Vra vir Faffa

Gedeelde geboorte van soggies

Vraag

Daar het hierdie week iets snaaks gebeur wat ek nie kan glo of verduidelik nie. Vyf van my kolbroeksoggies het ‘n rukkie terug toe hulle so 3 maande oud was uitgebreek na die jong beertjies. Ek het aanvanklik nie gedink hulle is gedek nie, maar soos die tyd aangestap het, het ek gesien 3 toon wel tekens van dragtigheid. Saterdag het my dogter my gebel met die nuus een van die soggies het gejong en daar is 4 kleintjies, wat seker maar reg is vir haar grootte en ouderdom. Ek het haar met die kleintjies kraamsaal toe gevat en hulle versorg. Maandag toe ek my die huis kom, kry ek weer 4 kleintjies buite in die varke se kuierarea. Ek het dadelik na die oorblywende 4 soggies gegaan en ondersoek ingestel. Maar geen tekens van ‘n soggie wat gejong het nie. Ek het die kleintjies na hulle gevat en hulle wou niks van hulle weet nie. Toe besluit ek maar om die kleintjies na die soggie te neem in die kraamsaal wat Saterdag kleintjies gekry het. En daar ruik sy aan hulle, blaf vir my en begin sommer dadelik met die kleintjies gesels in hulle taal. Haar kraamsaal se deurtjie het onder ‘n opening waar daar kleintjies kan ontsnap. Nou my vraag is, kon sy dalk Maandag hierdie nuwe kleintjies gekry het en is dit moontlik? Toe ek Maandagoggend vir hulle kos gegee het, was daar nie kleintjies nie. want ek versorg self my kraamsaal, soggies en kleintjies. Die kleintjies wat ek Maandag in die kuierarea gekry het se naelstringe was nog so nat en nie uitgedroog soos die kleintjies van Saterdag nie.

Antwoord

“Split farrowing” of gedeelde geboorte is ‘n fenomeen wat baie skaars is onder soogdiere.

Ek is al eenkeer, omtrent twintig jaar gelede, deur ‘n produsent ingelig van ‘n soortgelyke geval. Die sog het op ‘n dag geboorte gegee aan ‘n spesifieke getal varkies en drie tot vier dae later weer aan ‘n klomp varkies.

Die verskynsel is nie noodwendig ras of geneties verwant nie.

Ek kon net een spesifieke literatuurgeval opspoor en dit met ‘n swart beer, diere wat in Noord- Amerika voorkom.

Groete.

Dr. Pieter Grimbeek, Varkkonsultant.

pigvet@mweb.co.za

11 Junie 2017

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X