sy geskiedenis, politiek en sosiale voorkeure. Ongelukkig was en is die persepsie nog steeds dat die Afrikaner deurgaans ‘n pro-Hitler, pro-Nazi en anti-Semitistiese siening gehandhaaf het en dat hulle ‘n oorwinning vir Duitsland aangehang het. Hoewel ‘n organisasie soos die Ossewabrandwag wel pro-Hitler, ens was, is die algemene siening oor die Afrikaner tov die Tweede Wêreldoorlog nie noodwendig altyd korrek nie.

 

Dit is ‘n historiese feit dat Afrikaners tot op daardie stadium ‘n swak verhouding met formele militêre strukture en uniforms gehad het. Dit was meer met Britse imperialisme en die gepaardgaande koloniale magte geassosieer gewees en was gevolglik in konflik met Afrikaner Nasionalisme en republikeinse aspirasies gewees. Toe die Unie van Suid-Afrika se weermag dus in 1912 gestig is, het Afrikaners dit tot ‘n mate ondersteun maar terselfdertyd ook ‘n beduidende antipatie daarmee getoon. Tog het die sterkste teenkanting teen die weermag as sulks in 1939 gekom toe die destydse Eerste Minister, Albert Hertzog, se oproep dat Suid-Afrika neutraal tydens die Twee Wêreldoorlog moes bly, in die slag gebly het toe die parlement Jan Smuts se oproep tot deelname ten gunste van die Geallieerde Magte bekragtig het.

 

Hoewel Smuts se toetrede tot die oorlog uit ‘n morele sowel as regsoogpunt waarskynlik korrek was, het die Afrikaner se weersin in die weermag tot nuwe historiese laagtepunte gedaal. Soldate is neerhalende name soos “khakies” en “rooilussies” toegesnou en dit was ‘n refleksie van die Britse soldate waarteen hulle in die Anglo Boere-oorlog geveg het. Hierdie afkeur het spoedig ‘n donker kant ook begin kry toe duisende Afrikaner mans lede van die pro-Nazi Ossewabrandwag (OB) geword het. Hoewel die OB aanvanklik ‘n kultuurorganisasie was, het sy militêre vleuel, die Stormjaers, regeringsinstellings begin saboteer om ‘n gedeelte van die weermag binnelandse besig te hou, eerder as wat hulle teen Duitsland kon gaan veg.

 

Smuts was gevolglik nie heeltemal verkeerd om militante OB-lede op Koffiefontein te interneer nie en die bekendste aangehoudenes was die latere Eerste Minister, Advokaat BJ Vorster, en die latere hoof van die Buro vir Staatsveiligheid, Generaal Hendrik van den Berg. Vorster het in 1979 na die omstrede Inligtingskandaal, waarby Van den Berg ook geïmpliseer was, as staatspresident van Suid-Afrika bedank.

 

Die interneringskamp by Koffiefontein het tydens die Tweede Wêreldoorlog op ‘n stadium 2 000 Italiaanse krygsgevangenes saam met 800 Afrikaners gehuisves. Een van die Italiaanse gevangenes, ’n man met die naam Facio, het portrette van Victor Emmanuel II, eerste koning van ’n verenigde Italië (1861) en Benito Mussolini, Italiaanse diktator aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog, op die mure van die eetsaal geskilder.

 

Hoewel die kamp onder bevel van kolonel JHJ van Rensburg was, is die daaglikse bestuur aan die kampleiding oorgelaat. ’n Huisvader was verantwoordelik vir elke hut waarin 16 mans gewoon het. Die dienswag was vir die kamporde verantwoordelik en het soos die polisie, kompleet met aanklagkantoor, gefunksioneer. Die kampkollege, of Boere-universiteit soos die geïnterneerdes dit genoem het, het geleenthede gebied vir verdere opleiding. Hulle kon kursusse in onder meer Italiaans, gevorderde Frans, snelskrif, boekhou, privaatreg en gimnastiek volg.

 

Dit was juis in die kampkollege wat die bekendste gevangene sy stempel afgedruk. Vorster was ’n lektor in privaatreg. Hyself het ook verskeie kursusse voltooi. Hy het ’n sertifikaat van verdienste in Duits ontvang, asook bywoningsertifikate vir genetika, sosiologie en filosofie. Die Boerekamp het uitstekend gefunksioneer. Die dissipline was goed en die inwoners het heelwat geleentheid gehad vir sport en ontspanning.

 

Dit is waarskynlik in hierdie ontspantye wat Fascio bogemelde twee skilderye in die eetsaal van die kampong gemaak het. Toe die myn ná die oorlog besluit het om die geboue te sloop het die destydse bestuurder, meneer WS Whitworth, besluit dat dié skilderye bewaar moes word. Hy het die muur aan die agterkant met yster versterk en onder sy toesig is die stukke muur, met die skilderye ongeskonde, verskuif na waar dit vandag nog saam met Koffiefontein se aromatiese omgewing waardeer kan word.

 

 

Bronne:

 

Koffiefontein – A Blend of Tradition and History

 

http://www.fak.org.za/vrystaatse-dorpe/xhariep/letsemeng-munisipaliteit/koffiefontein/

 

Afrikaners and the Second World War, Rodney Warwick, 06 March 2012 

 


Kommentaar

Een kommentaar op “STORIES VAN IN EN OM DIE VRYSTAAT (10)

  1. Ina Reyneke
    Ina Reyneke

    Hi Klippies, ek het die artikel oor die kamp te Koffiefontein by geniet. My oorlede vader was ook daar gevange gehou. Ek het skilderye van hom en die kamp geërf en vandaar my belangstelling. Ek sou graag die waarde van die skilderye wou kry. Het jy enige voorstelle? Die skilderye is deur mede gevangenesse geskilder. A J Lessing het die skildery oor die kamp gedoen en n ene Krantz die skildery van my vader.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.