Vra vir Faffa

Grootmaak van ‘n volstruiskuiken

Vraag

As ek nou honderde volstruisies gehad het, sou ek dalk nie so naarstigtelik gesoek het vir antwoorde nie… maar ek het net enetjie kon red uit ‘n broeisel. Ek het ‘n weekoue struisie gered nadat ek gesien het hy dwaal ver van die mamma af. Sy ogies was omtrent toe, lyk of die onderlid aan die bolid vassit. Ek het rondgevra, maar niemand kan raadgee nie. Ons het sy ogies met verdunde blousel begin was, dan is die een ogie oop, ander op ‘n skrefie. Omdat hy nie kan sien nie, eet hy ook bitter min. Hy pik-pik hier en daar. Het selfs ‘n hoenderkuiken by hom laat wei, maar ek weet nie hoeveel hy inkry nie.. .het tot verdunde baba-pap probeer gee. HELP asseblief wil hom so graag help. Hy is ook baie 'onvas' op sy beentjies.. ons sit hom bedags in n klein kampie … gruis gestrooi en volstruismeel en hoenderkuikenkos gegee, maar vanaand lyk hy maar sonder krag. Kan u my asb so gou moontlik probeer antwoord. Ek het net sy ouers, hul is ons waghonde!

Antwoord

Ongelukkig oorleef baie min volstruiskuikens in die natuur. Indien hierdie ‘n anatomiese afwyking is – verkleinde oogontwikkeling kan mens ongelukkig niks doen nie.

Hulle is maklike prooi vir verskeie roofdiere en op die jong ouderdom is klein grys muishonde ‘n groot probleem.

’n Verdere uitdaging is hulle omgewing waar daar uiterste weersomstandighede kan wees. Omdat hulle in droë dele voo kom, is daar ook min kos beskikbaar en groot afstande moet dikwels gestap word deur ma, pa en kuikens.

Kuikens leer van vroeg af om in te prent op hulle ouers veral met betrekking tot beskerming, vreet en inname gedrag.

Die oogontsteking kan ‘n gevolg wees van ‘n omgewingsirritasie soos grassade en stof. Infeksies tree opportunisties op. Vir behandleing  word die oë skoongemaak met lou soutwater en dan  kan ‘n oog antibiotiese preperaat twee keer per dag gegee word.

Die uitdaging is die volgende: wilde kuikens is wild en stres met gereelde hantering omdat hulle nie gewoond is daaraan nie.

Sy vreetgedrag is versteur deur in ‘n vreemde omgewing te wees asook sy onvermoë om kos/ voer te vind. Die voer is ook vreemd deurdat kommersiële rantsoene baie hoër energie en laer proteїen- en veselwaardes het as waaraan hy gewoond was.

Probeer om ‘n papmengsel van lusernpille te doseer asook loperige Pro-Nutro konsistens [10-20ml/kg]. Hulle slukderm is baie groot. ‘n Probiotika kan bygevoeg word sodat mens hulle net eenmalig hanteer.

Dit sal goed wees om ‘n surrogaat of oppasser by hulle te sit. Hulle leer gou. ‘n Konyn of selfs ‘n bok werk goed.

Ongelukkig wys hulle kliniese toestand ook eers baie laat dat hulle terminaal siek is en die uitkoms vir herstel is baie swak.

Geskryf deur: Dr. Adriaan Olivier, Veearts, aolivier@kleinkaroo.com.

3 Januarie 2018


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X