Boere se hande trek gereeld ’n mens se aandag. Eerstens is dit die stewige handdruk wanneer julle mekaar groet. Dit sê al iets oor die man aan die ander kant van dié hand. En dan kyk ek na die hande.

Dan, met verloop van ’n gesprek, as die man boonop met sy hande praat, kom jy meer oor jou gespreksgenoot te wete. Druk hy hom goed uit deur met sy hande te beduide, soms driftig? (Ek is maar net ’n goeie luisteraar, wat graag gesprekke deur manne wat weet waarvan hulle praat, volg.)

Later merk jy op of die boer se hande gehawend is, of nie. Soms weet jy dit dadelik met die groetslag. My skoonpa, ’n afgetrede boer, het sulke hande. Vol knoetse en letsels, van harde handewerk, van kleins af. Hy vertel hoe hy sakke koring gedra het, iets wat min van vandag se jong boere daardie geslag sal kan nadoen. Ek beslis nie.

Maar daardie hande kan ook saggies aanraak, soos wanneer sy dogter, self ma van drie twintigerjariges, sommer op sy skoot gaan sit en hom net om die hals val. Dan raak daardie harde hande baie saggies. Met ’n groot glimlag.

Daardie hande kan ook enigiets regmaak – al is dit soms met tang en draad. En gewoonlik gaan dit gepaard met nóg ’n letsel en ’n strook BandAid. Ja, dié soort van boer is, soos hulle opEngels sal sê, ’n “hands-on boer.”

Jy kry ook ander boerehande; wat safter is. Dis diégene wat goeie bestuurders is, wat in vandag se boerdery-omgewing noodsaaklik is om kop bo water te hou. Niks fout daarmee nie. Tye het verander.

Dan die manne aan die ander kant van die spektrum: Die manne wat gereeld wol hanteer en die lanolien is heeltyd met jou. ‘n Wolwaardeerder het eendag gesê sy hande is só sag dat hy sommer vir niks seerkry nie.

Maar dis almal hande wat hulself sal flenters werk vir huis en haard! Vat vyf!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.