Vra vir Faffa

Stres in diere

Vraag

Wat veroorsaak stres in diere en wat is die invloed van stres op diere?

Antwoord

Inleiding:

Mens en dier ervaar stres en dit is deel van die lewe. Produksiediere ervaar ook stres  – ons neig om meer op stres in kalwers en voerkraaldiere te fokus, maar wat van ander diere?

Stres veroorsaak verhoogde vlakke van kortisol. Kortisol word dikwels die streshormoon genoem. Dit is ‘n steroїedhormoon wat in die adrenaalklier (byniere) vervaardig word en as dit vrygestel word, is dit nie net  hartspoed en temperatuur wat verhoog word nie.

Kortisol blokkeer insulien met die gevolg dat bloedsuikervlakke verhoog. Verder vind verhoogde vervaardiging van glukose in die lewer plaas asook verhoogde metabolisme van vet, proteїene en koolhidrate word gevind.

Die immuunstelsel word onderdruk.

Voortplanting word geaffekteer. Die vervaardiging van die gonadotropien-vrystellingshormoon word onderdruk wat daartoe lei dat puberteit en ovulering vertraag word.

Geheue – kortisol werk in die brein sodat die kort geheue stresvolle gebeurtenisse onthou. ‘n Voorbeeld is bv.vorige kontak met vure en predatore.

‘n Bedreiging in die omgewing van ‘n dier veroorsaak ‘n stresreaksie in die dier wat daartoe lei dat die interne konstante omgewing (homeostase) van die dier versteur word.

Daar is verskeie soorte stressors waaraan diere blootgestel kan word en daar is net soveel verskillende reaksies  by diere op hierdie stressors.

Voorbeelde hiervan is:

Verlies aan motivering

Verandering in sosiale en seksuele gedrag

Verandering in houding

Diere word aggressief

Die graad van verandering is afhanklik van die tipe stres wat ervaar word, die duur daarvan, asook die vorige ondervinding van dieselfde soort stres. Die reaksie op aanhoudende stres kan ook aan toekomstige generasies oorgedra word.

Stressors kan ook verdeel word in abiotiese stressors  soos enige ekologiese, geologiese of klimaatsveranderinge. Voorbeelde is te hoë of te lae temperature asook natuurrampe. Biotiese stressors is lewende verwante komplikasies soos dominansie, besoedeling, infeksies, sosiale druk, kompetisie en hantering.

Diere kan verskillend op hierdie stressors reageer – fisiologies, houding, psigologies of fisies (veg of vlug). Die reaksie van die dier hang af van die besluit wat geneem word wanneer die dier in aanraking met die bedreiging kom.

Strestoestande in diere

Stres word dikwels gesien wanneer diere hanteer en/of vervoer word.

Diere word psigologies geaffekteer – hulle is bang om vasgekeer en hanteer te word; bang vir verwaarlosing; bang vir vreemde voorwerpe en omgewing.

Fisiese stressors – honger, dors, uitputting, besering en ekstreme temperature.

‘n Aantal spesifieke faktore veroorsaak stres:

Temperatuur

  • Geskikte omgewingstemperatuur – dit is ‘n kombinasie van vogtigheid en hittebestraling.
  • Gemaksone – dit is die temperatuur waarby die dier nie sy normale metabolisme tempo hoef te verhoog nie.
  • Laer kritieke temperatuur – die dier wys kliniese tekens van koue stres soos verhoogde voerinname.
  • Boonste kritieke temperatuur – die dier wys kliniese tekens van hittestres soos verlaagde voerinname.

Swak ventilasie 

  • Beperkte beweging van lug deur die omgewing

Oorbevolking

  • Te veel diere in ‘n area.

Vervoer

  • Vervoer van diere met ‘n vragmotor, sleepwa of in ‘n hok.

Verandering in behuising of fasiliteit

  • Vreemde lewenspasie

Werksomgewing

  • Vreemde fasiliteite en prosedures soos kastrasie, inenting, dip en dosering.

Peste en siektes

  • Vlieë, muskiete, luise, bosluise en siektes.

Blootstelling aan mense

  • Die graad van familiariteit of sosialisering met mense.

Blootstelling aan predatore

  • Honde, jakkalse, ens.

