R1 miljard-droogtehulp wag op SA boere

Deur Liezl Vercueil
29 Junie 2016
R1 miljard se droogtehulpfondse is deur Global Association of Billionaires and Millionaires vir Suid-Afrikaanse boere ingesamel.

Die groep Global Association of Billionaires and Millionaires (GABM) sê hulle het $70 miljoen, oftewel sowat R1 miljard, as droogtehulp vir Suid-Afrikaanse boere ingesamel.

Die doel van die projek is om duisende kommersiële plaaslike boere teen 17 Augustus vanjaar met korttermyn-noodfondse by te staan. Die projek waardeur dié reuse-skenking beskikbaar gemaak word is deur mnr. Mark Paulsmeier, ’n Suid-Afrikaner en stigterslid asook voormalige voorsitter van die GABM, begin en heet die SA Drought Relief Project.

Die GABM het Agri SA en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye genader om die sukses van die SA Drought Relief Project te help verseker. Mnr. Dennis Arnold, voorsitter van die GABM, sê dié twee groepe se ondersteuning en deelname is uiters belangrik.

Daar is egter opskortende voorwaardes verbonde waarsonder dié geld nie beskikbaar gemaak sal word nie. Dit behels dat die Suid-Afrikaanse Regering teen die einde van die werksdag van 6 Julie vanjaar ’n amptelike brief van bevestiging aan die GABM verskaf.

Daarin moet die Regering onderneem om die SA Drought Relief Project ten volle te ondersteun en die GABM se voorwaardes, soos aangedui, onvoorwaardelik te aanvaar. Die Regering moet aan alle toepaslike regulatoriese owerhede bevestig dat daar geen wetlike of ander besware is teen die GABM se skenking aan Suid-Afrikaners nie. Die SA Inkomstediens moet ook erken dat die skenking van nie-Suid-Afrikaanse burgers afkomstig is en dat sulke skenkings ingevolge Suid-Afrika se belastingwetgewing belastingvry is vir die ontvangers.

Agri SA moet ook teen die einde van die werksdag van 6 Julie vanjaar ’n amptelike brief van bevestiging aan die GABM verskaf waarin hy onder meer aandui dat hy die GABM se voorwaardes onvoorwaardelik aanvaar.

Die GABM sê die totale bedrag sal aan kommersiële boere as noodhulpgeld verskaf word en dat die groep geen geld aan enige organisasie or regeringsamptenaar sal betaal nie.

Die volgende doelwitte is voor oë: Om vier tot ses maande se voer, vervoer ingesluit, te koop vir vee wat noodsaaklik is vir boerderybedrywighede. Om saad, bemesting en ander produksiemiddele vir die komende planttyd te bekom. Om plaaswerkers se salarisse te betaal. Om bedryfskoste wat noodsaaklik is vir boerderybedrywighede te finansier. Om broodnodige lewensmiddele, soos kos en brandstof, te koop om te keer dat boere die bedryf verlaat.

Die geld mag nie vir medium- tot lang termynkoste gebruik word nie en mag ook nie gebruik word om lenings aan Suid-Afrikaanse finansiële instellings af te betaal nie.

“Agri SA het met verbasing kennis geneem van ’n skrywe wat skynbaar op LinkedIn gepubliseer is en daarna op sosiale media versprei is oor ’n groepering, die Global Association of Billionaires and Millionaires, wat na bewering ’n miljard rand vir droogtehulp vir boere in Suid-Afrika ingesamel het.

Agri SA het ’n droogteramphulpfonds en verskeie groot maatskappye het reeds donasies aan hierdie fonds gemaak. Die Global Association of Billionaires and Millionaires is welkom om ook enige fondse vir die droogte in hierdie fonds in te betaal, het Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA in Pretoria gesê. Agri SA se werkswyse in die verband is dat waar organisasies voorwaardes vir skenkings stel, word daar in gesprek getree en ooreenkomste gesluit.

