Vra vir Faffa

Malkopsiekte by kleinvee

Vraag

Verduidelik asb. wat is presies die oorsaak van malkopsiekte by kleinvee. Diere toon die volgende tekens van mal wees: Hou die kop omhoog in die lug en draai gedurig in 'n sirkel. Hulle het min eetlus en stamp teen enige voorwerpe asof die diere blind is. Hoe kan dit behandel en hoe kan dit vermy word? - Charles Urip (alltech@iway.na)

Antwoord

Vraag:
Verduidelik asb. wat is presies die oorsaak van malkopsiekte by kleinvee. Diere toon die volgende tekens van mal wees: Hou die kop omhoog in die lug en draai gedurig in ‘n sirkel. Hulle het min eetlus en stamp teen enige voorwerpe asof die diere blind is. Hoe kan dit behandel en hoe kan dit vermy word? – Charles Urip (alltech@iway.na)

Antwoord:
Malkopsiekte of draaisiekte word veroorsaak wanneer die larwestadium (siste) van die lintwurm, Taenia multiceps, in die brein van kleinvee en wildsbokke voorkom. Die siste kan ook in die brein van mense ontwikkel en die siekte is dus ‘n soönose (‘n siekte wat van dier na mens oorgedra kan word).

Die volwasse lintwurm kom in die dermkanaal van die hond of jakkals voor. Ryp segmente vol eiers word uitgemis. Die eiertjies kom vry en skape, bokke en wildsbokke kan van die eiertjies eet. Die eiertjies broei uit in die dermkanaal, larwes penetreer die dermwand en kom in die bloedstroom. Larwes wat die brein of rugmurg bereik, ontwikkel tot volwasse blaaswurmsiste. ‘n Sist bevat heelwat vloeistof met ‘n hele aantal lintwurmkoppe daarbinne. As ‘n dier vrek, kan die kop, wat ‘n sist bevat, deur ‘n hond of jakkals gevreet word. Die blaaswurmsist word ingeneem en die lintwurmkoppe kom vry en heg vas aan die vleisvreter se maagwand.

Simptome:
Die aanwesigheid van die blaaswurmsist in die brein veroorsaak ‘n drukking wat aanleiding tot senuweesimptome gee. Die dier draai in die rondte, druk sy kop teen voorwerpe, lyk of hy blind is, die kop beweeg op en af en dit word skeef gehou. Die dier verloor ewewig, tel sy pote hoog op en is soms verlam. Die skedel kan sag word bokant die plek waar die blaas voorkom en dit kan soms gevoel word. By nadoodse ondersoek kan die blaas in die brein gevind word.

Voorkoming:
Behandel diere gereeld teen lintwurms bv. (Troscan, Intervet Reg. No. G2161 Wet 36/1947). Waar gevalle op die plaas voorkom, behandel elke maand. Onthou mense kan ook aansteek, daarom moet hande goed gewas word nadat met honde gewerk is. Moenie skape in die veld laat vrek wat simptome van draaisiekte het nie. Verhoed dat honde siste in kry deur karkasse te verbrand.

Behandeling:
Siste kan chirurgies verwyder word. Volgehoue behandeling met prasikwantel-bevattende produkte bv. Rid-A-Lint (Reg. No. G3213 Wet 36/1947) kan geprobeer word, maar sukses kan nie gewaarborg word nie.

Bron:
Kleinveesiektes, 1994, De Wet J.A.L. en Bath, G. Tafelberg-Uitgewers Bpk. ISBN 0624032035

4 Februarie 2005


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X