Tekens van stres by diere

Diere toon dikwels dieselfde gedrag as hulle stres ervaar bv.

  • Maak ‘n geraas, bulk en blêr
  • Probeer weghardloop – veg of vlug aggressie
  • Lusteloos
  • Verminderde of verlies aan aptyt
  • Isolasie
  • Verhoogde asemhalingstempo
  • Dehidrasie
  • Verhoogde hartspoed

Voorkoming van stres

  • Hitte: Verskaf skaduwee, sproeiers, waaiers (suiwel)en genoeg vars, skoon water.

 

  • Ventilasie: Sorg dat daar voldoende ventilasie is as diere gestal word.

 

  • Oorbevolking: Maak seker daar is genoeg spasie vir elke dier om gemaklik te kan lê, genoegsame drink en vreetspasie. Genoegsame tyd moet aan diere gegee word om van een plek na die ander te beweeg, sonder dat hulle mekaar beseer en vertrap. Voorkom dat diere tydens die hitte van die dag, of as dit baie winderig is, geskuif word.

 

  • Vervoer: Maak seker dat diere veilig en higiënies vervoer word. Daar moet genoeg spasie en ventilasie beskikbaar wees. As die afstand wat diere vervoer word baie tyd in beslag neem, moet geleentheid vir diere gegee word om oefening, water en voer te kry.

 

  • Behuising en fasiliteite: Voorsien soortgelyke omgewing as waaraan diere gewoond was as hulle aangekoop of verskuif word en laat hulle eers aanpas in die omgewing voordat daar met hulle gewerk word.

 

  • Werkgereedskap: Beplan drukgange, krale en ander gereedskap sodat dit die diere se normale aksies en beweging reflekteer sonder om pyn te veroorsaak.

 

  • Parasiete en siektes: Pas goeie parasietbeheer toe. Leefspasies moet skoon gehou en onderhou word.

 

  • Menslike kontak: Wees tydsaam en rustig wanneer daar met diere gewerk word. Gee diere tyd om by hulle omgewing en mense wat met hulle werk, aan te pas.

 

  • Behandeling vir stres: Verwyder stresveroorsakende faktore uit diere se omgewing; voorsien water vir dehidrasie; verhoog geleenthede vir oefening.

Stres se uitwerking op die slagproses.

Ten tye van slagting moet spierglikogeen omgesit word na melksuur. Aerobiese respirasie word omgesit na anaerobiese toestande. As die dier gestres was voordat slagting plaasvind (veral langdurige stres)  bly die pH bokant 6 en kry ons donker vleis (“dark cutter”). Hier speel hittestres, vervoer en agoniste (word gebruik vir groeibevordering) wat nie betyds onttrek is nie, ‘n groot rol. Vleis is dan donker, ferm en droog.

 

Die volgende webadresse en inligting is ook van belang om die rol wat stres in produksie speel beter te verstaan en te voorkom:

http://www.ctsanimals.ca/va2020/com/assets/data/pdf/farm/needToKnow7bc_20.pdf

http://www.ctsanimals.ca/va2020/com/assets/data/pdf/farm/needToKnow7bc_20.pdf

http://www.beefmagazine.com/animal-health/cattle-can-remember-stress

https://www.farmersweekly.co.za/farm-basics/how-to-livestock/stress-affects-livestock-health/

http://www.ctsanimals.ca/va2020/com/assets/data/pdf/farm/needToKnow7s_20.pdf

http://safeedlot.co.za/about-us/safa-codes/

http://lwcc.org.za/

DIEREGESONDHEID EN -WELSYN

Soos met die ander dissiplines, is hierdie afdeling onderworpe aan die riglyne van verskeie Wette en gedeeltes van wetgewing (raadpleeg  www.daff.gov.za).

