Vra vir Faffa

Veeproduksie tydens droogte – riglyne

Vraag

Die droogte het my byna op my knieë en die winter lê voor. Is daar enige wenke wat ek kan kry om my te help om lig te sien?

Antwoord

Beskikbare weidingsmateriaal op veld (natuurlike weiding) is baie min oor groot dele van die sentrale binneland. Toestande vir ‘n verbetering van die swak weidingsituasie in die oorblywende deel van die somer en winter is ongunstig. Afgesien van karige weidingsmateriaal wat beskikbaar is, sal die min grondvog in die lente en vroeë somer ook ‘n negatiewe effek op veldproduksie en diere hê. Oeste is reeds nadelig beïnvloed en oesreste wat normaalweg as veevoer gebruik kon word, is nie meer geredelik beskikbaar nie.

Die huidige situasie is benard, maar dit kan bestuur word en die volgende maatreëls kan help om onnodige vrektes te verhoed en finansiële verliese te verminder:

  • Sorg dat die kontantvloei sover moontlik oordeelkundig gehandhaaf word.
  • Beskerm die kern teeldiere. Die vroulike diere moet na die droogte weer inkomste genereer.
  • Waar nog moontlik maak strategies van aanvullende voeding op veld gebruik.
  • Verminder die getal diere wat van voerbronne op die plaas afhanklik is deur surplus diere te bemark of tydelik van die veld te verwyder – in ‘n kraal of aangeplante weiding.
  • Beperk diere se beweging deur hulle in klein kampies met koeltebome of ander beskutting te plaas. Daar is beter beheer oor die hoeveelhede voer wat daagliks aan die diere verskaf word.
  • Verseker dat alle diere deurgaans toegang tot genoeg skoon drinkwater het.
  • Skei die sterker en swakker diere om kompetisie by die voerbakke te verminder.
  • Verhoed dat veral beeste vanweë swak voeding verhonger, verswak en gaan lê voordat hulle gevoer word.
  • Moenie diere ad lib. oor lang periodes voer nie. Rantsoeneer voer volgens produksievlakke wat verlang word, byvoorbeeld oorlewing of onderhoud (handhawing van liggaamamassa) of laktasie.
  • Moenie voer mors deur dit op die grond uit te gooi nie – gebruik geskikte voerbakke of ou vervoerbande.
  • Verskaf gerantsoeneerde hoeveelhede voer elke tweede of derde dag. Sodoende kry meeste diere genoeg kos om te vreet. Dit sal ook kompetisie by die voerbakke verminder.
  • Wat kan gevoer word? Die basis vir herkouers is ruvoer, hetsy op die veld of in die krip. Grof gemaalde ruvoer word altyd beter benut (minder vermorsing) as in die lang vorm. Die energie-inhoud kan verhoog word met ‘n geskikte bron (bv. gemaalde mielies) en word dan gebalanseer met ‘n geskikte ruproteïenbron. Die inname van minerale word ook gebalanseer volgens diere se behoefte.
  • Voerkorrels is bloot gerieflik (vervoer, hantering, minder vermorsing) maar grof gemaalde ruvoer en behoorlik gebalanseer (hierbo verduidelik) kan goed in diere se behoeftes voldoen.
  • Beperk die daaglikse inname van sout (NaCl) by skape op 5-10 g en beeste 50-60 g.

Die kernkudde

  • Kuddes moet volgens ouderdom en produksiestatus groepeer word. Bepaal dragtigheid by beeste so gou moontlik na afloop van die huidige dekseisoen. By skape en bokke word ooie geskandeer en meerlingstatus bepaal sodat hulle voeding spesifiek aangepas kan word.
  • Benewens dragtigheid moet die toestand van tande ook bepaal word, veral by die ouer koeie en ooie. Koeie wat dragtig is moet ten minste vir die volgende kalfseisoen tot speentyd nog goed kan wei. Slytbekke kan wel hul produksie in krale voltooi, maar dit sal teen ’n prys geskied.
  • Stel ’n inventaris op van beskikbare veld en ander voerbronne. Die inligting is nodig om te bepaal hoeveel bekke aangehou kan word tot na die begin van die volgende somer.
  • Verminder die getal diere wat van voerbronne op die plaas afhanklik is deur surplus diere te bemark of tydelik van die veld te verwyder. Let op die reproduksierekord en speengewigte van vroulike diere se nageslag. In elke ouderdomsgroep is daar minder produktiewe diere wat uitgeskot kan word.
  • Die beginsel van “cut-your-losses” kom ter sprake en verdere uitgawes moet teen verwagte inkomste oor die kort tot medium termyn verdiskonteer word. Waak daarteen om jonger teeldiere van die hand te sit omdat hulle nou in ’n goeie kondisie en dragtig is en ’n premie beding kan word.
  • Kry veeartsenykundige advies om moontlike wysigings aan die doseer en entprogramme aan te bring.