“Agri SA kan nie reageer op berigte in die sosiale media of voorwaardes nakom waaroor daar nie onderhandel is nie. Enige organisasie wat wil bydra tot die droogtehulpfonds is welkom om Agri SA direk te kontak. Die fondse word op verantwoordelike wyse bestuur en deursigtige rekords gehou van spandering,” het Van der Rheede bygevoeg.

Lees die volledige brief op LinkedIn.

Wie is GABM?
Die GABM is ’n groep van ongeveer 300 000 welgestelde en invloedryke individue en korporatiewe besluitnemers wat toegewyd is aan filantropiese optrede, luidens die groep se Facebook-blad. Paulsmeier het GABM se bestuursraad genader met ’n versoek om ’n brief onder alle lede te sirkuleer waarin hy versoek dat hulle hom bystaan om $70 miljoen in te samel vir sy inisiatief, luidens ’n brief van mnr. Dennis Arnold, president van GABM. GABM-lede het met oorgawe gereageer en die nodige R1 miljard is ingesamel, sê hy.

* Luister hieronder na ‘n onderhoud wat Sakkie van der Schyff van KSFM Koepel Stereo, in die Vredefort-koepel, met die filantroop, mnr. Mark Paulsmeier, gevoer het.


Kommentaar

Kommentaar (7) “R1 miljard-droogtehulp wag op SA boere

  1. Magiel Jones
    Magiel Jones

    Baie dankie aan skenkers hulp sal verwelkom word

  2. Fanie Brink
    Fanie Brink

    Iets se vir my dat Agri SA nie die hulp sonder hulle voorwaardes wil aanvaar nie wat basies daarop neerkom dat ‘n groot deel daarvan aan onekonomiese, onvolhoubare en onkundige kleinboere uitgedeel moet word!

  3. Matt Heyns
    Matt Heyns

    Ek vertrou niemand meer nie.

  4. Paul
    Paul

    Enigiemand wat hierdeur gevang word, verdien om daardeur gevang te wees.
    Dis so ooglopend nonsens dat dit eintlik lagwekkend is. Hier gaan desperate mense met ‘n slap riem gevang word. As jy net bietjie Google oor hierdie ou en die kastige “groep” rykes, is dit duidelik wat dit eintlik is…

  5. Paul
    Paul

    Die omroeper is vreeslik naïef as hy dink die “self promotion” oor die kastige “GABM” op die internet is die waarheid.

  6. namaseun
    namaseun

    Matt heyns jy moet dai negatiewe uitlatings van jou los , j is selfsugtig , die droogte raak almal ongeag of jy n opkomende boer , bestansboer ,tradisionele boer, kommersiele boer is wit of swartboer is almal het hulp nodig , so los jo opmerkings dis afbreukend , die verwysing wat jy maak van onekonomies,onvolhoubaar en onnodige kleinboere is n klap in die gesig van die klein boere, en voorheenbenadelde gemeenskappe

  7. Chris
    Chris

    In Rapport vandag:

    Nog ‘n hartseerverhaal van hoe mense die droogtesituasie in die land vir eie gewin wil misbruik. Allerlei swendelaars en ‘Fly by night’ organisasies is met allerlei skemas besig.

    Die sowat R1 miljard wat ’n internasionale filantropiese organisasie aan droogtegeteisterde plaaslike boere sou skenk, is niks meer as ’n foefie nie.

    Mark Paulsmeier, die sogenaamde filantroop, is ’n gesiglose swendelaar wat geen bewys kan lewer vir die grandiose prestasies van die maatskappye en organisasie waarby hy betrokke is nie.

    Die $70 miljoen (sowat R1 miljard) wat aan boere geskenk sou word, is nie regte geld nie, maar ’n digitale “kripto-geldeenheid” waarvan haas niemand al ooit gehoor het nie.

    Paulsmeier, skepper van die Global Association of Billionaires and Millionaires (GABM), het die Suid-Afrikaanse regering en AgriSA die afgelope week in sosiale media daarvan beskuldig dat hulle GABM se beoogde droogtehulpskenking gekelder het.

