Vra vir Faffa

Ouer honde het ‘n probleem met nuwe hondjie

Vraag

Ons het 'n boerboelreun, 6 weke oud wat nou vir 'n 2 weke "blootgestel" is aan ons Jack Russel reun (6 jaar oud)en Boston Terrier teef (3 jaar oud) . Ouma het 'n Labrador teef (8/9 jaar oud)wat ook saam ons op die perseel bly en sy is maar die rede hoekom ons besluit het om 'n nuwe groot ras baba hond te kry. Die Labrador wil niks met baba te doen he nie, as hy naby haar kom staan sy op en loop weg van hom af. Jack Russel was die eerste 2 aande verskriklik beskermend teenoor baba maar is nou aggresief teenoor baba en wil glad nie met hom speel nie, wat ons verstaan, want hy is ouer en "was" die enigste reun. Ons probeer elke aand dat hulle saam speel of te minste naby mekaar lê. Boston Terrier was skrikkerig aan die begin maar wend pogings aan om met baba te speel. Sy is maar 'n skamerige teef wat ook nie maklik meng nie. Wanneer ons met Jack Russel / baba raas oor knorrigheid/geniepsigheid, sal sy loop want sy dink ons raas met haar. Op die stadium eet baba apart van hulle maar hulle almal slaap saam in die huis. My bekommernis is wanneer baba groter word en "dominansie" wil toon, dat hy die twee kleiner rasse gaan byt. Ons wil dit graag voorkom. Hulle is almal kinders in die huis en ons wil nie vir baba 'n ander huis soek as ons nie alles probeer het nie.

Antwoord

Normaalweg sal ouer honde ‘n jongetjie soos hierdie met min probleme aanvaar.  Hulle sal dalk die kleintjie bietjie dissiplineer van tyd tot tyd, maar normaalweg behoort daar nie “slegte bloed” te wees nie.  Wanneer daar dan sulke probleme is, is die oorsake een of albei van die volgende:

  • Die volwasse honde het nie self as jong honde met klein hondjies gesosialiseer  nie, en is hulle dus eenvoudig nie gewoond aan hierdie situasie nie. Hulle het nie die sosiale vaardighede om met die klein hondjie om te gaan nie
  • Die klein hondjie het nie goeie sosiale vaardighede nie – dit kan wees a.g.v. ‘n slegte voorbeeld van die ma, of genetika of swak bestuur deur die teler (as jy sê die hondjie is nou maar 6 weke oud, en reeds 2 weke by julle, dan beteken dit hy was 4 weke toe julle hom gekry het?  – dis heeltemal te jonk, selfs 6 weke is te jonk vir hondjies om goeie sosiale vaardighede van hulle werpselmaatjies en ma te leer – 8 weke is die ideale ouderdom om verkoop te word)

In beide gevalle, is daar niks wat mens kan doen om ‘n vinnige verandering te weeg te bring nie.  Geduld is noodsaaklik, en dit gaan dikwels beter wanneer die kleintjie bietjie groter is en nie meer soos ‘n vreemde gedoente lyk vir die ouer honde nie.  Dis baie belangrik om niks op te dwing nie – laat hulle mekaar self vind.

Dis beter om vir die hondjie apart kos te gee in geval die kleintjie van die ander se kos wil probeer vreet.  Dis nou nog belangrik om die kleintjie se veiligheid te beskerm omdat hy nog so klein is en maklik beserings kan opdoen.

Moenie raas as die ander honde grom nie – dis eintlik baie goeie maniere want dit beteken “los my asseblief uit, ek is bang vir jou, en ek sal jou moet byt as jy gaan aanhou”.  Mens wil tog hê dat hulle eers waarsku voordat hulle byt.  Moet liewers glad nie intree nie, indien enigsins moontlik.  Die kleintjie moet ook leer hoe dit werk.

Sorg dat die groot honde baie aandag kry in die teenwoordigheid van die kleintjie, sodat hulle hom nie met iets slegs assosieer nie (skielik minder aandag).

Sterkte!

Quixi

Geskryf deur: Dr Quixi Sonntag (Quixi.Sonntag@up.ac.za)

Departmentement van Geselskapdiere Kliniese Studies

Fakulteit Veeartsenykunde

Universiteit van Pretoria

5 Januarie 2017

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X