Vra vir Faffa

Wes-Nyl virusinfeksie in perde

Vraag

My perd het senuweesimptome. Daar is tans baie muskiete en ek het gehoor dat hulle Wes-Nylsiektevirus kan oordra. Ek soek meer inligting oor die siekte.

Antwoord

Wes-Nyl virusinfeksie  (WNV) is ‘n muskietgedraagde siekte van diere en mense. Die virus was die eerste keer geïsoleer in die Wes-Nyldistrik in Uganda in 1937. In Suid-Afrika is die grootste menslike epidemie aangeteken in 1974. Sedert die middel 1990’s kom uitbreke gelyktydig in perde en mense voor soos bv. in Romenië, Morokko, Tunisië, Italië, Rusland, VSA , Israel, Frankryk en Kanada aangeteken.

Die virus is ‘n flavivirus wat hoofsaaklik sirkuleer tussen verskillende muskietspesies en wilde voëls wat  in ‘n spesifieke geografiese gebied voorkom. Migrerende voëls speel ‘n groot rol in die verspreiding van die siekte. In gebiede met gematigde temperatuur kom uitbreke van die siekte veral voor gedurende laat somer en vroeë herfs wanneer groot konsentrasies van migrerende voëls en muskietpopulasies gelyktydig voorkom.

Teenliggame van WNV is gevind in mense, ‘n wye reeks van gedomestikeerde voëls, wilde soogdiere soos lemurs, chimpansees, knaagdiere, vlermuise, kamele, perde, muile, donkies, bokke, beeste, waterbuffels, skape en varke. Voëls word beskou as die primêre bron waar virusvermeerdering plaasvind en waar muskiete dan besmet raak as hulle op die voëls voed. Kamele, skape, bokke en honde blyk nie klinies siek te word as hulle met die virus besmet raak nie.

Kliniese tekens in perde van WNV

Ongeveer 10% van perde wys kliniese tekens ongeveer 3 tot 15 dae nadat hulle met die virus besmet is.  Die volgende siektetekens mag voorkom:

  • Koors en tekens soortgelyk aan griep
  • Verlies aan aptyt
  • Depressief en lusteloos
  • Kan nie sluk nie
  • Gesigsverlies
  • Stoot met kop en kanteling
  • Wankel of struikel
  • Spierswakheid en sametrekking
  • Doellose beweging of loop in sirkels
  • Gedeeltelike verlamming
  • Onvermoë om op te staan sonder hulp
  • Konvulsies
  • Koma

Diagnose

Kliniese tekens is die eerste aanduiding van die siekte en word bevestig deur virusisolasie uit die brein, bloed en serebrospinale vloeistof. Ander serologiese toetse, wat kan help om die siekte te bevestig, word ook in die laboratorium gedoen.

Differensiële diagnoses

Moontlike siektes waarmee WNV verwar kan word, is: hondsdolheid, breinontsteking veroorsaak deur alfavirusse ( Oos-, Wes- en Venezuela  breinontsteking), breinaantasting veroorsaak deur perde herpes virus 1, Bornasiekte, tetanus, lamsiekte, swamvergiftiging veroorsaak deur Fusarium moniliforme, asook veskeie plantvergiftigings soos bv. Zygadenus en Solanum spesies.

Behandeling

Die siekte word deur ‘n virus veroorsaak en daar is dus geen behandeling beskikbaar nie. Perde sal teenliggaampies teen die siekte produseer en mag milde gevalle van die siekte oorkom. Dit is egter belangrik dat jou veearts ondersteunende behandeling vir meer ernstige gevalle gee.

Herstel van kliniese gevalle mag maande neem en diere mag selfs permanente skade aan die sentrale senuweestelsel opdoen.

