Vra vir Faffa

Swak voeding lei tot boepenslammers

Vraag

Ek kry gereelde navrae oor boepenslammers en dan is daar al ‘n hele paar wurmmiddels gebruik om te probeer om die problem reg te stel. Ek vrees dat die kleiner produsente wat nou op skape fokus, sentreer hulle onkunde so op wurmbeheer dat hulle ‘n weerstandige wurm populasie skep wat hulle situasie gaan vererger. Dit word veral gesien in die intensiewe skaapproduksiestelsels. Behalwe vir wurms en ‘n paar infeksieuse toestande, vermoed ek boepenslammers is meer die gevolg van onvoldoende maternale en of lammervoeding. Dr. Jasper Coetzee, sou graag u mening oor hierdie onderwerp wou kry.

Antwoord

Ek het nie spesifiek iets net oor boepenslammers geskryf nie, maar indien dit voor speen voorkom, is dit meestal omdat die ooie nie lank genoeg en nie voldoende hoeveelheid deurvloeiproteïen voor en na lam gevoer is nie en het die ooie daarom onvoldoende bies- en melkproduksie wat tot boepenslammers aanleiding gee.

Ooie moet vanaf ses weke voor lam en vir minstens die eerste agt weke na lam hoë vlakke deurvloeiproteïen gevoer word.  Produsente gebruik dikwels verkeerde deurvloeiproteïenbronne soos byvoorbeeld kanola-oliekoekmeel; lupiene; sonneblomoliekoekmeel; ensovoorts, hierdie is almal swak deurvloeiproteïenbronne.  Ons beveel slegs vismeel; soja-oliekoekmeel en indien katoenoliekoekmeel gebruik word, moet dit minstens 38 % proteїen bevat, indien dit laer is, moet dit nie gebruik word nie.

Die nuutste navorsing toon dat produsente nog steeds te min deurvloeiproteïen vir lammerooie voer: 20 % meer deurvloeiproteïen moet gedurende laatdragtigheid as die huidige riglyne gevoer word (Vipond et al., 2009).  Die nuutste aanbeveling is om laatdragtige ooie daagliks minstens 100 g van ‘n hoë gehalte deurvloeiproteïenbron per fetus in laatdragtigheid en minstens 200 g per lam in vroeë laktasie te voer (Macrae, 2013).  Eintlik gaan dit oor die benutbare essensiële aminosure en nie sodanig die deurvloeiproteïen nie en daarom formuleer ons deesdae lekke en volvoerrantsoene op benutbare essensiële aminosure sodat hulle die korrekte aminosuurprofiel voorsien vir ‘n hoë bies- en melkproduksie (vir meer agtergrondinligting sien die aangehegte dokument).

Boepenslammers kan ook voorkom indien die verkeerde (ondoeltreffende) lamstelsel gebruik word en daar dan skeiding tussen die ooi en haar lam of lammers plaasvind en hulle dan nie voldoende of glad nie bies en melk inneem nie.  Ooie met tweelingfetusse asook alle jongooie, wat vir die eerste keer lam, moet in lamhokke lam terwyl volwasse ooie met enkelingfetusse in klein troppies kan lam.

Indien ooie kunsmatig met sponse of CDIR’s en DMS gesinchroniseer is, moet al die ooie in lamhokke lam omdat die meeste ooie dan binne drie tot vyf dae lam wat groot verwaring kan veroorsaak wat tot skeiding van die ooi en haar lammers aanleiding kan gee.

Sekere spoorelementtekorte kan ook tot boepenslammers aanleiding gee en daarom moet die spoorelementstatus van hierdie lammers bepaal word deur ‘n lewerontleding.  Indien spoorelementtekorte voorkom, moet organiese spoorelemente voor speen gedoseer word en na speen moet organiese spoorelemente ingespuit word.

Indien lammers na speen boepense ontwikkel, kan afgesien van bogenoemde faktore die volgende ook ‘n rol speel.  Sommige lammers sukkel na speen om goed uit te groei.  Australiërs beskou hierdie mislukking van speenlammers om te gedy en goed uit te groei as een van die mees algemene en komplekse siektesindrome (bekend as “weaner ill-thrift”).  Dit gee tot swak groei, hoë vrektes, laer leeftydproduksie- en -reproduksiepotensiaal aanleiding.  ‘n Hoë voorkoms van “weaner ill-thrift” dui op ondoeltreffende voeding- en bestuurspraktyke.

Volgens Andrew Vizard (2002) van Australië is sorgvuldige bestuur en voeding van ooie (jongooie se moeders) vanaf besetting tot eerste paring van die jongooie self nodig om “weaner ill-thrift” te beheer.  Hierdie toestand is meestal die gevolg van onvoldoende proteïen-, energie- en spesifieke spoorelementinname (Gordon, 1981).

Beide die proteïen- en energie-inhoud van weiding is dikwels nie voldoende om optimale groei van jong gespeende lammers te verseker nie, daar is veral ‘n tekort aan deurvloeiproteïen vir liggaams- en wolgroei.  Jongooie se voeding (weiding, lek en aanvulling) moet na speen tot geslagrypheid minstens 14 % proteïen voorsien vir optimale uitgroei. Speen-ooilammers moet vanaf speen tot eerste paring geen massa verloor nie en moet, afhangend van hulle speenmassa en paarouderdom, teen ongeveer 70 tot 125 g/dag groei om minimum 80 % van hulle volwasse massa met paring voor 12 maande ouderdom te weeg en minstens 90 % indien na 12 maande ouderdom gepaar word.

Geskryf deur: Dr. Jasper Coetzee

Jasper Coetzee Consulting

Pr.Sci.Nat. (Anim.Sci.) Ph.D. (Agric.) Stellenbosch

Skaapvoeding- en Bestuurspesialis Konsultant

Professionele Veekundige (400328/83)

Adres: Posbus 12022, Die Boord, 7613

E-pos: jasperco@iafrica.com

Sel: 076 846 8800

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X