  • Die Dieresiektewet, 1984 (Wet no. 35 van 1984)

Onder Dieregesondheid selekteer “Inligting”

  • Die Diere-identifikasiewet, 2002 (Wet no. 6 van 2002)
  • Die Diereverbeteringswet, 1998 (Wet no. 62 van 1998)
  • Die Dierebeskermingswet, 1962 (Wet no. 71 van 1962)
  • Wet op Kunsmis, Veevoer, Landboumiddels en Veegeneesmiddels, 1947 (Wet no. 36 van 1947)
  • Die Vleisveiligheidswet (Wet 40 van 2000)
  • Veterinêre en Para-Veterinêre Professieswet (Wet 19 van 1982)

Verder is Kodes van Praktyk deur die Dierewelsyn Koördinerende Komitee ontwikkel (in opdrag van die NDLBV  vir:

  • Die Hantering en Vervoer van Vee [e.g. “Code: SANS 1488 – Humane Transport of Livestock by Road”]
  • Voerkrale
  • Die Hantering van Vee by Verkoopslokale en Vendusiekrale:

[“SANS 1469 – Humane Handling and Facility for the Protection of Livestock at Shows, Auctions, Vending Sites and Pounds”]

Dié Kodes van Praktyk (beskikbaar by die RPO-kantoor of -webwerf) behoort saamgelees te word met die Dierebeskermingswet (Wet no. 71 van 1962) en ʼn ondersteunende dokument, die “Manual of Animal Care and Use”, wat deur die Suid-Afrikaanse Veeartsenystigting saamgestel is (www.savf.org.za). Die handleiding is ontwikkel om alle stukke wetgewing oor diereversorging te konsolideer.

Vertrekpunte in die Kodes van Praktyk en die ondersteunende dokument

Dierewelsyn kan beskryf word as ʼn weerspieëling van die mens se strewe na “menslike” of humanitêre behandeling van diere. Op internasionale vlak word hierdie poging gerig deur ʼn stel beginsels wat betref die versorging en gebruik van diere, soos in die geval van vee op plase, tydens vervoer of by verkoopslokale of vendusiekrale. Dié wat betrekking het op die RPO en NERPO is die volgende:

  • ʼn Besef dat daar ʼn noue verband bestaan tussen dieregesondheid en dierewelsyn.
  • Die erkende “vyf vryhede” gee waardevolle riglyne in die bestuur van dierewelsyn

Dit is: vryheid van honger, dors en wanvoeding;

vryheid van vrees en ontsteltenis;

vryheid van fisiese en temperatuurgebaseerde ongerief;

vryheid van pyn,beserings en siektes;

vryheid om normale gedragspatrone uit te leef.

  • Die hantering en verbruik van diere (vee) vereis die verantwoordelikheid dat hul welsyn tot die uiterste mate nagestreef moet word.
  • Beter versorging van diere (vee) lei dikwels tot verhoogde produktiwiteit en derhalwe ekonomiese voordele.

Dit is nie moeilik om met die basiese beginsels te assosieer nie, trouens dit weerspieël die liefde wat boere normaalweg vir hul vee het.  As die beginsels nagekom word, kan dit ook die balansstaat positief beïnvloed. Daar is baie studies wat dit bevestig, byvoorbeeld:

die dier wat nie tydens vervoer gekneus word nie omdat goed ontwerpte toerusting gebruik word, se kwaliteit en raklewe van vleis verbeter;

verliese word tot die minimum beperk

en die doeltreffendheid van produksie word verbeter as stres en siektes beheer word.

Boere behoort die Kode van Praktyk oor die Hantering en Vervoer van Vee te bestudeer, aangesien hulle gereeld met hierdie uitdagings gekonfronteer word. Hoewel die Kode vir Voerkrale en kommersiële ondernemings ontwikkel is, is daar sommige boere wat wel speenkalwers of lammers op die plaas voer en hulle kan die voerkraalkonstruksie en -prosedures handig gebruik. Die Kode van Praktyk vir die Hantering van Diere by Verkoopslokale en Vendusiekrale is saamgestel vir persone wat verantwoordelik is vir die veiling, maar dit bied waardevolle norme en prosedures vir boere wat vee na en van die plaas en die perseel  vervoer.

Saamgestel deur: Drs. Faffa Malan, Veeartskonsultant, (dokfaffa@nashuaisp.co.za) Shaun Morris  Voerkraalkonsultant, (ksmorris@meb.co.za) en prof. Gareth Bath, Voorsitter van die LWCC (gfgath@gmail.com)

Bronne wat gebruik is, is reeds weergegee in die artikel asook:

https://en.wikipedia.org/wiki/Stress_(biology)

28 Januarie 2018

 

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X