In die wolbedryf sit mense regop as jy die naam Ian Rutherford noem. Ja, Ian is ‘n legende in dié unieke bedryf, wat gekenmerk word deur sy josefskleed van karakters en intriges.

Ian is ‘n Nieu-Seelandse skeerinstrukteur wat in 1981 saam met Chips Reid uit Kiwiland na Suid-Afrika verhuis het om die skeerbedryf hier se kompas te kom instel. Dié twee Kiwi’s het met hul onverbloemde ywer vir harde, fisiese werk en liefde vir die goue vag ‘n ereplek in talle wolboere se verwysingsraamwerke ingeneem.

Maar dié era is verby: Ian en Chips is in 1998 terug Nieu-Seeland toe. Chips is verlede jaar in die ouderdom van 86 jaar oorlede.

Ian het toe vyf jaar vir Sunbeam in Australië gewerk in die ontwikkeling van nuwe produkte, en ook met gehalteprobleme wat dié vlagskip-maatskappy ondervind het.

Ian en sy vrou, Phil, het daarna na hul geboorteland teruggkeer en ‘n hotel gekoop en bedryf. Dié is twee jaar gelede verkoop en omdat Ian sekerlik nie kan stilsit nie, is hy en Phil aan ’t huis bou op die kusdorpie, Picton, op NZ se Noord-Eiland.

Glo dit as jy wil, Ian (72) het die moderne tegnologie met daardie groot, sterk hande en fris vingers van hom bemeester, en ons ruil nou en dan e-posse uit!

Ian het die afgelope week weer van hom laat hoor, met ‘n foutloos getikte boodskap wat aan my en aan Danie Coetzee, Landbou.com se bekendste boereblogger, wat 20 jaar gelede Paraguay toe getrek het. Ian en Chips het vir Danie, toe dié nog in die distrik Smithfield geboer het, ‘n skeerhuis gebou. Verskeie wol- en skeerkursusse is destyds ook op Danie se plaas aangebied.

Ian skryf dat hy en Phil hopelik teen Kersfees in hul nuwe huis op Piction sal intrek. En steeds die man met die groot hart en liefde vir SA, skryf hy: “Skeeropleiding in Suid-Afrika gaan voort onder Izak Klopper en die standaard van skeer word geag as van die beste ter wêreld. Ek is baie trots op die prestasies van ons werk in Suid-Afrika en ek en Chips se nalatenskap.”

Ons ook, Ian!

* Ian se e-pos-adres is ianru@xtra.co.nz


Kommentaar

Kommentaar (2) “Ian Rutherford – skeerlegende

  1. Eleanore
    Eleanore

    Word ek sommer nou hartseer toe ek hierdie lees. Ek was in die laerskool toe Ian (Oom vir ons daardie tyd) jaar na jaar ‘n paar weke op ‘n slag by ons gebly het gedurende die skeertyd (op my pa,Danie, se plaas, Vaalspruit). Skeertyd was ‘n hoogtepunt in die plaaslewe daardie tyd.

  2. Danie C

    Jan, ja dit was ´n groot voorreg om bevriend te wees met daardie legendariese figure en ook ´n groot lekkerte om weer kontak met Ian te kon maak. Sal nooit die droeë humor van Chips vergeet nie. Dankie


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.