In Maart is die omstrede mnr. Nosey Pieterse deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof beveel om lasterlike uitlatings te skrap wat hy op sy Facebook-blad oor ‘n boerdery in die Paarl gemaak het. https://hulp.landbou.com/nuus/nosey-moet-laster-op-facebook-skrap
Ja, ’n mens kan skryf wat jy wil, maar dan moet jy pa staan daarvoor. Landbou.com kry soms ook kommentaar wat ons nie kan publiseer nie. Juis oor die dinge wat mense skryf. Want as dit in ’n hof as lasterlik geag word, is die skrywer én Landbouweekblad in die knyp: Veral as ’n hof sou beveel dat vergoeding vir laster betaalbaar is.
Op jou eie platform kan jy skryf wat jy wil, maar dit sal nie oral as kommentaar op webwerwe toegelaat word nie. Toegegee, op sommige nuuswebwerwe word kommentaar nie nagesien of vooraf goedgekeur nie, maar ’n mens moet ingeteken wees om te kan deelneem. By landbou.com verkies ons om alle kommentaar na te gaan. Niemand hier sien kans, of het die geld, vir moontlike hofsake oor laster nie. En ja, hier kom soms rillers aan!
’n Mens is soms woedend of erg ontsteld oor iets wat gebeur het, soos die sinlose en dikwels wrede moorde op boere. Maar growwe beskuldigings op die openbare sosiale platorms, soos Facebook en Twitter, kan jou inhaal. Die sosiale media het boonop ’n lang geheue, en soos in die Oscar Pretorius-hofsaak, is sy en Reeva Steenkamp se skrywes aan mekaar ten aanskoue van die ganse wêreld uitgehaal, vertoon en redelik uitgeryg.
Wat van jou reg op die vryheid van spraak, kan jy vra? Ja, jy kan skryf wat jy wil, maar dan moet jy dit op jou eie platform doen. En pa staan daarvoor.
Ek stem een-honderd persent saam met die outeur. Soms is daar ‘n modereerder wat inskrywings van spesifieke e-pos adresse kan blokkeer. Voorbeelde van sulke besprekinglyste is die wat deur byvoorbeeld ‘ListServ’ sagteware geloop word. By party koerante moet jy al reeds ‘n adres/naam kombinasie he voordat jy kan kommentaar lewer. Ek het egter darem nie ‘n profiel op een van die sosiale media. Ten minste sal ek pa kan staan vir wat ek nou hier skryf.
Netjies uiteengesit Jan – daar is paar “politici” ook wat hierdie les nog sal leer – soos een wat seg boere is vrotappels sonder om die name te noem – dalk moet die Paarl Boerdery Nosey kap met so kwartmiljoen rans eis – sal ons sien hoe hy rondspring – kyk nou maar arme malema – hy raas en skrou politiek dat jy hom waar hoor , maar intussen word hy sivielregtelik van allerlei kante met eise bestook