Vra vir Faffa

Hoe om ontslae te raak van terpentyngras

Vraag

Hoe kan ek terpentyngras bestuur sodat ek daarvan ontslae kan raak of moet ek die gras maar doodspuit en ander gras probeer vestig?

Antwoord

Dit is jammer dat die gebied waaruit die navraag kom en die omvang van die probleem nie aangedui word nie. Soos ons almal weet, verskil veldtipes en veldbestuurspraktyke (bv. die gebruik van vuur, verskillende beweidingsmetodes, ens.) in verskillende dele van Suid-Afrika. Die voorkoms van die probleem op ‘n groot deel van die plaas versus ‘n klein, lokale probleem verander ook soms die manier waarop die probleem aangespreek moet word.

Verskeie terpentyngrasse (Cymbopogon spp.) kom in suidelike Afrika voor. Die mees algemene  is Smalblaar terpentyngras wat volop in die Suid – Afrikaanse bosveldgebiede en savannas voorkom.  Die groep grasse is onsmaaklik vanweë hulle hoë olie-inhoud (terpenoïede). Smalblaar terpentyngras is’n klimaksgras en kan as “Toenemer I gras” geklassifiseer word – dit neem toe as gevolg van onderbeweiding.

Daar is relatief min bekend rakende die bestuur van hierdie spesifieke genus.  Daar moet onthou word dat veldbestuur oor die algemeen op ‘n breë spektrum grasse gemik is – indien daar slegs vir een spesie bestuur word, word ander spesies ook beïnvloed. Dit is iets wat tot die boer se voordeel, maar in baie gevalle ook tot sy nadeel kan wees.  Omdat ons so min weet van die spesie, word die volgende bespreking gebaseer op navorsing wat op verskillende soortgelyke spesies gedoen is.

In die Suid-Limpopo Bosveld is gevind dat klimaksgrasse, waaronder rooigras, assegaaigras, terpentyngras (C. pospichili) en dekgrasse met brandbehandelings toeneem (hulle is sogenaamde vuur-klimaksgrasse).  Verder is daar ook gevind dat terpentyngras soms gedurende die vroeë lente deur vee benut word, wanneer slegs jong blare wat laag in olie-inhoud is, wel sporadies gewei word.  Namate die gras ouer word, word dit onsmaaklik deur die opbou van sellulose en lignien in die blare, harde bloeiwyses en ‘n verhoogde olie-inhoud.

Navorsing het verder aangedui dat hoë-intensiteit snybehandelings op ‘n suiwer stand Geeldekgras (Hyperthelia dissoluta), die gars ernstig kan benadeel en verminder. Die grasse het agteruitgegaan waar homogene stande elke drie maande oor ‘n ses jaar periode gesny is, terwyl ander grasse (meestal pioniers) mettertyd gevestig het. Sulke selektiewe, hoë-frekwensie ontblaring behoort dieselfde uitwerking op terpentyngras te hê.

Die gevolgtrekking hieruit is dat terpentyngras moontlik bestuur kan word deur dit in ‘n jong toestand te hou en te benut, hetsy deur brand, snybehandelings of drukbeweiding. Dit kom basies neer op die oorbenutting van die gras, met die oogmerk om daarvan ontslae te raak. Wat egter in gedagte gehou moet word, is dat die praktyke ook ander grasspesies wat in die gebied voorkom, nadelig mag beïnvloed. Hierdie is ‘n drastiese behandeling, wat tot ernstige veldagteruitgang kan lei as dit nie met oorleg gedoen word nie.

Graspolle kan ook meganies verwyder word, maar die koste daaraan verbonde kan hoog wees en die versteuring van die grond kan ook nadele inhou. Dit moet net in gedagte gehou word dat enige versteuring veld-agteruitgang tot gevolg het en dat dit kan terugkeer na ‘n pionierstadium. Groot areas wat meganies behandel word, sal ‘n groter invloed hê as waar individuele polle met ‘n skoffelpik uitgehaal word. In die eerste geval sal die mate van versteuring die oorwegende faktor wees, terwyl arbeidskoste in die tweede geval die oorweging is. Op klein skaal kan die uithaal van polle oorweeg word, mits die grondversteuriing nie te groot is nie.

Wat die doodspuit van terpentyngras aanbetref, kan ‘n grasdoder, soos glifosaat gebruik word, maar dit is geregistreer  om alle grasse te dood. Totale aanwending (sogenaamde “kombersbespuiting”) met ‘n trekker of selfs ‘n rugsakspuit is ‘n gevaarlike praktyk , aangesien dit totale verlies aan bedekking kan veroorsaak. Indien dit wel oorweeg word, is behoorlike saadbedvoorbreiding nodig om ‘n alternatiewe weiding te vestig. Saad is te duur om dit net uit te strooi na die dekgras gedood is en die kanse vir susksevolle vesting in ‘n onvoorbereide saadbed is skraal.

Geskryf deur: Dr. Jorrie Jordaan (Universiteit van Limpopo) (jorrie.jj@gmail.com) en

Prof. Chris Dannhauser (chriswei@vodamail.co.za)

26 April 2016


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X