Vra vir Faffa

Boerbokooie gooi lammers weg

Vraag

Ek boer al ongeveer 5 jaar met boerbokke. Die eerste 3 jaar het dit baie goed gegaan, maar ek sukkel van laas jaar af met ooie wat swak lammers gee en hul lammers weggooi. Selfs die sterk lammers word weggegooi. Na 2 weke in die lammerhok waar ons 4 tot 5 keer per dag die ooi vasmaak sodat lammers kan drink, wil hul nog steeds nie die lam vat nie. Ooie is in baie goeie kondisie, ek voer tef, armanslusern en ‘n energielek ad lib en hulle kry elke dag kragvoermengsel (lusern, mieliemengsel) in die middae. Dragtige ooie kry 500gram lam-, ooi- en rampille. Ek het van die nageboortes en fetusse Onderstepoort toe gestuur, maar hul kry geen aansteeklike siektes behalwe Pasteurella multocida in een van die volwasse bokke wat dood is, kort na sy gelam het. Hierdie jaar het nog nie een ooi hul lam self groot gemaak nie, oor ’n 100 ooie het al gelam en ons kon net 5 groot kry met ‘n groot gesukkel.

Antwoord

Daar kan verskeie redes wees hoekom ooie nie hulle lammers wil aanvaar nie. Die vernaamste redes waarom ooie hulle lammers weggooi, gaan kortliks bespreek word en deur ‘n proses van eliminasie kan vasgestel word wat in die genoemde geval die moontlike oorsaak is.

  1. Swak moedereienskappe

Die kritieke stadium in die groei van die plasenta (nageboorte) is tussen Dag 30 en 90 van dragtigheid wanneer dit vanaf 10 tot 100 % van sy finale massa (± 500 g vir enkelingfetus en ± 1 kg vir tweelingfetusse) groei waarna dit afneem in massa soos lamtyd nader kom.  

Die hormone (bv. laktogeen) wat deur die nageboorte afgeskei word (plasentale hormone), is ook verantwoordelik vir die ontwikkeling van die uier (mammogenesis), biesproduksie, aanvang van laktasie, moedereienskappe en lamgedrag (Kelly, 1992b; Dwyer et al., 2005) wat almal ‘n uiters belangrike rol in lamoorlewing en lamgroei speel.  Hoe kleiner die nageboorte is, hoe minder hormone word afgeskei en hoe meer word voorgenoemde funksies benadeel.  Dus, hoe kleiner die nageboorte is, hoe minder plasentale hormone word afgeskei.  Dit het ‘n kleiner uier en vertraagde aanvang van laktasie asook ‘n laer bies- en melkproduksie tot gevolg met gevolglike swakker moedereienskappe (ooie gooi lammers weg) en laer lamgroeitempo.

‘n Afname van tot 25 % in melkproduksie is by ooie waargeneem wat voor Dag 100 van dragtigheid ondervoed is, ten spyte daarvan dat hulle ad lib.-voeding gedurende die laaste ses weke van dragtigheid ontvang het (Mavrogenis et al., 1980).  Hierdie plasentale hormone speel ook ‘n belangrike rol in moederlike gedrag (moedereienskappe) omdat dit verantwoordelik is vir die vorming van die band tussen die ooi en die lam onmiddellik na lam (Mellor, 1987 & Mavrogenis et al., 1980).

Dus hoe kleiner die nageboorte, hoe swakker is die band wat tussen die ooi en haar lam gevorm word wat daaartoe aanleiding kan gee dat ooie maklik hulle lammers weggooi.

Om te verseker dat voldoende nageboorte-ontwikkeling plaasvind sodat voldoende plasentale hormone afgeskei word, moet ‘n geskikte produksielek met ‘n medium deurvloeiproteïeninhoud voorsien word indien middragtige ooie nie die volgende massatoename handhaaf nie (syfers tussen hakies is vir jongooie wat die eerste keer gaan lam):

  • Volwasse ooie met enkelingfetusse: ± 50 g/dag (100 g/d).
  • Volwasse ooie met tweelingfetusse: ± 80 g/dag (110 g/d).
  • Volwasse ooie met drielingfetusse: ± 100 g/dag (140 g/d.)
  1. Te min bies en melk 

Die voeding wat die ooie tans ontvang, naamlik ruvoer, mielies, energielek asook Ram-, Lam- en Ooikorrels, het ‘n kritiese tekort aan deurvloeiproteïen.  Voldoende voorsiening van deurvloeiproteïen aan laatdragtige en lakterende ooie is ononderhandelbaar.

