Vra vir Faffa

Onbekende wurms in die tuin

Vraag

Ek het hierdie wurms in my tuin afgeneem waar hulle besig was om 'n boom te verslind. Kan u my help met die identifikasie van die wurms en hoe hulle bestry kan word? Dit wil voorkom asof die wurms net een keer per jaar hulle verskyning maak en dan gewoonlik in Desember.

Antwoord

Die insekte op die foto is larwes van die kiepersol pouoogmot (Bunaea alcinoe). U waarneming is korrek, hierdie spesie gaan deur net een generasie per jaar. Die larwes sal gedurende Januarie/Februarie die plant verlaat en in die grond onder die boom pupeer waar hulle sal oorwinter. Die volwassenes (motte) verskyn in die lente na die eerste goeie reëns en lê dan eiers op die gasheerplant en sit die siklus so voort.

Hierdie spesie het ‘n wye reeks gasheerplante, wat die kiepersol, essenhout, wit stinkhout, laventelkoorsbessie (Croton spp) en Bauhenia spp. insluit. Onder die regte omstandighede kan die larwes groot skade aanrig, maar gelukkig is groot uitbrake sporadies in die sentrale en noordelike dele van die land. ‘n Verwante spesie, die denne pouoogmot (Nudaurelia cytherea) is ‘n ernstige plaag in denneplantasies, veral in die Wes-Kaap.

Chemiese insekmiddels is al effektiewe beheermaatre?l. Indien slegs ‘n paar plante in die tuin geaffekteer is, kan u in die winter onder die bome skoffel en sodoende die papies versamel en dan vernietig. In die verlede is varke in plantasies gebruik om die papies uit te snuffel. Die papies is maklik herkenbaar – hulle is omtrent 5 tot 7 cm lank in is swart of donkerbruin.
Hierdie groep insekte is baie interessant. Die motte is van die grootstes wat in Suid-Afrika voorkom. Die vlerkspan van die denne pouoogmot is omtrent 15 cm en die van Bunaea is nie veel kleiner nie. Die motte is verder opvallend met ‘n “pouoog” kol op elke vlerk wat dien as beskerming teen predatore en ander vyande.

Dit is interessant om daarop te let dat hierdie insekte motte is en nie skoenlappers nie, ten spyte van hul grootte en opvallende kleure.

Geskryf deur: dr.

Victor Whitlock, Landboukonsultant (whitlockv@yahoo.com)

6 Januarie 2010


Kommentaar

Een kommentaar op “Onbekende wurms in die tuin

  1. janet gerber
    janet gerber

    .Die wurms bly in die doringboom. Is hulle giftig?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X