As ek baie sukkel sal ek dalk foto’s kan neem en stuur, maar die nuwe tegnologie was nog nooit my sterkpunt nie. Ek gaan dus my kraalopset probeer verduidelik.

Stel jou ‘n T-vorm voor. Die bokant van die T bestaan uit vier klein kraaltjies (2m x 2m) met twee groter krale (3m x 4m) voor hulle.
Weerskante van die T is twee groot opvangkrale (6m x 15m).
Die lang been van die T is die drukgang. Weerskante van die drukgang is twee uitkeerkrale wat uit die drukgang uitkeer en verbind is met die twee opvangkrale.
Op die punt van die drukgang is die laaibank.
Die skaal kom aan die bopunt van die drukgang.

1. Skape word in die opvangkraal gejaag en dan 6 of 7 per slag in die vier klein kraaltjies. Hier kan jy maklik man-alleen bekke kyk, grootuiers of lammerooie uithaal, lammers uithaal volgens ouderdom, geslag ens.
2. Hierdie groepies diere kan nou verder in die drukgang gewerk word indien nodig, bv. weeg ‘n sekere groep, doseer ‘n sekere groep, ent of spuit, dip, ens.
3. Ek hou ook nie daarvan om met dragtige diere in ‘n drukgang te werk nie, en die klein kraaltjies werk uitstekend hiervoor.

Ek en een werker of my seun hanteer op elke plaas die hele plaas se diere (omtrent so 600) op een dag. Dit sluit in die identifisering van stoetlammers, uitkeer van tweelinge, ens.

Doe Run (drexsa@iafrica.com)

9 Maart 2006


Kommentaar

Een kommentaar op “Kraalopset verduidelik

  1. Butch
    Butch

    Kan Doe Run nie maar vir ons ‘n plannetjie laat kry nie? ek het net met my skets gevorder tot by die 2 groter krale voor (3×4), toe lyk my skets nie meer soos ‘n T nie, en toe verdwaal ek.Ek sal dit vreeslik waardeer as ek kan sien hoe die hele opset op ‘n plannetjie lyk. Asb Doe Run!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.