Ondervoeding en verkeerde voeding (bv. tekort aan deurvloeiproteïen) gedurende laatdragtigheid het ‘n drastiese verlaging in biesproduksie tot gevolg en veroorsaak ook dat biesmelk nie onmiddellik na geboorte vrygestel word nie weens die vertraagde aanvang van die proses van melksintese (vertraagde laktogenese) en gevolglik vind ‘n sterk binding tussen die ooi en die lam nie plaas nie.  Wanneer dit gebeur, is ooie geneig om hulle lammers weg te gooi.

Ondervoeding van veral deurvloeiproteïen en energie asook wanvoeding, (Mellor & Murray, 1985) het ‘n swakker binding tussen die ooi en haar lammers tot gevolg.  Laatdragtige ooie wat geen of te min deurvloeiproteïen inneem, toon nie net swak uierontwikkeling nie, maar produseer ook abnormale dik en taai bies (kondensmelkagtige biesmelk) wat hoë lamvrektes tot gevolg het.  Abnormale dik en taai bies hou verband met lae biesproduksie (Banchero, 2004); is moeilik om uit te suig (Holst, 1997); vertraagde aanvang van laktasie (Holst et al., 1996) en die lammers drink nie binne drie uur na geboorte nie (McCance & Alexander, 1959).

Genoegsame hoeveelheid biesmelk moet onmiddellik na geboorte vir die lam beskikbaar wees om ‘n vinnige inname van voldoende bies (Murphy et al., 1996) binne die eerste drie (Brown & Meadowcroft, 1990) uur na geboorte te verseker.  Navorsing toon ook dat die vorming van ‘n band met die ooi vertraag word al word die lam net vir die eerste twee uur na geboorte verhoed om te suip (Nowak, 1994).  Dit is verder aangetoon dat ‘n volpens bies ‘n stimulus verskaf om ‘n band tussen die ooi en lam te vorm en daarom moet ‘n lam hom verkieslik binne ‘n uur na geboorte “dik” suip (Nowak, 1994).  Onvoldoende biesinname gee aanleiding tot ooie wat hulle lammers weggooi (Holst, 1997). Lammers benodig 180 mℓ biesmelk/kg liggaamsmassa die eerste 18 uur na geboorte wanneer binnenshuis gebore word, maar dit verhoog na 210 mℓ biesmelk wanneer buite (op weiding) gebore word (Mellor & Murray, 1986). Lammers moet minstens 4.5 kg met geboorte weeg, dus benodig ‘n lam met hierdie geboortemassa 810 tot 945 mℓ biesmelk die eerste 18 uur na geboorte.

Navorsing wat sedert die vroeë tagtigerjare gedoen is, het getoon dat deurvloeiproteïen die een kritieke voedingstof is wat ‘n dramatiese verhoging in lamoorlewing, bies- en melkproduksie kan bewerkstellig (Coetzee et al., 1990).  Vandag is dit feitlik ondenkbaar dat ooie suksesvol kan lam sonder die byvoeding van hoogs verteerbare deurvloeiproteïen via lekke of volledige rantsoene gedurende laatdragtigheid, lamtyd en laktasie.  Die voorsiening van hoë vlakke van deurvloeiproteïen aan laatdragtige ooie vanaf ses weke voor lam via ‘n lek of ‘n volledige rantsoen is dus ononderhandelbaar.  Die nuutste navorsing toon dat laatdragtige ooie daagliks 100 g van ‘n deurvloeiproteïenbron per fetus in laatdragtigheid en 200 g per lam in vroeë laktasie gevoer moet word (Vipond et al., 2009). 

Om optimale geboortemassa; uierontwikkeling; bies- en melkproduksie van die lammerooi te verseker, moet laatdragtige ooie die laaste ses weke voor lam die volgende massatoenames handhaaf:

  • 60 kg volwasse ooi met enkelingfetus:        97 g/ooi/dag.
  • 60 kg volwasse ooi met tweelingfetusse:     161 g/ooi/dag.
  • 60 kg volwasse ooi met drielingfetusse:      210 g/ooi/dag.
  1. Inmenging binne die eerste ses uur na geboorte 

Dit is nie bekend watter prosedure tydens lamtyd gevolg is nie, maar dit kan ook ‘n rol speel dat ‘n ooi haar lam verwaarloos (weggooi).