Algemeen

Boere se situasie verskil – kontak ‘n professionele kundige vir hulp met strategiese beplanning. Indien daar min weidingsmateriaal op die veld is, sal lekke ook nie help nie – dikwels word te groot hoeveelhede aanvullende voeding onder sulke toestande op veld gegee. Oordeel vroegtydig wanneer om diere van die veld te verwyder en strategies in kleiner kampies te voer. Op padreserwes is dalk nog plantmateriaal om te sny en te baal. Die blaaie van doringlose turksvye is ‘n baie goeie voerbron – heel blaaie vir beeste en grof gekap vir skape en bokke. Tydens droogtes kan ons nie te kieskeurig wees oor die gehalte van voerbronne wat ‘n verskil tussen lewe en dood vir diere mag beteken nie. Indien laegraadse ruvoer soos veldgrashooi of oesreste of turksvyblaaie beskikbaar is, kan dierevoedingkundiges dit as basis gebruik om ‘n dieet te formuleer wat diere se minimum behoeftes kan bevredig.

Die herkouer

Plantmateriaal wat tydens droogtes op skraal en droë veld geselekteer word, bevat min ruproteïen. Die verteringstelsel van herkouers en die simbiose met mikrobes in die groot- en ruitjiespens (retikulo-rumen) bied geleentheid om ruproteïen met ‘n nie-proteïenstikstofbron (NPN) soos voergraad ureum aan te vul. Die mikrobes in die retikulo-rumen breek sellulose (vesel) af en vorm nuwe voedingstowwe (vlugtige vetsure en mikrobiese proteïen). Die komplekse vierledige “maag” ontwikkel geleidelik vanaf die suipfase (enkelmaag) na die van ’n fisiologies volwasse herkouer. In jonger kalwers en lammers is die retikulo-rumen nog besig is om te ontwikkel. Gebruik dus natuurlike en hoër gehalte proteïenbronne eerder as NPN; verbyvloeiproteïen kan strategies verskaf word.

Aanvullende voeding (lekke)

Dit is altyd raadsaam om die volgende kritiese vrae vir ‘n aanvullende voedingsprogram te beantwoord:

  • Wat is die doel met die aanvulling? Moet proteïen, energie, ‘n kombinasie van proteïen en energie, of minerale aangevul word? Moet diere se kondisie toeneem of droë diere slegs onderhoud (massa) handhaaf of moet laktasie ondersteun word? Diere in verskillende produksiefases moet dus spesifieke tipes en hoeveelhede aanvullings strategies ontvang.
  • Hoe kan die doel die beste bereik word? Is die minder produktiewe diere verwyder om alle weiding vir die oorblywende diere beskikbaar te stel? Die opsie word te min gebruik en kan ‘n groot bydrae lewer om aanvullende voedingsprogramme meer effektief en goedkoper vir die oorblywende diere te maak.
  • Kan bepaal word of daar in die doel geslaag is? Hier faal meeste goed bedoelde pogings om diereprestasie te verbeter want die aanbevole peile van aanvulling word selde gehandhaaf. Inname van aanvullende voeding wissel en word beïnvloed deur vreetspasie (getal diere/bak), toegang tot die bakke (dominansie tussen diere), peil van aanvulling en hoe dikwels bakke opgevul word.
  • Tensy die voorsiening van aanvullende voeding nie bestuur word nie, vreet sommige diere te veel en ander diere te min om baat daarby te vind.
  • Diere moet nie vrugteloos op veld gevoer word nie.
  • ‘n Verskeidenheid produkte is beskikbaar; kry advies by ‘n professionele dierevoedingkundige oor die opsies en produkte wat oorweeg kan word.
  • Diere mag wel ’n matige verlies (10-15%) in liggaamsmassa ervaar, maar dan moet dit oor ’n relatief lang periode en onder beheer van oordeelkundige voedingsbestuur geskied.

