Vra vir Faffa

Reptiel troeteldiere in die huis

Vraag

Kan reptiele wat in gevangenisskap aangehou word (in dieselfde huis) siektes aan mens babas en kleuters gee of oordra?

Antwoord

Dit is waar dat enige troeteldier siektes aan die mens kan oordra. Sulke siektes word soönotiese siektes genoem.

Reptiele, al word hulle slegs op hok gehou, kan ook sulke siektes oordra. Die belangrikste van hierdie siektes is Salmonella oftewel paratifus. Reptiele is algemene gashere van Salmonella, wat beteken dat die dier Salmonella kan dra, gewoonlik in die dermkanaal, sonder om enige siektetekens te toon, behalwe as die dier gestres is. Ander soortgelyke bakterieë is Campylobacter en Aeromonas. Aldrie kom algemeen in reptiele voor en kan ernstige maagdermontsteking in die mens veroorsaak. Mense word aangesteek wanneer die reptielhokke skoongemaak word, omdat die infeksies hoofsaaklik deur die ontlasting oorgedra word. Aeromonas kom ook normaal in water voor en mense word aangesteek wanneer hulle die waterbakke reinig.

Reptiele kan ook met omgewings- Mycobacterium stamme besmet word. Sulke stamme is verwant aan tuberkulose en hulle veroorsaak bek- en velinfeksies in reptiele. Mense word aangesteek deur direkte kontak met die velletsel of deur bytwonde.

Swaminfeksies kan ‘n wye verskeidenheid van toestande in reptiele veroorsaak, wat almal aan mense oorgedra kan word.

Wurmeiers word in groot hoeveelhede deur reptielwurms geproduseer. Die eiertjies is te klein om met die blote oog gesien te kan word. Van die wurms lewe in die asemhalingsisteem en word deur die reptiel uitgehoes. Indien mense van die wurmeiers inkry, hetsy deur inaseming of insluk, vorm siste in verskeie organe, wat baie moeilik behandelbaar is.

Volwasse mense is meer bestand teen hierdie infeksies as jong en ouer mense. Kinders onder 10 jaar,  bejaarde mense en ook mense met  onderdrukte immuunstelsels, soos mense op kortisoonbehandeling, kankerlyers en VIGS lyers, is baie minder weerstandig.

Daar is ‘n aantal voorsorgmaatrieëls wat geneem kan word. Koop slegs reptiele wat in gevangenskap aangehou en geteel word. Sulke diere dra baie minder siektes as dié wat direk uit die veld kom. Diere wat stres ondergaan, skei baie meer siektekieme uit, as dié wat onder die korrekte omstandighede aangehou en gevoer word. Diere wat direk uit die veld kom, ondergaan ‘n baie lang [jare] aanpassingstydperk voordat hulle stresvlakke genoegsaam daal. Alle nuwe diere hoort deur ‘n veearts nagegaan te word en voorkomende behandeling word sterk aanbeveel. Die ondersoek en behandeling moet gebeur voordat die reptiel in die huis aangehou word. Indien u veearts nie baie ondervinding met u spesifieke troeteldiersoort het nie, vra vir ‘n verwysing na ‘n veearts wat wel ‘n kenner is.

Almal in die huis hoort hulle hande deeglik te was elke keer nadat hulle die reptiel gehanteer het.

Die hokke, voer-en waterbakke  moet nooit in die kombuis of badkamer skoongemaak word nie. Dra handskoene en verkieslik ook gesigsbeskerming tydens skoonmaak.  ‘n Goeie ontsmettingsmiddel [vra u veearts] moet gereeld na uitwas gebruik word. Sorg dat die hokke, voer- en waterbakke eenvoudig van vorm is, sodat hulle maklik skoongemaak kan word.

Hou die reptiele uit die kombuis en badkamer uit en ook weg van ander troeteldiere. Al is mens hoe lief  vir die reptiel, moet dit nooit gesoen word nie.

Enige siektetekens moet dadelik deur u veearts ondersoek word. Hou siek reptiele onder kwarantyn, waar slegs een persoon vir die dier se sorg verantwoordelik is.

Indien almal hulle by die higiëniese voorskrifte hou, is daar geen rede hoekom so ‘n troeteldier nie aangehou kan word nie. Dit is ook leersaam vir kinders om die gedragsverskille tussen soogdiere, voëls en reptiele aan te leer en om uit te vind hoe om korrek vir al die diersoorte te sorg.

Geskryf deur: dr. Marijke Henton, Bakterioloog (maryke@idexxsa.co.za)

23 Januarie 2015


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X