Vra vir Faffa

Nagana

Vraag

Ek soek meer inligting oor Nagana

Antwoord

Nagana val onder die groep siektes wat tripanosomiase veroorsaak. Die woord nagana kom van die Zuluwoord “nakane” wat tstetsevliegsiekte beteken. Ander siektes in hierdie groep is slaapsiekte by die mens wat veroorsaak word deur T. brucei rhodesience en slaapsiekte by perde wat veroorsaak word deur T. equiperdum. Die siekte word veroorsaak deur bloedparasiete (protoso?) bekend as trypanosome. Die parasiete is langwerpig, spits aan die ente en leef in bloedvog of –plasma tussen die bloedliggaampies. Die trypanosome teel aan deur hulself eenvoudig in die lengte in twee te verdeel. Die wat deur ’n tussengasheer oorgedra word, maak in die tussengasheer ‘n meer ingewikkelde aanteelproses deur.  

Vir foto’s van Trypanosoma spp. en die lewensiklus klik op die volgende webadres:
Nagana kom voor by alle mak soogdiere (beeste, skape, bokke, perde, varke, honde en word veroorsaak deur vier soorte trypanosome nl. Trypanosoma brucei, T. congolense, T. vivax en T. simiae. Hierdie parasiete word oorgedra deur tsetsevlie? en die siekte kom alleen voor in streke waar die tsetsevlie? leef, naamlik in die warm dele van Afrika, veral in die trope. 
Die trypanosome leef ook in die bloed van wildsbokke, maar hierdie diere word nie siek nie en dien as ‘n bron van besmetting vir die tsetsevlieg wat dan weer huisdiere kan besmet.
Tstetsevlie? wat besmet raak, bly ook ‘n bron van besmetting vir die res van hulle lewe en dien dan ook as ‘n groot bron van besmetting. Besmette vlie? kan ook deur voertuie oor lang distansies versprei word en in gebiede voorkom waar die siekte nie verwag word nie.
Verspreiding
Die voorkoms van trypanosomiase is grootliks afhanklik van die voorkoms van tstsevlie? (Glossina spp.).
·         Die eerste vlieggordel is Glossina morsitans morsitans en G. pallidipes. Klein areas in Malawi word verbind met groot areas in Zambi?, Zimbabwe en Mosambiek.
·         Die Glossina morsitans centralis vlieggordel dek gebiede van Wes-Zambi?, dele van Wes-Angola, die Kwandorivier dreineringsgebied van die oostelike Caprividistrik in Namibi? en die Okovangodelta in Botswana.
·         Die derde vlieggordel bevat die tsetsevlie? G. austeni en G. brevipalpis en dek die suidelike Matutuine distrik van Mosambiek en noordoostelike KwaZulu-Natal.
 