Veldbrande

  • Wegholbrande of ongeluksvure kan huidige benarde toestande in ramptoestande verander. Gebiede waar veld gebrand het verkeer prakties reeds in ‘n uiterste droogte.
  • Maak doeltreffende brandbane, veral langs paaie, rondom woonkwartiere en ashope. Paaie is nie goeie vuurbreuke nie want die padoppervlakte is glad en kole word maklik deur wind oorgewaai. Vuur sprei ook deur stormwaterpype.
  • Veldbrande onderdruk grasproduksie vir sowat twee seisoene. Veld moet dus ten minste een groeiseisoen na ongeluksbrande en ten minste een groeiseisoen voor ‘n beplande brand rus.

Ten slotte

Produksie en reproduksie van beeste is gewoonlik swakker tydens droogtes en diere word makliker siek; die omvang hang af van hoe ernstig die droogte is. Lakterende koeie, laat dragtige verse en speenkalwers is die kwesbaarste as gevolg van hul hoër voedingsbehoeftes. ’n Goeie begrip van die faktore is nodig vir ‘n koste-effektiewe bestuurstrategie om die gevolge van die droogte op produksie, reproduksie en gesondheid te versag. Die volgende algemene bestuursaspekte vir vleisbeeste kan oorweeg word:

  • Bepaal koeie en verse se dragtigheid so gou moontlik (8 weke vir koeie en 6 weke vir verse) nadat bulle verwyder is. Nie-dragtige diere kan vir uitskot geїdentifiseer word en stadium van dragtigheid (vroeë-, mid- en laatkonsepsies) vanaf die dekseisoen bepaal word.
  • Saam met liggaamskondisie kan die inligting gebruik word om koeie te identifiseer wat sal baat by ‘n vroegspeen en/of strategiese aanvullingsprogram asook die wat verkoop moet word. Ingeligte besluitneming skep geleentheid om die gevolge van die droogte te versag.
  • Skaapproduksie kan ook baie baat by die vroegspeen van lammers – die ooie word daarna op ‘n laer onderhoudsvlak gevoer en die lammers vinnig in ‘n kraal afgerond.
  • Dieregesondheid begin by die bek; goeie voeding is die grondslag van gesonde diere en produksie. Veranderinge in bestuur mag ook aanpassings in die program vir siektevoorkoming (inenting) vereis. Onthou inenting is ’n eenvoudige aksie (‘n inspuiting), terwyl opwekking van immuniteit ‘n meer komplekse proses in die dier behels wat proteïen (aminosure in die dieet) benodig om teenliggame te vervaardig. Tydens droogtes is die droë seisoene veral baie straf en die proteïeninhoud van gras laag. Tydige inenting mag oorweeg word ten einde ontwikkeling van beter immuniteit te verseker.
  • Drastiese veranderinge in bestuur soos die inperking van diere in krale veroorsaak groter stres en vatbaarheid vir siektes. Die voorkoms van opportunistiese siektes mag vergroot en inenting benodig wat nie normaalweg nodig is nie. Spesifieke plaaslike toestande en omstandighede is bepalend in enige wysigings van inenting-, dip- en doseerprogramme. Bespreek enige moontlike aanpassing in die siektebeheerprogram met u veearts.
  • Vitamienstatus moet ook geёvalueer en aangevul word.

Ons wens jou sterkte toe met die veeboerdery.

An English version is attached as pdf.

Geskryf deur:

Prof. HO de Waal

Pr. Sci. Nat., Anim. Sci. [401721/83]

Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde (70)

Universiteit van die Vrystaat

Posbus 339

Bloemfontein

Suid-Afrika

dewaalho@ufs.ac.za

15 Januarie 2016

http://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/wat-om-te-maak-met-droogtemielies/

http://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/bestuur-van-vee-tydens-droogte-en-na-veldbrande/

http://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/droogtesituasie-2011/

 


Kommentaar

Een kommentaar op “Veeproduksie tydens droogte – riglyne

  1. Ivanlotter
    Ivanlotter

    Probeer hidroponiese gars. Google/Youtube het baie bronne vir navorsing.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X