    Nuus oor GABM se “SA Drought Relief Project” is op 27 Junie op die sakenetwerk LinkedIn gebreek, waarna landboupublikasies en plaaslike radiostasies daaroor berig het.

    Paulsmeier het die verklaring op LinkedIn aan Senzeni Zokwana, minister van landbou, en Christo van der Rheede van AgriSA gerig.

    Die beoogde skenking sou luidens die verklaring $70 miljoen behels om boere met die aankoop van voer, sade en bemesting te help en hulle in staat te stel om plaaswerkers se lone te betaal.

    Die skenking was egter onderhewig aan verskeie voorwaardes en goedkeuring van die departement, AgriSA, die Reserwebank en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

    Sowel die Reserwebank as die SAID het aan Rapport gesê hulle weet niks van Paulsmeier of die GABM nie.

    Paulsmeier wou onder meer hê boere wat droogtehulp nodig het, moet hul kontakbesonderhede op die GABM se Facebook-blad deel en dat die Reserwebank moes verklaar dat hy digitale kripto-geldeenhede soos die SNG- globale dollar, wat vir die skenking gebruik sou word, nie reguleer nie.

    Sperdatums van 6 en 7 Julie is aan hierdie organisasies gestel om die goedkeurings te bevestig.

    Snuf in die neus

    AgriSA het snuf in die neus gekry. “Ons (AgriSA) kry baie te doen met organisasies wat vir ons geld skenk en filantropiese organisasies stel nie gewoonlik sperdatums nie, want hulle wil mense regtig help.

    “As daar ’n geskil oor ’n skenking ontstaan, sal hulle dit wil oplos,” sê Omri van Zyl, uitvoerende hoof van AgriSA.

    “Ons het vir die GABM gevra vir ’n jaarverslag en wie sy ouditeurs en bankiers is, want as die GABM is wie hy beweer hy is, sal hy geouditeerde finansiële jaarverslae publiseer,” sê Van Zyl.

    Die Bill & Melinda Gates-stigting, USAid, die Ford-stigting en die Ikea-stigting tel onder filantropiese organisasies wat hul state publiseer.

    Maar die GABM, wat volgens sy webwerf ’n leidende organisasie van omtrent 300 000 welvarende individue of korporasies is, publiseer geen finansiële verslae aanlyn nie.

    “Dit is nie die eerste keer dat ons ’n organisasie vir jaarverslae vra nie. Ons moet aan ons ouditeurs kan verduidelik met wie ons sake doen en ons wil nie ’n situasie hê waar ons vir boere iets belowe wat nie moontlik is nie,” sê Van Zyl.

    Dé dollars bestaan nie

    Ook die “SNG- globale dollar” is waarskynlik ’n verneukspul, sê Werner van Rooyen, hoof van sakeontwikkeling van BitX, ’n internasionale maatskappy wat mense help om die kripto-geldeenheid bitcoin te verhandel en verlede jaar ’n R50 miljoen-belegging van Naspers, Rapport se moedermaatskappy, gekry het.

    “En sover ek kon uitvind, bestaan daar nie ’n mark daarvoor nie,” sê Van Rooyen.

    Luidens die LinkedIn-blad van Summit Network Group, wat blykbaar SNG-dollar uitreik, is SNG-dollar die gewildste digitale geldeenheid ter wêreld met ’n markwaarde in Januarie 2015 van $155 miljard – toe 25 keer soveel as dié van Bitcoin.

    Digitale kripto-geldeenhede het nes gewone geldeenhede wisselkoerse (ruilwaardes) wat in ’n vrye mark deur vraag en aanbod bepaal word, sê Van Rooyen.

    Op Coinmarketcap.com word 656 kripto-geldeenhede se wisselkoerse en markwaardes gelys. SNG-dollar is nie een daarvan nie.

    Van Rooyen sê daar is deesdae mense wat digitale geldeenhede as “pomp-en-stort-skemas” gebruik.