Beheer van die siekte berus op die beheer van die draers nl. die tsetsevlie?. ‘n Kombinasie van insekbehandelde beeste asook insekbehandelde voorwerpe wat die tstetsevlie? lok, word gebruik om die vlie? te dood.
Groot dele van die gebiede  is skoon gemaak van vlie? en waarneming word op ‘n deurlopende basis gedoen om die herindringing van tsetsevlie? op te spoor en dan te beheer.
Die voorkoms van trypanosomiase hang af van bees-vlie? kontak en varieer van area tot area asook van seisoen tot seisoen. Waar dele ontbos word vir landboudoeleindes neem die voorkoms van die siekte ook af.
Faktore wat ‘n afname in die voorkoms van trypanosomiase veroorsaak het, is die uitbreek van die runderpes wat miljoene beeste laat vrek het en die gebruik van die organochloor insekdoders. Deur die lugbespuiting van tsetsevlie? in Zululand (1945-1952) is G. pallidipes uitgeroei. Daarna het G.austeni en G. brevipalpis sporadiese uitbreke van trypanosomiase veroorsaak en in 1990 was daar ‘n groot uitbreek van bees trypanosomiase in KZN.
Huidiglik veroorsaak die siekte nog groot probleme vir beesboere in Angola, Mosambiek en Zambi?.
‘n Lewensiklus van die Trypanosoma vind in die Tsetsevlieg plaas en infeksie van die gasheer vind deur die speeksel of mis van die vlieg plaas. Die siekte kan ook meganies deur bytende vlie? of deur bloedbesmette naalde oorgedra word.
Kliniese tekens
Die siekte mag akuut, subakuut of chronies wees. Akute siekte kan dodelik wees na ‘n siekteverloop van 2 tot 6 weke en die chroniese siekte mag vir maande en selfs jare duur. Die inkubasietyd duur gewoonlik 3-12 dae.  Dan kry die diere koors wat op ‘n karakteristieke manier styg en daal. Die perd is besonder vatbaar vir T. brucei en die siekte by perde is gewoonlik akuut (vinnig). Beeste en skape is meer vatbaar vir T. congolense en ly aan ‘n chroniese, langdurige siekte. By honde kom albei parasiete voor en is die verloop vinnig of stadig. T. vivax is minder belangrik as die ander soorte trypanosome. T. simiae kom by varke voor.
Die siektetekens is oor die algemeen bloedarmoede, ernstige vermaering en verswakking. Swelsels van die vel, veral onder die buik en die bors kom voor, meer dikwels by perde as ander diere. Die verswakking lei tot lomerigheid, hoewel die diere gewoonlik goed vreet en tekens van verlamming van die agterbene kom voor. Produksieverliese (val in melkproduksie, aborsies) en selfs vrektes kan voorkom.
Ondeursigtigheid van die kornea kan voorkom en in sommige gevalle ontstaan ‘n bloedingsindroom met bloedings uit die ore, neus, mond, anus en vel.
In endemiese gebiede (waar die siekte natuurlik voorkom) is trypanosomiase  ‘n kuddeprobleem. Die algemene kondisie van die kudde is swak. Vrugbaarheid is swak met verlaagde kalfpersentasies en aborsies. Geboortemassa van kalwers is laag.
Nadoodse letsels
Nadoodse letsels is dié van bloedarmoede en vermaering. Die milt en limfkliere is dikwels vergroot, maar by perde soms glad nie. Die diagnose kan bevestig word deur ondersoek van bloedsmere, maar soms is die parasiete skaars en moeilik te kry, sodat smere herhaaldelik gemaak moet word.
Diagnose
Spesifieke diagnose is nie maklik nie omdat daar nie spesifieke kliniese tekens van trypanosomiase is nie. Die lae parasietlading maak dit baie moeilik om die parasiete in ‘n bloedsmeer op te spoor. Herhaalde ondersoeke van bloedsmere is dus nodig om die diagnose te bevestig.
Differensiale diagnose
Gedurende die verskillende stadia van die siekte kan trypanosomiase in beeste met verskillende siektes verwar word.
·         In die akute koorsstadium kan tripanosomiase met rooiwater (babesiose), anaplasmose en Ooskuskoors verwar word.
·         Waar die bloedingsindroom voorkom, kan tripanosomiase met miltsiekte en die bloedingsindroom wat deur Pasteurella multocida veroorsaak word, verwar word.
Bogenoemde siektes kan gelyktydig saam met trypanosomiase voorkom, wat die maak van ‘n diagnose verder bemoeilik.
Die kroniese vorm van trypanosomiase kan verwar word met
·         wanvoeding
·         en inwendige parasietbesmettings
·         ensoötiese beesleukose
In skape en bokke kan die siekte maklik met wurmbesmetting verwar word.
In varke  wat besmet is met T. simiae kom akute vrektes voor. Hierdie siekte kan verwar word met Afrika varkpes en miltsiekte.
Die kroniese vorm kan verwar word met wurminfeksie en wanvoeding.
In perde kan trypanosomiase verwar word met Afrika perdesiekte, miltsiekte en galkoors.
Kroniese trypanosomiase kan verwar word met Afrika perdesiekte, perde infeksieuse anemie en kroniese galkoors. Gewigsverlies kan verwar word met wurmbesmetting, wanvoeding en tandeprobleme.
Die siekte in honde kan verwar word met haakwurmbesmetting, bosluiskoors (babesiose) en ehrlichiose. Ondeursigtigheid van die kornea kan verwar word met honde hepatitis.
Behandeling
Aktiewes wat gebruik word, is: diminaseen, homidium bromide, homidium chloride, isometamidium, quinapiramien.
Entstowwe
Tot op hede is daar nog geen entstof teen trypanosomiase beskikbaar nie.
Bronne:
Coetzer, J. A. W and Tustin, R.C. 2004. Infectious Diseases of Livestock. Oxford University Press. ISBN 0 19 578202 X
Mönig,H.O en Veldman, F.J. 1975. Handboek oor Veesiektes. Tafelberg-Uitgewers
ISBN 0 624 00359 0
 
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)
27 Augustus 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X