Het jy al gesnuif? Nie daardie “dubble clutch” as jy verkoue het nie, maar daardie branderige tabakpoeier wat vanmelewe in die neus opgetrek is, dalk om die “kanale” oop te maak?

As ’n nie-roker was dit vir my as ’n jong man ’n ongemaklike ervaring om die eerste keer snuif te gebruik. Ek weet nie eers wat die spesifieke handelsmerk was nie!

Dit het só gebeur: Ek was saam met my kollegas van die SA Landbou-unie (nou Agri SA) onderweg na ’n boeredag toe. Saam met ons in die voertuig was Suid-Afrika se Mnr. Vleis van daardie jare: Oom Fanie van Rensburg.

Oom Fanie het sy vinger stewig op die pols van die vleisbedryf in SA gehad, en hy was ’n joernalis se droom. Ek verneem as hy by Vleissentraal (waar hy die hoofbestuurder was) in die gang af gestap het, het was die gang skoon: Niemand het durf waag om saam met hom in die gang te stap nie, en deure wat oopgegaan het, is vinnig weer saggies toegemaak . . . Jy het jou glo maar uit die voete gemaak! Die formidabele Oom Fanie was op sy dag die skipper van dié eens magtige onderneming, maar ook ook die voorsitter van die RPO, plus ander vleisorganisasies.

Oom Fanie was enige joernalis se droom: Op ’n kongres sou hy ’n saak puntsgewys en netjies opsom, veral as hy in die voorsitter se stoel was, sonder dat hy ’n aantekening iewers gemaak het. Hy het sy nota’s in die kop geskryf, en joernliste kon maar net wag vir sy opsomming agterna om die kruks van enige saak te verneem.

Oom Fanie het ook snuif gebruik, en dié dag onderweg na die boeredag toe, haal hy sy snuifblikkie uit en bied dit vriendelik aan ons ander reisgenote aan. “Nee dankie, Oom Fanie, ek snuif nie,” bely ek. Ag, verkeerde roep! Hy het skuins in die sitplek omgedraai en my aangegluur, en toe snuif ek maar! Met die gepaardgaande hoes en proes van ’n nuweling. En Oom Fanie het die nota seker in sy kop geskryf, en my daardie dag weer ’n paar snuiwe kom aanbied!

Oom Fanie het ’n snuif-meeloper gehad in die persoon van Piet Swart, direkteur van die SALU. En elke keer as ek by Baas Piet se kantoor moes gaan aanmeld om ’n nuusverklaring neer te pen, het hy óók sy blikkie snuif uitgehaal en ons het die ritueel gedoen. Ek dink hulle het my pogings seker baie geniet.

Laastens, snuif het ook sy helder en en dowwe kante: Op een van die nasionale vleiskongresse het Oom Fanie fors in die voorsitterstoel gesit, doer hoog op die verhoog. Die kongres was heerlik en ordelik aan die gang, en Oom Fanie het nota’s in sy kop geskryf. Toe haal hy die blikkie snuif uit en doen sy ding, maar sonder om die mikrofoon af te skakel. Dit het oor die luidsprekers deur die saal weerggalm, en jy kon sien hoe bewe van die manne se skouers soos hulle hul lagbuie probeer onderduk. Maar almal het gemaak of hulle niks hoor nie: Dit was immers Oom Fanie!

Ons skakelbestuurder het toe agter oom Fanie se stoel omgestap iets in sy oor gefluister. Dis toe Oom Fanie seker wéér ’n nota gemaak het, want die res van die kongres het stigtelik, en stil, verloop.

* Dié skrywe is nie bedoel om Oom Fanie enigsens in ‘n swak lig te stel nie, inteendeel, hy was een van die grootste geeste wat seker nóg in die georganiseerde landbou gedien het. En ek wonder nou hoe ‘n jong Fanie van Rensburg die hedendaagse landbou-omgewing, polities gespoke, op koers sou kry en hou. Ek sien in my verbeelding al hoe Oom Fanie vir Gwede Mantashe nader, onverbiddelik met die blikkie snuif in die hand en sy nota’s in die kop! Hulle sou mekaar sekerlik vind!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.