Vra vir Faffa

Oogsiektes

Vraag

Kan blesbokke oogsiektes dra en of na beeste versprei? - Christo Smit

Antwoord

Vraag:
Kan blesbokke oogsiektes dra en of na beeste versprei? – Christo Smit

Antwoord:
Boere kla dikwels dat skape en beeste oogsiektes optel as blesbokke in dieselfde omgewing loop.

Die Uitpeuloogvlieë, Gedoelstia hässleri en G. cristata is die sondebokke. Hulle natuurlike gashere is blesbokke en swart- en blouwildebeeste by wie hulle besmettings geen of weinig kliniese simptome veroorsaak. Die lewensiklus in blesbokke en wildebeeste verskil van mekaar.

By wildebeeste deponeer die vlieë ‘n klein eerste staduim larfie in die oog. Die larwes beweeg met die senuweebane van die oog na die breinvliese. Hulle baan hulle weg dan deur die dun been tussen die breinkas en neusholte, tot in die sinusse waar hulle vervel tot tweede staduim larwes. Die larwes groei en vervel tot groot derde staduim larwes wat in neusholtes beweeg en dan uitgenies word. In die grond word ‘n papie gevorm waaruit ‘n vlieg ontwikkel wat gashere opsoek.

By blesbokke is die lewensiklus ietwat anders. Die vlieë deponeer hulle larfies weer eens in die oog en hulle migreer dan met die oogbloedvate na die regterhartkamers en dan na die longe. Hier breek die larfies deur die longsakkies tot in die klein lugpypies en migreer met die lugpyp op tot in die sagte verhemelte. Vandaar migreer hulle verder tot in die neusholte en sinusholtes. Die groot derde staduim larwes word weer eens uitgenies en val op die grond waar hulle tot papies ontwikkel waaruit vlieë kom.

In die blesbokke en wildebeeste se oë kan honderde larfies voorkom sonder enige nadelige gevolge. Hierdie larfies kan ook in die eerste staduim in diere oorwinter wanneer toestande vir vlieë in die natuur ongunstig is. Wanneer temperature in die lente weer vir die vlieë gunstiger word, sit die larfies hul lewensiklus voort.

Die gedragspatrone en reuke van blesbokke en wildebeeste lok hierdie vlieë aan. Dalk is dit hulle koppe wat aanhoudend geskud word.

Hierdie vlieë kan ook ander gashere “aanval” soos bv. vaalribbokke, beeste, skape, perde, honde en selfs mense. Die insidens mag selfs baie hoër wees as wat ons besef. Al hoe meer blesbokke en wildebeeste word op kleinhoewes rondom stede aangehou.

Die blesbok uitpeuloogvlieë veroorsaak uitpeuloogsiekte in abnormale gashere. Larwes word vasgevang op die oog, oog vergroot weens verminderde vloeistofuitruiling en vog samel aan. Die oog is nie meer sensitief vir lig nie en die gasheer kan nie sy oog knip nie. Die oog ontsteek, bars letterlik en sekondere bakteriese besmetting en ander vlieë soos spykerwurmvlieë lê hulle eiers in die oog wond.

Larfies kan ook die abormale gasheer se oogbloedvate penetreer en harttoestande tot gevolg hê. Die dier kan selfs akuut vrek.

Die wildebees uitpeuloogvlieë kan in abnormale gashere, behalwe uitpeuloogsiekte, ook lei tot ‘n breinmigrasie wat aanleiding tot senuweesimptome gee.

As blesbokke verskuif of uitgeskiet word, is daar ‘n gebrek aan natuurlike gashere en kan daar hoër insidens van uitpeuloogsiekte (veral in die lente) voorkom.

Indien beeste gereeld met ‘n vliegbeheermiddels soos Deltab (Intervet, Reg No. G2514), Delete-X5 (Intervet, Reg No. G3279) of opgietmiddels soos Delete (Intervet, Reg No. G2815), Delete All (Intervet, Reg No. G2837) en Delkol (Intervet, Reg No. G3550) (Deltametrien bevattende middels) behandel word, sal die vlieggetalle afneem.

Behandel die natuurlike draers van die vlieë met ‘n makrosikliese laktoon, Ivotan (Intervet, Reg No. G2858) as hulle verskuif word, om larwes te dood en voorkom dat vlieë in ‘n gebied ingebring word.

Raadpleeg u veearts vir die behandeling van die oë en ‘n waardevolle dier se oog kan selfs verwyder word.

 

  • Geskryf deur dr. Faffa Malan (Intervet), met inligting verskaf deur prof. I.G. Horak (Fakulteit Veeartsenykunde Universiteit van Pretoria).24 Januarie 2005

Kommentaar

Een kommentaar op “Oogsiektes

  1. Betsy Gast
    Betsy Gast

    Ons vind al hoe meer Waterbok en Rooihartebees wat besmet word, blind word an naderhand vrek van ellende
    Daar is beeste in die omgewing en baie blouwildebees en blesbok op ons grond
    Is daar raad?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X