Vra vir Faffa

Gousiekte

Vraag

Ek boer in Natal tussen Newcastle en Ladysmith en op dele van my plaas is daar "gousiekte" soos my pa en oupa dit genoem het. Kan ek iets daaraan doen of moet ek maar vrede maak daarmee? Dit is ‘n plantjie wat geëet word deur my skape van omtrent November tot Mei d.w.s. in die somermaande. Dankie Schalk Meintjes.

Antwoord

Gousiekte is ‘n siekte van beeste, bokke en skape en word gekenmerk deur akute hartversaking sonder enige vooraf tekens. Siektetekens tree na 4 -8 weke (latente periode)  na die inname van sekere plante van die familie Rubiaceae in. Hierdie siekte word beskou as die vierde of vyfde mees belangrike plantvergiftiging van beeste en kleinvee in Suid-Afrika.

Siektetekens
Walker het in 1908 die tekens as volg beskryf: Diere wat besig is om te rus of wat rustig wei, sal skielik een of tweekeer in die rondte draai, blêr, of in die lug spring en dood neerval. As hulle dalk gewei het of besig was om te herkou, kan die koutjie nog in die bek gevind word. Diere vrek akuut vandaar die naam “Gousiekte”.
Vrektes kan aangehelp word deur oefening en dit kan die gesondste diere wees wat omkom. Uitsonderings wat mag voorkom, is diere wat swak is. Hulle raak agter in die kudde, loop waggelend, haal moeilik asem en kan onderhuidse swelling hê. Herstelkans is raar.
Gifstof
Dr. Neil Fourie het die gifstof, pavetamien, geïsoleer. Die gifstof veroorsaak dat die normale spierweefsel veral in die hart (endokardium) verplaas word deur fibrotiese weefsel en dat daar ronde selle is wat die gesonde weefsel binnedring.  Die primêre letsel in gousiekte is die inhibering van die sametrekkende meganisme van die hele hartspier en gevolglik treë hartversaking in. Studies in rotte het aangetoon dat pavetamien die vervaardiging van proteïene in die hart inhibeer.
Plante wat die vergiftiging veroorsaak:
Pachystigma pygmaeum (harige gousiektebossie)
Om te sien hoe die bossie lyk en waar hy voorkom, klik op onderstaande webadres.
Die gousiektebossie op die hoëveld verkies rooi sanderige grond en klipveld terwyl die plant in die oostelike hoëveld en Waterbergdistrikte van Limpopo  in dolomiet- en sandsteenareas voorkom.
Pachystigma thamnus (Natal gousiektebossie, gladde gousiektebossie)
Om te sien hoe die bossie lyk en waar hy voorkom, klik op onderstaande webadres.
Die plant groei dikwels saam met die harige gousiektebossie, veral in Gauteng en Mpumalanga. Die plant verkies swak sanderige grond om in te groei.
Pachystigma latifolium
Om te sien hoe die bossie lyk en waar hy voorkom, klik op onderstaande webadres.
Die plant kom voor in oop en klipperige grasvelde, die grasbanke van strome, rivierbosstroke of die kussandstroke.
Fadogia homblei (wildedadel)
Om te sien hoe die bossie lyk en waar hy voorkom, klik op onderstaande webadres.
Die plant kom algemeen voor op wit, grys of bleek gronde in noordelike Gauteng en aangrensende dele van Mpumalanga- en die Limpopoprovinsie. Kom ook voor in die Magaliesberge en oostelike eskarpement van Swaziland tot die Soutpansberge en noordwaarts tot in Limpopo en tot in Sentraal Afrika.
Pavetta harborii (Tonnabossie)
Om te sien hoe die bossie lyk en waar hy voorkom, klik op onderstaande webadres.
Tonnabossie groei in diep sanderige grond veral in suidelike Botswana, noord-wes Limpopoprovinsie naby Rooibokkraal, Ellisras en Soutpan.
Pavetta schumanniana (gifbruidsbos, gousiekteboom)
Om te sien hoe die bossie of soms as klein boom lyk, klik op onderstaande webadres.
In Suid-Afrika groei die plant in die suur bosveld van Limpopoprovinsie, Mpumalanga, en Noord KZN en hou veral van rotsagtige plekke of heuwelhange.
Vergiftiging
Gewoonlik moet groot hoeveelhede van die plante ingeneem word om vergiftiging te veroorsaak, maar uitsonderings kom voor dat ‘n enkel dosis fataal kan wees. Daar is ‘n geval gerapporteer waar 60% van 1 761 skape gevrek het nadat hulle vir minder as 24 uur aan gousiektebossies blootgestel was.
