Vra vir Faffa

Vratte op Boerbokke

Vraag

My Boerbokke is oortrek met yslike vratte. Dit kom veral voor in die gesig en aan die uier. Wat veroorsaak dit en wat kan ek gebruik om dit te behandel/bekamp? Ek boer in die Deben-omgewing (Noord-Naap). - Fred Viljoen (fred.viljoen@kumbaresources.com)

Antwoord

Vraag:
My Boerbokke is oortrek met yslike vratte. Dit kom veral voor in die gesig en aan die uier. Wat veroorsaak dit en wat kan ek gebruik om dit te behandel/bekamp? Ek boer in die Deben-omgewing (Noord-Naap). – Fred Viljoen (fred.viljoen@kumbaresources.com)

Antwoord:
Wat u beskryf is heelwaarskynlik ‘n toestand wat ons "vuilbek" noem. Dit is ‘n aansteeklike virussiekte van skape en bokke en dit kom oral in Suid-Afrika voor. Die virus is lid van die groep virusse wat pokke veroorsaak. Diere van alle ouderdom word aangetas maar letsels is erger in lammers omdat ouer diere wat voorheen blootgestel is, ‘n weerstand ontwikkel. Mense in noue kontak met aangetaste diere kan ook met die virus besmet raak. Dit is dus aangewese dat mense handskoene dra wanneer diere behandel word.

Die virus kan in die droë rowe vir lang tye oorleef. Diere kan dus besmettings van die veld af optel of besmet raak deur regstreekse kontak tussen diere. Groot uitbreke vind plaas waar seerplekkies in die mond van diere voorkom, wat veral veroorsaak word deur dorings en harde struike. Die virus dring harde seertjies binne. Bytplekke van muggies en bosluise kan ook maklik deur die virus binnegedring word. Letsels begin gewoonlik op die lippe en versprei na die tandvleis, verhemelte, neus, ooglede, ore, kloue en hoofkroon. Indien lammers aan die ooie suip, kan letsels op ooie se spene voorkom. Letsels begin as ‘n kleinerige pok-letsel wat vermenigvuldig en groot rowe vorm. As rowe verwyder word, is die letsel vratagtig en dit bloei. Rowe val na ‘n paar weke af en geen letsel is sigbaar nie.

Ernstige probleme ontstaan waar letsels binne in die bek, op die tong en in die dermkanaal voorkom. As hierdie letsels met bakterieë besmet raak, kan vrektes voorkom. Diere kan nie goed eet of suip nie en verloor kondisie. Mastitis en brommeraanvalle kan ook voorkom.

Behandeling:
Salf wat ‘n antibiotika of sulfamiddel bevat, hou die rowe sag. Aerosolmiddels wat antibiotika bevat, kan ook gebruik word. Skuif diere met seer bekke na sagte groen weidings. Lammers kan selfs met ‘n maagbuis gevoer word.

Entstowwe:
‘n Entstof teen die virus, ORF, van Onderstepoort Biologiese Produkte, is beskikbaar. Ooie moet 4 weke voor lam geënt word. Lammers kan vanaf ‘n week-oud geënt word. Herhaal enting ná 10 tot 14 dae en daarna op 3 maande oud. Die entstof word toegedien deur die vel in die oksel van die voorpote te krap en die entstof dan op die krapplek met ‘n kwassie te plaas. Moenie die entstof in die lies-area krap nie, want uiers en skrotum mag besmet raak. ‘n Roof verskyn binne 3 dae op die plek. U plaaslike veearts kan u ook help om ‘n plaaslike entstof te vervaardig.

Vratte:
Vratte wat ook deur ‘n virus veroorsaak word, is baie skaars in skape.

Bron:
Kleinveesiektes,1994, De Wet, J en Bath G. Tafelberg Uitgewers Bpk ISBN 0624032035.

4 Februarie 2005


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X