Vra vir Faffa

Hoe om weidings te vestig

Vraag

Wat is die beste metode om weidings te vestig?

Antwoord

VESTIGING VAN WEIDINGSGEWASSE

Suksesvolle vestiging van weiding is nie altyd so voor-die-hand-liggend as wat ‘n mens graag sal wil hê nie. Die meeste aangeplante weidingspesies is maar veredelde kultivars van ons natuurlike grasse en baie kere word daar gedink die saad kan maar net op die grond uitgegooi word en sal dan opkom.

Saad is te duur om dit te doen. ‘n Goeie saadbed moet voorberei word en kyk maar hieronder waarom  daar so baie kere mislukkings is.

  • Los saadbed: Indien die grond te los is, het dit gewoonlik groot vogverlies tot gevolg. Kompaksie net na vestiging met ‘n roller of drukwiel is belangrik om die saadbed ferm te kry en om die saad in nou kontak met die grond te bring.
  • Grondvog: Die ondergrond behoort tydens vestiging voldoende vog te bevat om goeie kiemplantontwikkeling te verseker.
  • Onkruid: Jong grasplante is meestal gevoelig vir kompetisie. Onkruidbeheer is dus noodsaaklik om vestiging te verseker.
  • Vestigingstyd: Tropiese (somer) en gematigde (winter) gewasse het elk hulle eie vestigingstyd. Plant somergewasse Oktober-Desember of meerjariges kan ook in Februarie geplant word, mits voldoende reën voorkom. Wintergewasse kan Februarie tot April (warm dele) geplant word. Plant op droëland in ‘n tydperk wanneer reënval normaalweg in die gebied voorkom.
  • Swak saad: Daar bestaan vir die meeste soorte grassaad ‘n minimum vereiste ten opsigte van suiwerheid en kieming. Koop by ‘n erkende handelaar om kwaliteit te verseker en dring aan op ‘n bewys van kwaliteit.
  • Ongeduld van die boer: Menige goeie vestigings is al te vroeg uitgeploeg weens ongeduld. 

Die volgende dien as riglyne vir beter vestiging:

 

Voorbereiding van die saadbed.

Indien ‘n ploegsool of enige ondeurdringbare laag in die ondergrond voorkom, behoort die grond diep geploeg of geskeurploeg (rip) te word, as eerste bewerking. Gewoonlik het sanderige grond nie so ‘n diep bewerking nodig nie.

‘n Ploegbewerking word soms vir ander redes vereis, byvoorbeeld vir onkruidbeheer. Die onkruid word dan diep ingewerk. Dit verhoed vinnige hergroei en kompetisie. Hierna kan die grond periodiek (een tot drie keer) met ‘n wisselgangskotteleg (dis), tandwerktuig (skoffel) of kapploeg bewerk word, om ‘n fyn onkruidvrye saadbed daar te stel.

Dit is egter belangrik om te onthou dat enige bewerking ‘n los saadbed tot gevolg het, wat probleme met ontkieming kan skep. ‘n Rolbewerking of besproeiing of ‘n harde reënbui (op die regte tyd) sal help om die saadbed te konsolideer. ‘n Reënbui is nie altyd moontlik nie en daarom kan ‘n roller gebruik word. Om te rol net voor plant en direk daarna word buitendien vir goeie grassaadvestiging aanbeveel.

Waar kweekgras natuurlik voorkom, moet verkieslik slegs tandwerktuie gebruik word, want skaarploeë hervestig die kweek. Die saadbedvoorbreiding moet dan ook oor ‘n langer periode strek (van die eerste reën in die seisoen tot einde Januarie). Die rede is om alle ‘hardnekkige’ grasse soos Kweek en Fynsaadgras deur herhaalde bewerking en bespuiting, met Roundup, dood te maak en dan in Februarie te vestig.

Geskryf deur:

Prof. Chris Dannhauser

Weidigskonsulant & Selected Seed

chriswei@vodamail.co.za

Selfoon: 082 873 4736


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X