Vir suksesvolle binding tussen die ooi en haar lammers is dit nodig dat die ooi haar afsonder van die res van die trop en dat haar lammers voldoende bies inneem so gou moontlik na geboorte (Val-Laillet, 2004).  Lammers moet die geleentheid gegun of geskep word om die eerste dag na geboorte ongestoord en onbeperk te kan suip (20 % van hulle liggaamsmassain biesmelk die eerste dag), want ‘n volpens stimuleer binding (Goursaud & Nowak, 1999; Val-Laillet, 2004).

Inmenging van mense en/of ander ooie voordat ‘n lam suip, kan veroorsaak dat die ooi binne drie uur na geboorte belangstelling in die lam verloor (Cottle, 1987).  Indien lam nie binne eerste drie uur suip nie, neem sy speensoekaktiwiteit af asook ooi se belangstelling in die lam (Cottle, 1987 & Holst, 1997).

  1. Nie die korrekte toepassing van die lamhokstelsel nie

Die doelwit van ‘n doeltreffende lamstelsel is dus om verwarring tydens lamtyd en ooie wat permanent van hulle lammers geskei word tot die minimum te beperk.  Die beste intensiewe lamstelsel is lamhokke.  ‘n Ooi met haar lammers moet vir 7 dae in individuele lamhokke aangehou word, daarna word 4 ooie met hulle lammers in ‘n klein kampie (deurgangkampies/mixing pens) vir nog 7 dae aangehou, voordat hulle geleidelik in groter kampe uitgeplaas word.  Indien hierdie proses nie gevolg word nie, gaan van die ooie hulle lammers weggooi. 

Geskryf deur:

Dr. Jasper Coetzee

Jasper Coetzee Consulting

Pr.Sci.Nat. (Anim.Sci.) Ph.D. (Agric.) Stellenbosch

Skaapvoeding- en Bestuurspesialis Konsultant

Professionele Veekundige (400328/83)

Adres: Posbus 12022, Die Boord, 7613

E-pos: jasperco@iafrica.com

Sel: 076 846 8800

9 Junie 2017

Die eerste oorsaak waaraan ‘n mens dink, is chlamydiose. Is die ooie ingeënt voordat hulle by die ram gekom het? Van die fetusse en plasentas is tog ontleed en die kieme behoort gesien te word.

Bokke is baie sensitief vir ‘n Viamien  A tekort – aborsies, swak gebore lammers en “mis mothering” is tekens daarvan. Ek sien dit baie in my area, veral op grasveld as dit begin ryp raak. Ek weet nie of die lusern wat die bokke kry vars gebaal en nog groen is nie en of dit al redelik gebleik is nie.

‘n Mens kan  ook dink aan ‘n kronies laegraadse rumenasidose met ‘n gevolglike tiamien (Vit B1) tekort by die ooie – dom – “mis mothering”. Vloer-, krip- en drinkspasie is ook belangrik.

Daar is nie Vit A inspuitbare produkte vir bokke en skape beskikbaar nie en ek spuit 0.5ml/ooi van enige bees Vit A-E in (Vir beeste 1ml/250kg maar 0.5ml is prakties by bokke en ek het nog nie probleme gehad nie).

Geskryf deur dr. Ian Vorster, Upington (mwuptvet@mweb.co.za)

7 Junie 2017


Kommentaar

Een kommentaar op “Boerbokooie gooi lammers weg

  1. Dawie Krynauw
    Dawie Krynauw

    Het baie respek vir Dr. Coetzee en sy kennis. Sy raad is ‘n mondvol! My beskeie mening is dat jy ‘n ernstige minerale-tekort probleem ervaar. Die sogenaamde lekke bevat maar min daarvan en is gewoonlik vir skaap saamgeslaan. Bokke is anders en benodig bv. heelwat meer koper (hulle verloor kleur). Kleiner nageboortes is ‘n teken van ‘n jodiumtekort en die arme dier aborteer of los die lam. Ek is daardeur! Selenium speel ook ‘n groot rol. Kragvoer met graan en veral ureum is ‘n onding met bokke en na ek dit gelos het is my diere elke dag vol groen blare en speel saam. Hul kry wel vars water naby ‘n goeie lek wat EC Feed bevat (Uit gegiste melasse vervaardig – hoog in B vitamiene). Jodium aanvullings is maklik en koper ook. Seleen moet versigtig gedoen word. Bel my as jy wil. Ek het invoeling vir jou probleem. 082 668 1440. Ek boer en verkoop nie!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X