Vra vir Faffa

Geeldikkop by skape

Vraag

Watter voorkoming en behandeling kan vir geeldikkop toegepas word? - Adriaan (n13147w@iafrica.com.na)

Antwoord

Vraag:
Watter voorkoming en behandeling kan vir geeldikkop toegepas word? – Adriaan (n13147w@iafrica.com.na)

Antwoord:
Voordat ons by die behandeling en voorkoming van geeldikkop kom, moet ons eers verstaan hoe die “siekte” ontstaan.

Skape toon kenmerkende tekens van geelsug en ‘n kop wat geswel is. Die oorsaak is duwweltjies (Tribulus terrestris) wat wydverspreid in Suider-Afrika voorkom. Veral as veld uitgetrap of versteur is, groei dit welig. Kyk veral by krale, suipings, hekke en dongas. Duwweltjies kom voor in vrugbare spoelgrond en saad versprei met reënwater. Partykeer as weersomstandighede gunstig is, kom hulle selfs op goeie weiding voor.

Alle skaap- en bokrasse is vatbaar. Skape met swart koppe toon nie geswelde koppe nie maar die wit dele is aangetas.

As genoeg reën geval het, groei die duwweltjies vinnig en as dit daarna vir ‘n tydperk warm en droog is, verlep die plante. Ná 2 tot 6 weke kan die duwweltjies giftig wees. Diere is baie lief vir dié plant. Partykeer groei daar ‘n swam op die plante wat hulle nog meer giftig maak. Wat verwarrend is, is dat nie alle verlepte plante giftig is nie, asook dat alle plante wat groen is, nie veilig is nie. Plante wat giftig is bly giftig totdat hulle heeltemaal verdroog of ná reën weer groen word. As dit weer verlep, word dit weer giftig!

Die rede waarom diere siek word, is dat die duwweltjies se gifstof die galbuise van die lewer verstop wat tot geelsug lei en wat weer tot liggevoeligheid lei.

Kliniese tekens:
Vandat die skape of bokke die giftige plante gevreet het, neem dit vanaf 2 dae tot 3 weke voordat diere siek word. Gewoonlik verwissel ‘n boer kampe en dan is daarna ‘n uitbreking.

Die skape is liggevoelig — hulle soek skaduwee op, druk hulle koppe onder mekaar in, hulle jeuk en krap hulle koppe. Die vel word rooi en dan swel die kop en ore op.

Geelsug ontwikkel — kyk na die oogkleur en mondslymvliese. Skape hou op vreet en kan moeilik asemhaal. Diere is hardlywig. As diere herstel, kan die vel hard word en afdop. Van die diere kan selfs hulle lippe en ore verloor en die kloutjies kan selfs afval.

As ‘n skaap geslag word, is die karkas geel en lewer geel en bros en die derm-inhoud is hard.

Behandeling:
Bring diere na skaduwee vir 2 weke of selfs langer (skure, bome). Hou weg van duwweltjies en gee sagte kos en water. Water (1-3 liter) kan selfs met ‘n maagbuis ingegee word en 50-100g suiker kan elke tweede dag in die water opgelos word. Droë vel kan ingesmeer word met wondsalf of Carron-olie (gelyke hoeveelhede kalkwater en roulyn-olie). Waardevolle diere kan met antibiotika behandel word. Raadpleeg u plaaslike veearts vir addisionele behandeling.

Voorkoming:
Pas goeie weidingsbestuur toe. Skuif diere na rantjiesveld wanneer toestande vir duwweltjies gunstig is. Verskaf genoegsame skaduwee — diere wat al reeds giftige duwweltjies ingeneem het, mag dan selfs geen tekens wys nie.

Sommig boere bewei duwweltjies — voordat hulle verlep — met ‘n groot aantal skape. Ondersoek skape daagliks vir die eerste tekens van geeldikkop en verskuif hulle dan. Daar is geen entstof of middels tot op hede beskikbaar nie.

14 Februarie 2005


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X