Ons moet net versigtig wees om ‘n paar goed nie uit die oog te verloor en onsself daarmee te probeer verontskuldig nie. Ek het in die verlede al geskryf oor die staat se onvermoë om hierdie proses (oor grondverdeling) te help/bespoedig. Skuif jou denke weg van wat jy moontlik kan verloor na wat jy moontlik kan wen. Kom ons stel ons die ergste scenario voor: Teen 2015 kan geen boerdery of landboubesigheid sy produkte bemark, as hy nie voldoen aan die vereiste van swart bemagtiging nie. Wat dan?

Ons moenie dat ons vrese ons denke beperk nie. Ná 1994 was daar genoeg bewyse van geleenthede wat in hierdie land ontstaan het, en wat baie van ons gebruik het om ‘n trappie of twee hoër te klim. Die hekke wat toe vir ons gesluit is, het ons net meer innoverend laat optree en ons as boere het weer bewys dat ons van die beste stoffasie gemaak is.

Nou is ons in die landbou wéér in daardie situasie. En om van dag tot dag net te kla oor die beperkings wat ons in die gesig staar, sal geen problem oplos nie. Die ander problem is ook dat ons tá sentimenteel dink oor ons grond, boerderye, ens. Meeste van ons se tyd is klaar verby, ouens. Dink aan ‘n manier om iets vir jou seun of dogter na te laat vir die toekoms. Jy kan tog niks op hierdie aarde met jou saamvat nie. En as dit beteken dat jy dalk jou lewenstandaard ‘n bietjie afwaarts moet aanpas om iets te behou vir die nageslag, is die opoffering dan nie die moeite werd nie? Ieder en elk wil tog nie sy kind/kinders sien sukkel soos baie van ons maar gesukkel het nie.

Laat die amptelike organisasies die bekgevegte baklei. Ons ouens op die grond moet met die werkbare oplossings vorendag kom en daarmee saamleef. En elke streek en boerderytipe se omstandighede verskil. Daarom is daar nie ‘n klinkklare formule wat ons almal kan gaan toepas nie. Elkeen van ons moet maar op sy manier probeer om ‘n werkbare oplossing te kry.

Dink julle werklik die staat gaan iets doen aan ‘n boerdery waar daar reeds een of meer swart werkers is wat voordeel trek uit een of ander ware vorm van bemagtiging?

Doe Run (drexsa@iafrica.com)

29 Maart 2006


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.