Die dodelike dosis van harige gousiektebossie was 175 kg/kg tydens ‘n proef, maar sommige skape wat 47g/kg oor ‘n dag ontvang het, het ook gevrek. Uitdroging van die blare het ook die dosis 3 tot 4 keer laat afneem. In bokke was die toksiese dosis van droë gladde gousiektebossie 210-500 g/kg met ‘n latente periode van 51 tot 93 dae. Wildedadel het vrektes in beeste veroorsaak teen ongeveer 53 g/kg gedroogde materiaal. In al die eksperimente wat gedoen is, is gevind dat daar verskille in vatbaarheid tussen diere was.
Plante verskil ook in hulle giftigheid tydens jare en selfs binne ‘n seisoen. Daar is gevind dat waar beeste wildedadel, wat in die lente gepluk is, gevoer is met 20% van hulle liggaamsgewig, hulle gevrek het terwyl wildedadel wat in die winter gepluk is nie vergiftiging veroorsaak het nie al het hulle hul eie liggaamsgewig plante geëet. Giftigheid kan ook beïnvloed word deur lokaliteit, grondtipe en klimaatsomstandighede.
Omgewingsomstandighede en gousiekte
Die voorkoms van gousiekte is hoog wanneer weerstoestande en bestuurspraktyke die voorkoms van die gousiekteplante bevoordeel. As die vroeë somer droog is, verskyn die harige gousiektebossie in groot getalle in Januarie en Februarie, wat groot vrektes tot gevolg het. Algemeen gestel, die hoeveelheid gousiekteplante wat gevreet word, sal afhang van die kondisie van die weiding. Gousiekte is ‘n groot probleem waar oorbeweiding voorkom. In suurveld waar die grasse onsmaaklik begin word, kan gousiektebossies in die laat somer gevreet word.
In die suur bosveld waar veld jaarliks gebrand word, word die groei van wildedadel ook gestimuleer veral voor of net na die eerste lentereëns en vrektes kom voor.
Vergiftiging deur tonnabossie en gousiekteboom kom deur die jaar voor as weiding skraps begin word.
Vergiftiging stop na die eerste ryp.
Uitroeiing en voorkoming
Al is die veld hewig geïnfekteer met die harige gousiektebossie is die verdere verspreiding van die bossie deur saad of uitbreiding vanaf die huidige bossie baie stadig. Vrugte word deur insekte geparasiteer en gevreet deur diere. Verwydering van die sagte weefsel lei tot uitdroging en swamgroei. Die sade moet blykbaar deur grond bedek word, voordat hulle kan ontkiem.
Deur bewerkbare grond gereeld te ploeg, kan die plante uitgeroei word. Deur plante uit te grawe op weiding sal ook die probleem verminder.
Gousiekte kan beheer word deur goeie weidingsbestuur. Skape bewei die harige gousiektebossie meer geredelik as beeste en deur skape en beeste saam ‘n kamp te laat bewei, beskerm skape die beeste van te hoë innames.
Intensiewe beweiding van gevaarareas voorkom dat individuele diere te veel van die plante inneem. Omdat die plante baie stadig groei, kan herhaalde beweiding van skape die gousiektebossies binne nie-giftige vlakke hou.
Baie min is gepubliseer oor die chemiese beheer van gousiektebossies. Herbisiede wat fenak of pikloram bevat, het aangetoon dat hulle die gousiektebossies beheer sonder om omliggende grasse skade aan te doen. Die beste tyd om die middels toe te dien, is in die herfs wanneer aktiewe groei van die plante gestaak het.
Indien vermoed word dat diere gousiektevergiftiging opgedoen het, kan hulle voorkomend geslag word in die lang latente periode voordat hulle moontlik kan vrek. Die vleis van hierdie diere kan dan nog gebruik word.
Dr. Neil Fourie het gevind dat deur aspertaat transaminase aktiwiteit in die bloed deur ‘n veearts te laat toets, verhoogde waardes sal aandui of die dier gousiektevergiftiging opgedoen het.
Bron:
Kellerman, T.S., Coetzer, J.A.W.,Naude, T.W. and Botha, C.J. 2005. Plant Poisonings and Mycotoxicoses of Livestock in Southern Africa. Oxford University Press. ISBN 978 0 19 57613 4
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)
14 November 2011

Kommentaar

Een kommentaar op “Gousiekte

  1. Herman Steyn
    Herman Steyn

    Sterkte


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X