Vra vir Faffa

Suurpens of asidose

Vraag

My volwasse boerbokooi het in die groentetuin ingevaar en groen mielies gevreet. Sy het as gevolg daarvan suurpens gekry en was baie siek. Ons het haar twee dae na mekaar by 'n veearts probeer uitkry, maar a.g.v. die feesseisoen was die veearts nie beskikbaar nie. Sy het op die ou einde gevrek. Ek wil net raad kry oor wat ek in die vervolg kan doen in so 'n noodgeval as die veearts nie beskikbaar is nie?

Antwoord

As ‘n mens met herkouers boer, is dit altyd raadsaam om geaktiveerde koolstof of PPR poeier (G74), verkrygbaar by ‘n veearts of koöperasie, byderhand te hou vir noodgevalle waar diere gif ingekry het, gifplante gevreet het of suurpens (asidose) opgedoen het. Bestudeer die gebruiksaanwysings op die etiket van die houer. Die geaktiveerde koolstof word gedoseer teen 2 gram per kilogram en aangemaak met water. Die koolstof verhoed opname van gifstof uit die rumen en dermkanaal. In die beginstadium waar aansameling van suur in die grootpens plaasvind, kan teensuurmiddels doseer word soos bv. koeksoda (nie ideaal nie, maar help in ‘n noodgeval) of magnesiumoksied of Rumagest Antacid. Dit help ook om die dier in te spuit met ‘n penisillien om lewerabsesse te verhoed, asook vitamien B kompleks om die lewer te ondersteun in die verwerking van die gifstof en suur. 

Wat veroorsaak suurpens?
Herkouers kry suurpens (asidose) as hulle skielik groter hoeveelhede stysel inneem in die vorm van graan of meel, aartappels of brood en hulle nie aan so ‘n dieet gewoond is nie. Die mikroörganismes in die rumen van ‘n herkouer moet aanpas om stysel te kan verteer en volledige aanpassing neem 14 tot 21 dae. Die mikroörganismes wat melksuur in die rumen produseer, vermeerder vinnig as daar ‘n skielike vermeerdering in styselinname is en die organismes wat die melksuur kan verwerk, vermeerder weer baie stadig en daarom vind asidose plaas as die verhoogde styselinname nie geleidelik geskied nie.   
Waarom vrek die dier?
Akute rumenasidose (oorvreet aan graan) is ‘n noodgeval en die dier kan binne 24 uur vrek as dit nie vinnig behandeling kry nie. Groot hoeveelhede koolhidrate (stysel) verminder die bufferkapasiteit van die rumen deurdat dit speekselvloei verminder. Speeksel het ‘n pH van oor 8 en is ‘n natuurlike buffer in die rumen. Die stysel fermenteer in die rumen en vlugtige vetsure en melksuur word gevorm wat die pH verlaag. Die verlaagde pH maak van die normale rumenbakterieë dood en Lactobacilli  (bakterie?) vermeerder en produseer nog meer melksuur. Liggaamsvog word in die rumen ingetrek, die dier dehidreer, die rumen se bewegings word al minder, die vlugtige vetsure word in die liggaam opgeneem en veroorsaak lewerskade. Die rumenwand word ook beskadig deur die suur en bakterieë land in die lewer en kan lewerabsesse veroorsaak. Wanneer van die bakterieë in die rumen afsterf, word ‘n endotoksien (gifstof) vrygestel wat die dier in skok laat gaan en baie skade aan organe veroorsaak.
Wat is die normale pH van die rumen?
Die normale pH van die rumen is soos volg: op grasweiding is die pH 6 tot 7.5 . Op ‘n graandieet daal dit tot tussen 5.8 en 6.5                                                             
Aanpassing van diere in die voerkrale, hoe word dit gedoen?
Aanpassing van ‘n grasdieet na ‘n graan- en ruvoerdieet moet geleidelik geskied oor ‘n periode van 14 tot 21 dae deur die hoeveelheid graan in die dieet geleidelik te vermeerder en die ruvoer geleidelik te verminder.
 
As ek beeste of skape in die mielielande injaag, hoe moet dit gedoen word?
Beeste en skape oorvreet aanvanklik te veel mielies deurdat hulle die koppe uitsoek wanneer daar nog baie mieliekoppe in die land teenwoordig is. Asidose kan verhoed word deur die diere eers in die oggend op gewone weiding te laat vreet en dan in die middag vir een uur op die lande te laat wei. Die tyd op die lande kan dan elke dag verleng word oor ‘n tydperk van 7 tot 10 dae. Aangesien die diere op ‘n land eerste al die koppe opvreet, sal daar weer ‘n tyd wees wat hulle hoofsaaklik stronke en blare vreet. As hulle dan na ‘n nuwe land verskuif, moet hulle eers weer oor ‘n paar dae aangepas word om te verhoed dat hulle dan asidose opdoen.
Wat doen ek wanneer diere in ‘n groen mielieland ingebreek het?
Doseer geaktiveerde koolstof en teensuurmiddels. Die agressiewe vreters sal gouer effens opgeblaas lyk en siek word. Hulle sal ‘n meer volledige behandeling benodig.
Hoe ontstaan ‘n vitamien B1 tekort?
Vitamien B1 word in die rumen vervaardig deur sekere mikrobes. Met asidose vermeerder ander mikrobes wat vitamien B1 verbruik en ‘n tekort ontstaan met gevolglike verlaagde absorbsie uit die rumen.
Tekens van Vitamien B1 tekort?
Tekens dat die senuweestelsel aangetas is soos bv. verlamming en omval.
Behandeling?
Vitamien B1 kan binneaars toegedien word teen 5 tot 10 ml vir kalwers, bokke en skape en 10 tot 20 ml vir beeste. Dit is raadsaam om ‘n opvolgdosis te gee 6 tot 8 ure later al lyk dit of die dier volkome herstel het.
Wat moet die boer in voorraad hou vir ‘n noodgeval?
Teensuurmiddels, geaktiveerde koolstof, vitamien B1
Wanneer roep ek die veearts uit?
Wanneer die diere baie erg oorvreet het en siek lyk met rumenstase (die rumen toon geen beweging nie) en grys pap mis. As diere erg aangetas lyk of sigbare tekens van erge oorvreet toon of as diere in die voerskuur kom en baie graan vreet, of in graanlande inbreek en lank genoeg daar was om te oorvreet. Die kleiner grane soos sorghum veroorsaak erger asidose.
Wanneer doen die veearts rumenotomies?
Waar waardevolle diere siek lyk en ophou vreet, mag die veearts besluit om ‘n operasie te doen. Die rumen (grootpens) word oopgesny en al die inhoud word verwyder. Die veearts sal die maaginhoud vervang en ondersteunende behandeling vir die dier gee.
Geskryf deur: dr. Eben du Preez, voerkraalkonsultant (edupreez1@telkomsa.net)
14 Januarie 2010
 

Kommentaar

Kommentaar (3) “Suurpens of asidose

  1. Emil
    Emil

    Wat in plaas van inspuitings kan ons voer om vit b te aan te vul

  2. jan bekker
    jan bekker

    Hoeveel koeksoda kan ons n skaap toedien as hy suurpens het

    • Corli van der Merwe
      Corli van der Merwe

      Hallo Jan. Kontak gerus vir Eben by die adres hier bo om jou navraag te antwoord. Let egter op dat dit nie ideale behandeling is nie en slegs in noodgevalle gebruik moet word. Groete, Corli van der Merwe.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X