Op die krieketveld spot mense soms dat ’n krieketbal ’n spesifiek veldwerker “volg”. Dis gewoonlik nadat die veldwerker ‘n vangskoot verbrou het. Die kaptein probeer soms om dié veldwerker as ‘t ware weg te steek, maar die bal word gereeld in sy rigting geslaan.

Dit lyk soms asof dié veldwerker met ons Ministers van Landbou vergelyk kan word. Die bal (die landbou in dié geval) volg haar/hom oral op die veld, maar nou ja, kyk na die telbord.

Hoekom kry die landbou sulke omstrede Ministers? Minister Tina was, soos die spreekwoord sê, ’n legende in haar eie leeftyd: Om die verkeerde redes. Haar voorganger, me. Lulu Zingwana, was self ’n omstrede figuur in die landbou.

Maar kyk, mnr. Senzeni Zokwana het binne die eerste paar weke ná sy aanstelling die kollig eintlik gesteel: Ook om die verkeerde redes. Hy betaal sy veewagter net R26 per dag, en dié man pas sewe dae van die week die minister se beeste op, sonder ’n rusdag. Selfs die vakbond Cosatu het rooi gesien toe dié berigte verskyn, en Zokwana (’n lid van die SA Kommunistiese Party) dit nie ontken nie. Agri SA meen minister Zok moet ’n billike kans gegun word om homself te bewys. Dis reg, maar sjoe, as hy hom oënskynlik nie eers aan Cosatu se tirade steur nie, wat hou dit vir die kommersiële boerdery in?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.