    Hy sê swendelaars stoot die prys van ’n waardelose aandeel deur bemarking op, koop ’n groot blok van dié aandele teen die lae prys en verkoop dit teen ’n wins. Ander beleggers word dan met waardelose aandele gelaat.

    Nog swendelary

    Die swendelary eindig nie hier nie. Talle maatskappye of organisasies waarmee Paulsmeier verbind word, soos die GABM, International Business Finance Corporation (IBFC), Callister International of Summit Network Group, is klaarblyklik ook net leë doppe.

    Geen inligting oor hulle is op enige gerekende aanlyn databasis beskikbaar nie.

    Die mense wat hierdie ondernemings bestuur, soos Dennis Arnold (GABM), Simon Taylor (Summit) en Pascal Fischer (IBFC), is ewe gesigloos: Geen foto’s of inligting oor hul vorige werkgewers is te kry nie.

    Die enigste bron van nuusberigte oor hierdie maatskappye en mense is die webblad “International Business News Network (IBNN)”, wat slegs mediaverklarings van bogenoemde organisasies uitreik.

    Dit was in die verlede slegs IBNN wat berig het oor skenkings wat GABM kwansuis gedoen het, soos aan slagoffers van die orkaan Katrina in 2005 en die Japan-aardbewings in 2011.

    Wat sê Paulsmeier?

    Rapport het Mark Paulsmeier, skepper van die Global Association of Billionaires and Millionaires (GABM), Donderdag telefonies opgespoor.

    Volgens Paulsmeier was dit nog nooit vir filantropiese skenkers nodig om hul finansiële verslae te publiseer nie.

    “Met respek praat jy vanuit ’n posisie van onkunde, want dis nie hoe ons bedryf werk nie,” het hy aan Rapport gesê.

    Gevra waarom die GABM met ’n kripto-geldeenheid eerder as normale geld werk, het Pauls­meier gesê: “Die internasionale bankstelsel is lomp, onbetroubaar en duur. Daar is niks sinisters daaraan nie. Baie banke gaan ook kripto-geldeenhede begin gebruik.”

    Gevra waarom geen onafhanklike inligting oor sy organisasies beskikbaar is nie en ook geen foto’s van die base nie, het Paulsmeier ongemaklik begin klink en gesê: “Ek verskil van jou. Ek is ’n private persoon en daarom is daar nie foto’s van my nie. As jy regtig met my wil praat, kan jy my kom sien, maar ek het nie meer tyd vir jou strontpraatjies nie.”

    Toe beëindig hy die oproep.

    Paulsmeier se vorige bogpraatjies

    Die “SNG- globale dollar”, die “geldeenheid” waarin GABM kwansuis sy droogtehulp wou gee, sou in rande omgeskakel moes word deur “Camrey Associates”, wat geen webwerf het nie en van wie Mark Pauls­meier beweer David Cameron, voormalige eerste minister van Brittanje, ’n vennoot is.

    Paulsmeier het in 2013 beweer hy was die slagoffer van ’n sindikaat wat die seksdade van gaste by Sun City verfilm en as pornografie verkoop het. Sun International, wat Sun City besit, het in ’n verklaring gesê hulle glo dit is ’n poging om die groep af te pers vir geld.

    In 2005 het Pulse Communica­tion, wat met Paulsmeier verbind word, beweer dat Paulsmeier Inc. Group ’n £10 miljard-oorname van die Britse supermarkgroep Marks & Spencer (M&S) fasiliteer. Die nuus het gelei tot ’n styging in M&S se aandeelprys. The Guardian en die Financial Times het die verklaring destyds ’n “poets” genoem en na Paulsmeier as “waansinnig” verwys.

    In 2011 is Paulsmeier volgens sy profiel op Who’s Who aangewys as die internasionale filantroop van die jaar. Dié toekenning is egter gedoen deur Callister International, wat saam met die GABM in die stal van Summit Network Group is. Die enigste nuusberig oor sy “prestasie” is op International Business News Network gedra.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels