Vra vir Faffa

Hartwater: Voorkoms, behandeling en voorkoming

Vraag

'n Leser soek meer inligting oor hartwater, onder meer hoe sy diere daarteen ingeëent kan word.

Antwoord

Vraag:
Ek soek inligting oor hartwater. Ek moet lammers van ‘n nie-hartwatergebied verskuif na ‘n gebied waar hartwater voorkom. Vertel my meer van die stappe wat ek moet neem om die diere in te ent. – M. Van Niekerk (www.21333939@student.nwu.ac.za)

Antwoord:
Inleiding
Hartwater is ‘n bosluisoorgedraagde siekte van beeste, skape en bokke asook sommige wilde herkouers (bv springbokke). Dit is een van die belangrikste bosluisoorgedraagde siektes by beeste, skape en bokke in Suid-Afrika. Bosluise veroorsaak na raming jaarliks meer as R400 miljoen se verliese onder vee in Suid-Afrika, waarvan hartwater se verliese meer as R28 miljoen per jaar beloop.

Hartwater kan doeltreffend met bloedentstof beheer word. Dit word veroorsaak deur ‘n mikroörganisme Ehrlichia (Cowdria) ruminantium. Die siekte word algemeen gekenmerk deur ‘n hoë koors, senuweesimptome en versameling van vloeistof rondom die hart en in die borsholte, longe en brein. Dit lei meestal tot die dood van die dier. Die veroorsakende organisme, E. ruminantium, word deur die bontbosluis Amblyomma hebraeum, oorgedra. In die natuur word besmetting slegs deur die nimf- en volwasse stadium van die bosluis oorgedra.

Voorkoms en verspreiding van hartwater
Hartwater kom net voor waar die bontbosluis wat die siekte veroorsaak, voorkom en dit is hoofsaaklik in die warm en klam laeveld- of bosveldgebiede. Hartwater kom hoofsaaklik in die oostelike gedeelte van Suid-Afrika vanaf die Limpopo Provinsie tot sover suid as Mosselbaai in die Wes-Kaap voor.

Hoe diere besmet word
Die siekte kom voor wanneer ‘n besmette bosluis op ‘n vatbare dier voed. Bosluise raak besmet met die hartwaterorganismes wanneer hulle voed op ‘n besmette dier by wie die organismes op daardie stadium in die bloed sirkuleer. Volgesuigde bosluislarwes en nimfe val van die gasheer af en vervel binne 4-6 weke onderskeidelik tot nimfe en volwassenes. Wanneer hulle weer voed, word die besmetting na nuwe gashere oorgedra. Besmette volwasse bosluiswyfies speel geen verdere rol nadat hulle volgesuip, afgeval en eiers gelê het nie aangesien hulle dan vrek. Die hartwateroganismes word nie deur die eiers na die volgende geslag bosluise oorgedra nie. Gewoonlik is minder as 10% van die bontbosluise in hartwatergebiede besmet.

Buiten beeste en kleinvee kan groot- en kleinwild, hase en sommige grondlewende vo&eumlls (bv tarentale) subklinies (nie sigbare vorm) met hartwater besmet word. Alhoewel hulle geen kliniese tekens van die siekte toon nie, kan hartwaterorganismes in hulle bloed sirkuleer. Bosluise wat op hulle voed, kan dus besmet word. As gesonde draers van die siekte speel hierdie diere en vo&eumlls ‘n belangrike rol in die handhawing van die besmetting in bosluise en gevolglik in die voorkoms van die siekte. Aangesien hierdie diere nie soos beeste gedip kan word nie, dien hulle dikwels as gashere waarop bosluise voed. Die bontbosluis, en gevolglik hartwater, kan dus nie maklik uitgeroei word in gebiede waar groot- en kleinwild voorkom nie.

Wanneer hartwater voorkom
Hartwater kom heeljaar voor. Die voorkoms wissel na gelang van die bosluisbevolking en hulle aktiwiteit, en is gevolglik minder straf in die wintermaande. Die verskuiwing van diere wat besmette bosluise dra na of deur gebiede wat vry van hartwater is, kan tot verliese onder vatbare vee lei, indien hulle besmet raak deur bosluise wat van die diere afgeval het. Die bosluise oorleef egter selde langer as een seisoen in ‘n gebied waar die klimaat nie vir hulle geskik is nie.

Beeste, veral inheemse rasse, ouer as een jaar en pasgebore kalwers tot ‘n ouderdom van 4-6 weke het ‘n nie-spesifieke weerstand teen hartwater. Baie van hulle toon na besmetting slegs ‘n geringe styging in liggaamstemperatuur of selfs geen siektetekens nie. Die nie-spesifieke weerstand in pasgebore lammers en bokkies duur egter slegs tot op ‘n ouderdom van ongeveer 1 week. Hierdie verskynsel in pasgebore diere word benut tydens inenting. Die weerstand is egter nie volkome nie en besmetting van sommige kalwers jonger as 3 weke, en sommige lammers en bokkies jonger as ‘n week oud, kan noodlottige gevolge hê.

Herkouers kan ‘n natuurlike hoë weerstand teen die siekte hê. Diere wat in ‘n hartwatergebied gebore word, word gewoonlik, maar nie noodwendig altyd nie, reeds van kleins af aan besmette bosluise blootgestel wat hulle besmet wanneer hulle nog deur die ouderdomgeassosieerde natuurlike weerstand teen kliniese siekte beskerm word. So verkry die meeste jong diere ‘n immuniteit wat daarna gereeld geskraag word met herhaalde herbesmetting deur bosluise. Verliese weens hartwater kom meesal voor wanneer ouer diere (beeste, skape, bokke) wat nog nooit voorheen blootgestel was nie, na ‘n hartwatergebied (endemiese gebied) verskuif word, of wanneer diere in ‘n endemiese hartwatergebied hulle immuniteit verloor omdat hulle nie aan herbesmetting blootgestel word nie.

Siektetekens en diagnose
Die broeitydperk of inkubasieperiode (tydperk tussen besmetting en die ontstaan van siektetekens) na natuurlike besmetting van beeste wissel van 9-29 dae (gemiddeld 18 dae), by skape en bokke is dit 7-35 dae (gemiddeld 14 dae). Aangetaste diere het ‘n koors wat wissel van 40°C -42°C, hulle vertoon lusteloos, skuim loop uit die bek, wil nie vreet nie en sak uit by die res van die kudde of trop. Met verloop van die siekte vind toenemende bewegingsteurnisse plaas en senuweesimptome word waargeneem. Diere tel hulle pote hoog op as hulle loop, veral die voorpote. Asemhaling word al hoe moeiliker, die diere staan met hulle koppe omlaag en maak aanhoudende koubewegings. Sommige diere stoot met hulle koppe teen vaste voorwerpe. Uiteindelik gaan lê die aangetaste diere op hulle sye met die kop na agter getrek en die pote uitgestrek. Hulle maak dikwels, veral as hulle gesteur word, trapbewegings met die pote.

Diere wat aan hartwater ly, is gevoelig vir lig en knip hulle ooglede vinnig as hulle aan lig blootgestel word. Gewoonlik rol die oë vinnig heen en weer in die oogkaste. Wanneer die dier amper dood is, daal die liggaamstemperatuur tot onder normaal. Wanneer vermoed word dat ‘n dier aan hartwater gevrek het, moet ‘n veearts ‘n nadoodse ondersoek op die dier doen en die nodige monsters neem vir bevestiging van die siekte. ‘n Voorlopige diagnose van hartwater kan gewoonlik op grond van die siektekens en nadoose letsels gemaak word, maar dit is dikwels moeilik om dit van ander toestande wat soortgelyke siektetekens vertoon, te onderskei. In verdagte gevalle van hartwater kan die diagnose slegs bevestig word indien ‘n veearts breinsmere mikroskopies ondersoek.

Behandeling
Siek diere moet so gou as moontlik nadat siektetekens waargeneem is, behandel word. Enige van die verskeie formulasies van tetrasiklien antibiotika (voorbeelde is Reverin 100 (G2871), Reverin L.A. (G3442) en Engemycin 10% (G2470)) word aanbeveel vir die behandeling van hartwater. ‘n Dosis van tetrasiklien ooreenkomstig liggaamsmassa moet binnespiers of verkieslik binne-aars toegedien word. Nie alle tetrasikliene kan binne-aars toegedien word nie en daarom moet die ingeslote voubiljet deeglik bestudeer word. Behandeling moet die volgende dag met ‘n binnespierse toediening opgevolg word.

Dit is raadsaam om ‘n veearts te ontbied om waardevolle diere te behandel. Die veearts sal lewensreddende en ondersteunende behandeling gee wat onder andere binne-aarse vloeistofterapie, hartstimulante en kalmeermiddels mag insluit. Die algemeenste rede waarom diere vrek ten spyte van behandeling, is dat die tetrasiklien te laat en geen lewensreddende terapie toegedien word nie. Teen die tyd dat kliniese tekens waargeneem word, het die dier waarskynlik alreeds vir 4-6 dae ‘n koors gehad en is dit moontlik reeds te laat om te behandel. Noukeurige waarneming deur ‘n goeie kuddebestuurder is dus noodsaaklik. Indien daar enige twyfel is of die dier siek is of nie moet die koors dadelik geneem word en vergelyk word met dié van ‘n paar gesonde diere. Indien die verdagte siek dier ‘n koors het, moet behandeling onverwyld gegee word.

Voorkoming en beheer
Hartwater kan beheer word deur: Die inenting van kalwers (onder 4 weke ouderdom) en lammers en bokkies (binne die eerste week na geboorte). Op dié ouderdom is behandeling na inenting gewoonlik nie nodig nie. Die behandeling van siek diere en die oordeelkundige beheer van die getalle bontbosluise waaraan diere blootgestel word.

  • Bosluisbeheer. Volgehoue intensiewe bosluisbeheer (bontbosluis) in hartwater endemiese gebiede (hartwater kom altyd daar voor) word nie op die langtermyn aanbeveel nie. As ‘n tydelike maatre&eumll kan dit toegepas word. Oordeelkundige bosluisbeheer, waar genoegsame bontbosluis getalle teenwoordig is om hartwaterimmuniteit in die diere te handhaaf deur gereelde herbesmetting, is die enigste praktiese uitvoerbare en logiese benadering in hartwatergebiede van Suid-Afrika. Vee word op ‘n natuurlike wyse deur bosluise besmet of kunsmatig met hartwater bloed inge&eumlnt sodat die diere hulle immuniteit instand hou deur gereelde herbesmetting deur bosluise, nie minder nie as elke 6-9 maande. Dip die diere slegs wanneer lastige of skadelike getalle bosluise op diere voorkom. Raadpleeg ‘n veearts indien u meer inligting aangaande hartwater en bosluisbeheer wil bekom.
  • Wat intensiewe skaapboerdery in hartwatergebiede betref, kan totale bosluisbeheer slegs suksesvol toegepas word indien aangeplante weidings nie deur bosse begrens word nie, die inbeweeg van bosluise mbv ‘n grasvrye strook verhoed word en geen kleinwild, hase en tarentale toegang tot die lande het nie.
  • Immunisering van diere met hartwaterbesmette bloed ("hartwaterentstof").

    Die entstof bestaan uit die bloed van skape wat besmet word met lewende hartwaterorganismes (E. ruminantium). Die entstof is net beskikbaar in ‘n diepbevrore vorm. Inenting met hartwaterbesmette skaapbloed ("hartwaterentstof") sal natuurlike bosluisbesmetting van jong diere met hierdie organismes aanvul, maar sal ook immuniteit by diere wat natuurlike besmetting vrygespring het, verseker. Aangesien die entstof lewende hartwaterorganismes bevat, kan inge&eumlnte diere wisselende grade van hartwater ontwikkel wat soms behandeling mag vereis.

    Die konvensionele immuniseringsmetode (inentingsmetode)
    Hierdie metode behels die toediening van die entstof en die behandeling van die dier slegs wanneer ‘n duidelike koorsreaksie intree. Dit is die betroubaarste metode waardeur inentingsverliese voorkom en ‘n goeie immuniteit verkry kan word. Die metode is arbeidsintensief en dus by uitstek geskik vir kleiner getalle waardevolle diere.

    Vanaf die dag na inenting word die rektale temperatuur van elke dier daagliks vroeg in die oggend op dieselfde tyd voor die inname van kos gemeet. Verseker dat die termometer waarmee die rektale temperatuur gemeet word korrek funksioneer en gekalibreer is. Om te kan besluit wanneer die eerste dag van die koorsreaksie is, moet ‘n berekening gemaak word van die gemiddelde, normale temperatuur wat die koorsreaksie voorafgaan (dit wil sê in die geval van kleinvee oor die 6 dae en in geval van beeste oor die 10 dae wat volg op inenting). Gewoonlik is die temperatuur op die eerste dag van die koorsreaksie 1°C of meer ho&eumlr as die gemiddeld van die voorafgaande dae. Dit gebeur by kleinvee ongeveer 9-14 dae en by beeste 14-18 dae na inenting. In enkele uitsonderlike gevalle toon beeste al ‘n koorsreaksie 5 dae na inenting. Dit kan egter in uitsonderlike gevalle in kleinvee so vroeg as 7 dae en by beeste so lank as 25-30 dae na inenting wees.

    Dit is ongewens en onnnodig om reeds op die 1ste dag van koors te behandel, behalwe in uitsonderlike gevalle met hoogs vatbare diere waar ‘n skielike styging van 1,5 of meer grade tot ongeveer 41,5°C of ho&eumlr waargeneem word. Afgesien van sulke uitsonderlike gevalle, moet slegs behandel word indien die temperatuur op die 2de dag gelykstaande en/of ho&eumlr is as op die 1ste dag van koors. Behandeling word toegepas deur een van die tetrasiklienmiddels (kyk Hoofstuk 8 nr 18) binnespiers toe te dien teen ‘n dosis van 10 mg aktiewe bestanddeel (bv oksitetrasiklien hidrochloried) per kg liggaamsmassa. Ander metodes van hartwater beheer is die blokmetode, doksisiklienpilmetode en massablootstellingsmetode aan bontbosluise. Raadpleeg u veearts vir verdere besonderhede.

    Inenting van pasgebore kalwers en lammers/bokkies
    Indien kalwers inge&eumlnt word voordat hulle 4-6 weke oud is, sal hulle gewoonlik nie kliniese tekens toon nie, maar nogtans ‘n immuniteit ontwikkel. Alhoewel jong kalwers oor die algemeen nie behandel hoef te word nie, mag tussen 10-20% van die kalwers tog ‘n koorsreaksie ontwikkel. Enkele van dié kan verdere siektetekens toon en moet behandel word. Die immuniteit wat in die geval van kalwerinenting ontstaan, is van relatief korte duur en dit is dus belangrik dat die kalwers binne 3 maande na inenting deur bosluise herbesmet moet word. Pasgebore skaap- en boklammers moet binne die eerste week na geboorte inge&eumlnt word om sodoende kliniese reaksies wat behandel moet word, te vermy. Angorabokke ontwikkel nie ‘n goeie immuniteit nie en boere in die Oos-Kaap behandel hulle bokke voorkomend met tetrasikliene.

    By al die inentingsmetodes is die volgende drie aspekte belangrik:

  • Diere moet vir ‘n volle maand na inenting daagliks goed dopgehou word, sodat hulle vroegtydig behandel kan word sodra enige siektetekens waargeneem word. In die geval van die doksisiklienpilmetode moet die ge&eumlnte diere vir 2 maande dopgehou word.
  • Inge&eumlnte diere moet so gou as moontlik na inenting aan natuurlike bosluisbesmetting blootgestel word om die immuniteit te skraag (versterk).
  • Dragtige diere moet verkieslik nie inge&eumlnt word nie, want hulle kan aborteer. Vatbare dragtige diere wat in hartwaterveld ingebring word, moet skoon gehou word van bosluise totdat hulle kalf/lam, waarna hulle inge&eumlnt kan word.

    Entstof gebruiksaanwysings
    Raadpleeg die hartwater voubiljet wat verskaf word met entstof verkope of ‘n veearts oor die entstof gebruiksaanwysings. Die entstof moet op droë ys (-70°C) vervoer en geberg word. ‘n Gewone huishoudelike vrieskas (-10 tot 18°C) is nie geskik vir die stoor van die entstof nie. Ontdooi die entstof in louwarm water (40°C of liggaamstemperatuur) en dien dit onmiddellik binne-aars teen ‘n dosis van 3 m? vir beeste, skape of bokke ongeag van die ouderdom of grootte (gewig) toe. Ontdooi slegs soveel entstof as wat onmiddellik toegedien kan word. As die entstof eers ontdooi is, kan dit nie weer bevries word nie. Dragtige diere kan aborteer indien ernstige entstofreaksies ontwikkel. Immuniteit teen hartwater ontwikkel 4-6 weke na toediening van die entstof. Inge&eumlnte diere sal beskerm word teen hartwaterstamme (nie noodwendig alle stamme nie) wat natuurlik deur die bontbosluis oorgedra word. Hartwaterentstof moet nie saam met rooiwater- of anaplasmose-entstof toegedien word nie. Die hartwaterentstof kan wel saam met ander entstowwe toegedien word.

    Lees ook die volgende antwoorde:

  • Hartwater – behandeling: Klik hier om die artikel te lees.
  • Simptome van hartwater: Klik hier om die artikel te lees.
  • Is die beeste teen hartwater bestand? Klik hier om die artikel te lees.

    Geskryf deur: dr. Jan du Preez, Intervet MPO Instituut vir Suiweltegnologie en dr. Faffa Malan, Intervet ‘n deel van Schering-Plough

    Bron:Du Preez, J.H. en Malan, F.S. 2007. Entstowwe en immunisering van plaasdiere. Agri Connect (Edms) Bpk. ISBN: 978-0-620-37335-7

    4 April 2008


Kommentaar

Kommentaar (7) “Hartwater: Voorkoms, behandeling en voorkoming

  1. ROBERT PRETORIUS
    ROBERT PRETORIUS

    Beste dr JAN
    Ek boer al die afgelope 30 jaar in hartwatergebied by Mareetsane(Vryburg) area
    Ek het altyd DOXIMPLANT-B GEBRUIK OM DIE DIERE TE BLOK WAT EK MET BESMETTE BLOED INGE-ENT HET.
    EK WIL NET WEET WAAR KAN EK DIT WEER IN DIE HANDE KRY
    GEO-SCHULTZ LABORATORIES HET DIT ALTYD VIR MY GESTUUR DEUR N VEEARTS VOORSKRIF
    KAN JY DALK HELP ASSEBLEGROETE
    ROBERT PRETORIUS
    TEL 0827790969

    • Jan Bezuidenhout

      Robert, Ons stuur jou navraag aan.
      Groete

  2. Madelein de Lange
    Madelein de Lange

    Ek is opsoek na ‘n kaart wat vir my sal toon waar is Hartwater gebiede in Suid Afrika.

  3. Japie Booyse
    Japie Booyse

    Goeie dag.ek het so 6 mnde terug n klompie koeie vanderbijlpark omgewing toe gebring uit hartwatergebied.en wil hul nou weer terug skuif.moet ek hul slegs tetracicline inspuit en vir hoelank.groete japie

    • Corli van der Merwe
      Corli van der Merwe

      Hallo Japie. Dankie vir jou navraag. Ek stuur dit direk aan Dok Faffa, hopelik kan hy raad gee. Groete, Corli van der Merwe.

  4. hendrik
    hendrik

    Ek boer nou al n jasr en half die veld is bergagtig en baie wild en gras is baie geil het eers n probleem gehad met bosluise dit was m gesukkel om dit onder beheer te kry en ons het dit reggekry, nou is daar n probleem die groot ooie vrek het ons lamsiek ingeent.en d


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X