Voorkoming

Daar is entstowwe beskikbaar om die siekte in perde te voorkom:

Proteq West Nile TM (G4025, Merial) is ‘n lewende vektorentstof. Die entstof kan vanaf 5 maande ouderdom vir perde gegee word en dit sal die aantal perde wat die virus sirkuleer, verminder.  In ‘n veldstudie is die entstof met veiligheid in 2 maande oud vullens gebruik. As kliniese tekens teenwoordig is, sal die tydperk en  felheid van die siekte verminder word. Die immuniteit tree  4 weke na toediening in. Om volle beskerming te verkry, moet na 4 tot 6  weke ‘n opvolgtoediening gegee word. Hierdie beskerming duur ‘n jaar  en daarna word diere jaarliks ingeênt. Die entstof kan vir dragtige merries gegee word. Bespreek die inenting van perde met hierdie entstof met jou veearts.

Duvaxyn WNV (G4071, Zoetis) is ‘n geïnaktiveerde entstof teen Wes-Nylvirus in perde ouer as 6 maande deurdat die aantal perde wat die virus sirkuleer, verminder word. Immuniteit tree 3 weke na inenting in en die immuniteit duur 12 maande. Bespreek inenting van hierdie entstof met jou veearts.

Die beste tyd om die perde in te ent, is voor die aanbreek van die reënseisoen voordat muskiete uitbroei. Deur merries ongeveer 6 weke voordat sy vul in te ent, word vullens passief beskerm tot op die ouderdom van 6 maande.

Beskerm perde teen muskiete deur hulle in stalle met gaas voor die vensters te huisves as muskietgetalle toeneem.

Moenie ligte in die aand aanhou nie want dit lok muskiete.

Virus vermeerder in voëls en verwyder daarom alle hoenders, duiwe en voëlneste in die omgewing van perdestalle.

Neem  gereeld waar of daar enige dooie voëls in die omgewing  is. Daar is al waargeneem dat waar so iets voorkom  WNV daarna al voorgekom het.

Muskietafweermiddels kan gebruik word bv. aktiewes wat deltametrien bevat.

Identifiseer en verwyder broeiplekke van muskiete bv. ou motorbande, blikke, staande water, mis, stoor putte.

Berook die stalle om muskietgetalle te verminder.

Vir verdere inligting oor WNV in perde besoek:

http://www.theequinevet.co.uk/2012/11/02/west-nile-fever/

http://www.westnile.state.pa.us/animals/horses.htm

Vir inligting oor WNV infeksie in mense besoek:

https://en.wikipedia.org/wiki/West_Nile_fever

Bron:

Coetzer, J.A.W. and Tustin, R.C. 2004. Infectious diseases of livestock. Oxford University Press.                              ISBN 0 19 578202 X

Saamgestel deur: Dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

3 April 2017

Addisionele inligting verskaf deur dr. Jacoba Dongo (jacobadongo@gmail.com).

WNV: Hierdie virussiekte van perde is nie ‘n beheerde of aangeebare siekte in Suid-Afrika nie.

WNV is ‘n OIE (Internasionale Dieregesondheidsorganisasie) gelyste siekte. Staatsveeartse rapporteer alle OIE gelyste siektes as dit onder hulle aandag gebring word. Rapportering van siektes deur perde-eienaars aan staatsveeartse is nie verpligtend nie behalwe as as die siekte as aangeebaar geklassifiseer is volgens Suidafrikaanse wetgewing.

http://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/beheerde-en-aanmeldbare-dieresiektes/

Om die lokale veearts te laat eet van WNV is egter ‘n goeie idee want:

  • WNV is ‘n differensiële diagnose vir Afrika perdesiekte
  • Ander insekgedraagde (Arbovirusse) viruses mag op dieselfde tyd in die dier serkuleer bv.Slenkdalkoors
  • WNV is soönoties (mense kan aangesteek word) en die staat se veterinêre dienste is deel van ‘n uitbreek reaksiespan van die provinsiale en nasionale departemente van gesondheid en kan inligting oor die siekte verskaf indien benodig word.
  • Indien groot uitbreke voorkom kan staatsveeartse hulp verskaf met die verspreiding van inligting.

10 April 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X