Gister kom ’n heerlike verrassing na my kant toe: ’n Oproep. Nie sommer net ’n oproep nie – een uit  hogere geledere.

Die aanloop daarvoor is: By die Landbouskrywers SA se Boer en Landboukundige van die Jaar-toekennings op 8 November 2013, net buite Pretoria, kruis my pad met dié van mnr. Jannie Struis van Hopetown, die Noord-Kaap se wenner as die Nuwe Toetreder tot die Kommersiële Landbou.

Struis en sy mentor, mnr. Johan van der Walt, ’n bekende veekundige, sit neffens ons en ons raak heerlik aan die gesels. Toe kort video’s van al die kandidate vir die toekennings aan die gaste vertoon word, blyk dit dat Jannie se boerdery spesiaal is. Hy huur 1200 ha van die dorpsmeent vir sy beesboerdery. Een van sy merkwaardige prestasies is dat hy met sy 58 koeie en twee bulle ’n kalfpersentasie van 99 behaal. En hy sien trots om na sy veld. (Sien ook artikel oor dié boerdery in LBW van 29 November 2013.)

Die volgende oggend loop ons mekaar weer raak, en Struis vertel dat hy sy boerdery graag wil uitbrei, maar hy kry nie toegang tot die LUR vir landbou in die Noord-Kaap nie. Hy wil hulp van owerheidsweë vra.

Terug in Kaapstad, met Struis se verhaal en sy telefoonnommer in die hand, probeer ek om iemand te vind wat bereid sou wees om net na Jannie te luister. Alles tevergeefs, en werklik, my versoek het ’n paar draaie in die hoogste kantoor in die landbou gemaak.

Intussen bel ek Jannie ’n paar keer, met die hoop dat iemand dalk al met hóm gesels het. Niks.

Op Dinsdag, 18 Maart, gesels ek weer met Jannie, wat vertel van die heerlike reën wat hy op die plaas gehad het. Hy vertel ook van ’n man wat kom kalwers koop het en wat opgemerk het hoe goed die toestand van die veld op die plaas is. Maar nee, iemand het hom nog gekontak nie.

Toe stuur ek maar via die partylyne ‘n boodskap aan dr. Pieter Mulder, vir raad. Binne ’n uur lui die telefoon. “Hallo, dis Pieter Mulder”, sê die vriendelike stem. Mulder het aangedui dat ek by die verkeerde departement aangeklop het om hulp, maar dat hy vir Jannie Struis gaan bel, met raad om by die korrekte plek aan te klop.

* Nes ’n mens in dié mooi land wil dink aan moedeloos raak, kry jy so ‘n opkikker! Dankie, dr. Pieter.

Foto hieronder: Johan van der Walt en Jannie Struis. Foto: LBW


Kommentaar

Kommentaar (2) “Dis lekker om dankie te sê

  1. Brakanjan
    Brakanjan

    Baie dankie vir hierdie opbeurende artikel. Dis baie mooi en geluk aan dr. Pieter Mulder. Dankie weereens, Janbez.

  2. elize
    elize

    Graag wil ek ook sommer dankie sê aan Flip van River North, Noordwes, wat bereid was om ons gras vir ons te sny, ons het geen plaas implemente nie en ons gras was baie lank, met hulp van Flip kan ons nou darem die huise van die pad afsien. Flip baie baie dankie, ons waardeer dit opreg.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.